Wednesday 31 January 2024

Dis tyd vir kaste skoonmaak!



Ondersteun asb. die ACVV Ons Huis. Enige donasies kan afgelewer word by die ACVV-kantore  Halketstraat 14, Newpark, Kimberley.

Indien jy vervoerprobleme het, is ons bereid om die klere te kom optel. Skakel asb. die kantoor by 053 831 5816. 

Woensdagwense: week 5

Bankbesonderhede

 


Monday 29 January 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Hoop in die hart

Groete en Vrede!!!

Sowat 2 jaar nadat ek en die Mooiste Mooi Noenieput ons woonplek gemaak het, moes ek dié spesifieke oggend klein boompies natmaak wat die vorige week geplant was. Lank voordat ek die ou Toyota gesien het, het ek hom oor die vlak gehoor aankom. Stadig, doelgerig en na alle waarskynlikheid soekend. Soekend na iemand of iets.

Die Toyota het Noenieput stadig ingery en kort voor lank het die 2 manne in die bakkie my raakgesien, nader gery en langs my gestop. Die groet was heel formeel maar tog hartlik en so begin die groot gesels. Eers deur die Toyota se venster en daarna op die stoep met 'n beker pittekoffie in die hand. Lateraan eindig ek en die Mooiste Mooi, asook ons gaste langs die etenstafel op met oorvol borde sonoond kos. Gelukkig is daar tussen al die gekuier, die gesels en die gekou, ook soms 'n stukkie stilte.

Soos 'n honger meerkat steek  my nuuskierigheid lateraan kop uit. En so word hulle uitgevra na hulle nerings. Die meer spraaksame gas verduidelik dadelik terwyl die stiller een saggies beduie dat hy 'n pediater in Bloemfontein is. Al asof daar 'n regopstaan geelslang op die tafel is, laat ek en die Mooiste Mooi dadelik ons eetgoed val. "Mens, dan is jy mos die antwoord op dit waarvoor ons hoop" sê sy met nat oë. Opslag is die atmosfeer in die kombuis botterdik terwyl beide gaste ons met groot vraagtekens aankyk.

Met dié, begin die Mooiste Mooi in detail vertel van Triena en haar swaar las. 'n Las wat sy altoos in haar hart en op haar heup moet ronddra. Sedert haar jongste se eerste lewenslig, was niks ooit weer normaal in hulle lewens nie. Sommer so met die knip van die naelstring het siekte al in haar jongste se lyfie kom adres maak. Dit is nou al amper 3 jaar later en die kleintjie bly kronies siek. Niemand kan of wil hulle regtigwaar help nie.

Terselfdertyd is Triena-goed die middelpunt van 'n onophoudelike gepraat en geskinder. Lafhartige mensegoed wat haar en haar hartsmense agteraf bespot en uitkoggel omrede sy "haar gebreklikheid" in 'n kombersie toedraai en ronddra. En deesdae voel 3 jaar soos 'n ewigheid.

Die Mooiste Mooi vertel ook van vertroue en hoop wat in vrees en vertwyfeling se spore volg. Triena het juis so 'n klompie dae gelede nuus gebring dat hulle wel in Upington by die staatshospitaal was. Daar het 'n nat-agter-die-ore-doktertjie sommer so terloops die nuus afgegee dat Triena se jongste nooit sal kan loop nie.

Die stillerige pediater sit bewingloos met 'n blink nattigheid in en om sy oë en luister na die Mooiste Mooi se vertelling. "Ek het nou nie my 'toolbox' hier nie" sê hy saggies,  "maar dink julle die mamma sal omgee as ek die dogtertjie ondersoek?"

Vroeg die volgende oggend klop Triena aan die agterdeur. "Ai mevrou" sê sy terwyl trane uit haar bruin oë stroom. "Ek en mevrou het dan juis eergister hoop in die hart gesit. Hoop dat een van daai spesiale dokters waarvan mevrou my vertel het, Kleintjie kan ondersoek. En kyk nou net. Nou het die Here sommer daai dokter Kalahari toe gestuur. Hy het hom Noenieput toe gestuur om na Kleintjie te kyk en vir haar hande op te lê. Is die Here nie groot nie, Mevrou? Is Hy nie groot nie! My Kleintjie sal gesond word. Ek het hoop. Ek het hoop in die hart gesit.

Sowat 'n maand later stop ons met die Genadewa langs Triena se vaalbruin huisie. Die Mooiste Mooi klim uit en stap nader. Triena wat in die huis besig was kom uitgeloop en trek die voordeur agter haar toe. En so raak die twee vriendinne op die stoep aan die gesels. Triena se oog loer egter kort-kort voordeur se kant toe ... kompleet asof sy wil hê daardie deur moet oop. 

Meteens gaan die voordeur met 'n gekraak oop. Versigtig - al asof sy op eiers loop - loop Triena se oudste stadig agteruit terwyl Kleintjie al giggelend haar ousus volg. Treetjie vir treetjie terwyl sy met klein vuisies styf aan haar ousus se pinkies vashou. 

En op daardie oomblik ... daardie heilige oomblik, getuig hierdie klein Kalahari meisietjie met diamantblink ogies van hoop. 'n Versekerde hoop. Hierdie klein onskuldige dogtertjie getuig teenoor 'n menigte ondankbare genadelose skepsels van 'n onwrikbare hoop in ons barmhartige Omgeegod. Sy getuig van 'n Skepper wat nooit Sy oog afhaal van daardie mensegoed wat hoop op Sy troue liefde in hulle hart sit nie.

En deesdae ... deesdae is Kleintjie 'n opgeskote tiener wat die vlak vol loop en haar huismense se ore van hulle koppe af praat. Deesdae is Kleintjie gesond, heel gesond want Triena en die Mooiste Mooi het hoop in hulle harte gesit. Hulle het hoop op Sy troue liefde in hulle harte gesit.

Ps 33 verse 18 & 19 (Afr20) = "Kyk,die Here hou sy oog op dié wat hulle hoop vestig op sy troue liefde, om hulle lewens van die dood te red en hulle aan die lewe te hou tydens hongersnood."

Sandkorrel baie seëninge.

Los jou voetspore as jy wil by:

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549 

Klik HIER vir verdere inligting.

[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Indien jy wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak gebruik van die kontakdetail hierbo.]

'n Woestyngedig ...

Die Namib-woestyn

Verlate, verdor, deur die lewe verstoot,
Is my wese verbitter met nyd,
En ek voer in die diens van my Meester, die Dood,
Met alles wat lewe ‘n stryd.
Heet soos my sonskyn en diep soos my sand
En hard soos my berge se rots,
Is die wreedheid van weerwraak wat binne my brand
Met die haat van gekrenkte trots.

Geen skoonheid, geen skadu, geen groenheid of gras,
Geen vleie my vaalte versier;
Seëvierend verdryf ek indring’rig gewas
En folter vir mens en vir dier:
Ek teken mirages uit tergende spot
Vir verdwaaldes, gemartel deur dors,
En my sande dans juigend met helse genot
Oor geraamtes verstrooi op my bors.

Maar saans as die mis oor my west’like strand
Soos ‘n lykkleed my kaalte bedek,
En die nagwinde kerm oor my eind’lose sand
En skadu’s my lengte oorstrek-
Dan word ek meteens met weemoed omgewe,
Al bly ek hoogmoedig en wreed,
En ek smag na die wellus van groenheid el lewe,
En sug in my eensame leed.

E A Schlengemann

Uit “Land van Sonlig en van Sterre"
‘n Bundel gedigte oor Namibië
Saamgestel deur Daniel Hugo

[Klik HIER vir nog inligting - hierdie gedig is getoonset deur Lorri Raaths]
Sesriem-duine
Sesriem Canyon

[Foto's: Marguerite Pienaar - klik HIER vir nog Namib-foto's en -gedagtes.]

'n Groot dankie aan elke blogbesoeker

Bingo!!! Ons Huis se engele is terug!


Saterdag, 27 Januarie 2024, was die eerste Saterdag wat op die onthou-almanak van die inwoners se geheue afgemerk is. 'n Heerlike bingo-oggend het die energie en kompetisiegees laat inskop. Daar was  heerlike pryse wat gewen kon word en gesonde vitamien-gelaaide eetgoed. 

Trek jou stapskoene aan en kom stap op 'n Maandag deur die Namib woestyn

Begin Oktober: “Ons gaan Desember Namib se duine klim, jy kan nie met sandale loop nie, die sand word baie warm en sal jou voete blase brand."

In my twintiger jare was ek al in die Namib, dus weet ek die duine is hoog, die sand diep, los en warm. Dit sal middel somer wees en woestyn is dan uiters warm - so begin dink ek: mens sal moet genoeg water, nee baie, moet saamdra, lap sonhoed, sonbril, sonbrandmiddel, selfoon, ekstra skoene, room vir skaafplekke en wat nog? Ek sal moet baie ligte klere kry, stapsokkies – o nee, dis te warm!

So word ek verder nog ingelig ook: “Jy kan nie ‘n klomp goed saamdra nie, net jou een ligste kamera!”

Ek wonder darem daaroor! Sê nou mens verdwaal daar - alles lyk daar alkante toe dieselfde sodat jy later nie meer weet nie!

Gaan my bene dit ooit in daardie los woestynsand hou? Ek stap so nou en dan en oefen so bietjie, maar dis beslis nie genoeg nie. Net daar stel ek my oefenfiets se band stywer, ‘n maand later nog stywer - ek oefen nou minstens vyf keer ‘n week en stap naweke ook ‘n paar kilometer.

Steeds dink ek, beplan, koop ‘n lap sonhoed, kry my stapstewels reg, koop nog ‘n paar toe skoene waardeur sand hopelik nie sal gaan nie, koop dun somersokkies en ook ‘n paar wat my moet beskerm teen blase kry. My dag-rugsak gaan saam met alles wat noodsaaklik is daarin!

Die tyd breek aan. Ons is deur die Kgaligadi, deur die grenspos daar, eet genoeg by ‘n plaasstal en koop die laaste nodige proviand – dis nou braaivleis vir twee aande en ek koop 10 ℓ water vir die volgende twee dae ( ek gaan mos baie dors word!)

Eers is ons by die Sesriem canyon waar ons 'n paar uur lank rondloop en foto’s neem, ek met die paar goed soos beplan in my ligte rugsak. Hoewel ek al voorheen verskeie dagstappe gedoen het, voel hierdie anders, sommer heel anders omdat dit in die woestyn is.

Die volgende oggend is ek al voor 05:00 op, gelukkig is dit somer en begin dit al so effens lig word. Ons moet 06:00 by die Naukluft park se ingang wees, want ons ry eers 'n hele ent deur los sand, dan moet ons oor die duine loop terwyl die sand nog koel en vas is, ons wil foto’s neem van die sonsopkoms oor die duine. Die terugkom gaan moeilik wees as die sand eers warm en los is en daar nog mense inkom wat die sand verder lostrap.

Gestewel met my rugsak met twee 500 mℓ bottels water,’n klein houertjie yogurt en pakkie droë vrugte, pak ons die duine aan. Dis bewolk met effens mis oor die kruine van die duine, en nogal koud, gelukkig toe nie so uiters warm nie. Daar is paaltjies ingeplant wat die roete aandui waarop ek my oog hou. Dit gaan goed. Daar is net so twee of drie ander mense ook.

Oor nog twee duine sak ek af na n groot plat vallei, ‘n wit kol sand met dooie droë stompe en dooie bome wat nog regop staan, Dooievlei genoem – ‘n gesig uit ‘n ander tydvak, ongelooflik! Mooi, maar staties , leweloos – soos in ‘n sprokie, ‘n oase wat skielik doodgegaan het, maar tog behoue gebly het.

Volgens die inligting het die weerpatrone ‘n 1000 jaar gelede skielik permanent verander, kry dit nou geen reën meer nie, die vog selfs so min dat die boomstompe nie eens kon verrot nie. Dit het alles net uitgedroog.

Dis stil, doodstil, die wit sand hard en versteen. Elkeen loop sy eie rigting, kyk hier, dan daar, neem foto’s van hierdie verlate versteende sprokiesland. Jy kyk, jy dink, jy wonder, daar is geen geluid of roering nie. Net die effense mis op die kruine van die duine verdwyn. Ek verwonder my aan hierdie doodse skoonheid. Nog huiwer ek, kyk ‘n laaste keer weer, stap dan terug, gemaklik, al is die sand nou losser.

Meer mense kom nou oor die duine aangestap. Ek is egter bly ons was vroeg en feitlik alleen daar om die stilte, ongereptheid en afsondering van die sprokiesvallei te ervaar. Dis steeds bewolk, dus is dit nie so uiters warm nie. Die kleure sou soveel helderder wees in sonskyn vir foto’s, maar ons is dankbaar. Nou gly ons wel in die diep los sand met die terugry, maar sit darem gelukkig nie vas daarin nie. Hierdie onherbergsame, stil, afgesonderde wêreld het soveel verskeie voorkomste soos wat die weer verander, en net soveel onverwagte vreemde skoonheid!
 
Ook hier hou God Sy hand oor alles en ons almal – so duidelik aan die onweerstaanbare skoonheid daarvan!

Sossusvlei, Duin 45
Sossusvlei

Sossusvlei, Duin 45
Dooievlei met mis op die kruin van duin
Dankie, Marguerite, dat jy al ons lesers wat nie meer op 'n staptog kan gaan nie, saam met jou op hierdie staptoer Namibië toe geneem het. Ons het, uit die gemak van ons stoel, baie lekker saamgeloop.

Klik HIER vir nog foto's en 'n bekende gedig oor die woestyn.

Vandag se internetgebed vir jou: U is die begin en die einde

O God, my God,
Daar is geen ander soos U nie.
Ja, U is die begin en die einde
en sonder U asem in my
is ek niks meer as ’n stofkorreltjie nie.
U gee lewe.
U is die Sterke en Almagtige.
Dis U wat my staande hou as die storms om my woed.
Agter U skuil ek voortdurend.
Aan U kom al die eer toe,
nou, môre tot aan die einde.
Amen.

Sunday 28 January 2024

Mary Jones se groot doel in die lewe

In ‘n afgeleë deel van Wallis het ’n dogtertjie, Mary Jones, saam met haar ouers tussen die berge gewoon. Haar ouers kon nie lees nie. Daar was geen skool naby genoeg waar sy kon leer lees nie. Sy het graag saam met haar ouers kerk toe gegaan. Die Bybelversies wat die predikant gelees het, het haar aangegryp en sy het hulle probeer onthou. Toe Mary tien jaar oud was, is ’n skool 3km van hulle huis af geopen. Mary kon uiteindelik leer lees. Na sy leer lees het, was daar net een wens in haar hart: om ’n eie Bybel te besit. Haar pa het vir haar ‘n spaarbussie van hout gemaak, waarin sy al die geld kon bê­re wat sy verdien het met kinders oppas, hout by­me­kaar­maak en verkoop en naaldwerk doen. Dit het haar ses jaar geneem om genoeg geld bymekaar te maak om ’n Bybel mee te kon koop. Bybels was skaars en baie duur. Húlle predikant het nie eens ’n Bybel vir haar gehad nie.

Op ’n dag hoor Mary in die dorpie Bala word Bybels verkoop. Sy sou met die voetpaadjie, tussen die berge deur, Bala toe moes loop om vir haar ’n Bybel te gaan koop. Een oggend vroeg kniel sy saam met haar pa en ma om te bid dat die Here haar sal bewaar. Sy groet hulle, neem haar handsak met padkos en die geld waar­voor sy so lank gewerk het, en ’n paar skoon skoene om aan te trek as sy in Bala kom, en vertrek. Toe sy so alleen tussen die berge deur loop, kom die woorde van Psalm 121, wat sy uit die kop geken het, in haar op: “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.”

Die aand, net toe dit donker word, kom sy in Bala aan. Goeie mense gee vir haar herberg vir die nag. Vroeg die volgende oggend klop sy aan Thomas Charles se deur. Hy maak self die deur oop en nooi haar effens verbaas in. Eers vra hy haar uit oor haarself en toe wil hy weet wat sy van hom wil hê. “’n Bybel,” fluister sy in daardie groot oomblik waarvoor sy so lank gewag het en haal haar geld uit. Oorbluf kyk hy na haar: “My kind, ek het geen Bybels om te verkoop nie!” Sonder ’n woord sak Mary op ‘n stoel neer en begin bitterlik huil. Tussen haar snikke deur kla sy: “Moet ek dan nou sonder ’n Bybel teruggaan?” Aangedaan sit hy sy hand op haar skouer: “Moenie huil nie, Mary. Omdat jy so graag ’n Bybel wil hê, gee ek vir jou een van my eie Bybels. Hier, neem dit.” Met ’n kreet van blydskap spring sy op, gryp die Bybel en druk dit teen haar vas. “Dankie!” roep sy uit. “Baie dankie! Nou moet ek huis toe gaan.”

By haar huis wag haar ouers haar in. Van ver af al wys sy vir hulle die Bybel. Hulle hardloop haar opgewonde tegemoet. In die voorkamer word die groot parafienlamp aangesteek. Vir die eerste keer, met haar ouers by haar, maak Mary haar eie Bybel oop. Sy blaai na Psalm 150 toe en lees van die eerste vers af: “Prys die Here! Prys God in sy heiligdom, prys Hom hier onder sy magtige hemelgewelf ..." tot by die laaste vers: “Laat alles wat asemhaal, die Here prys. Prys die Here!”

Uit hierdie gebeurtenis het ’n geseënde gevolg gespruit: Thomas Charles het vir sy kollegas en ander belangstellendes in Londen vertel van die nood aan Bybels in Wallis. Een van die leraars in die vergadering stel voor: “Kom ons stig ’n verenig­ing wat meer Bybels aan Wallis kan voorsien.” ’n Ander leraar, Joseph Hughes, roep uit: “Nie net vir Wallis nie, maar vir die hele wêreld!” So is die Britse en Buitelandse Bybelnootskap op 7 Maart 1804 gestig. Ons eie Bybelgenootskap van Suid-Afrika, het in 1820 in werking getree en een van die grootste verspreiders van volledige Bybels in die wêreld geword.

Waardeer ú Bybel, lees ú Bybel, geniet ú Bybel.

“Here, vandag dank ek U vir mense wat saamgewerk het om die Bybel in my hande te plaas. Seën die werk van die Bybelgenootskap.”

Kontak die Bybelgenootskap HIER.

Noord-Kaap/Vrystaat
Posadres: Posbus 12149, Brandhof, 9324
Landlyn: 051 444 5980
e-pos: bibbfn@biblesociety.co.za

Friday 26 January 2024

Verjaardagwense


Mev Burns, op u verjaardag bid ons dat die Here Jesus u lewe sal seën met baie voorspoed en goeie gesondheid! Gelukkige verjaardag!

Lag jou siektes en sorge weg

Indien jy Faceboek het, klik HIER en lees gerus die ware Jakob. Andersins kan jy afrol en verder lees.
 
Ons het almal die ou spreekwoord gehoor dat lag die beste medisyne is. En soos baie volkswyshede, is daar meer as net 'n tikkie waarheid daarin.

Die Ou Testament verwys selfs na die genesende eienskappe van humor. Alhoewel ons voorouers dit nie wetenskaplik kon verklaar nie, het hulle intuïtief geweet dat lag goed was vir die liggaam sowel as die siel.

Meer onlangs beskryf Norman Cousins ​​in sy boek "Anatomy of an Illness" hoe hy homself genees het van 'n ernstige siekte deur humor te beoefen. Hy het glo ou Marx Brothers-flieks gekyk en gereeld onbedaarlik gelag.
Hy glo sy eie lag het sy siekte genees. Hy het daarna 'n lang en gesonde lewe gelei - tot in sy 80's!

Vandag het ons 'n beter begrip van hoe lag menslike fisiologie affekteer.

Hier is 'n hele paar maniere waarop lag jou gesondheid kan bevoordeel:

Dit verminder pyn. Ons liggame produseer hormone in reaksie op lag, wat pyn dood. Dit staan bekend as endorfiene.

Lag versterk die immuunstelsel deur die produksie van teenliggaampies te verhoog en die beskermende selle van die liggaam, soos T-selle, te aktiveer.

Herhalende gelag veroorsaak dat die liggaam op soortgelyke maniere reageer as op matige oefening,
Versterk die immuunfunksie. 'n Goeie buiklag verhoog die produksie van T-selle, interferon en immuunproteïene wat globuliene genoem word.

Cholesterol - Lag verlaag slegte cholesterol (LDL) en verhoog goeie cholesterol (HDL).

Lag is goed vir die brein. Lag kan ook die verstand verskerp. Proefpersone wat byvoorbeeld 20 minute lank na 'n snaakse video gekyk het, het beter gevaar met korttermyngeheue toetse as die studente wat 20 minute stil gesit het sonder om die video te kyk.

Lag kan jou lewensduur verleng.

Lag is beslis 'n noodsaaklike deel van gesonde veroudering.

Dit verminder spanning. As ons onder stres is, produseer ons kortisol-hormone. Lag verlaag die kortisolvlakke aansienlik en bring die liggaam in 'n meer ontspanne toestand.

Een van die belangrikste voordele van lag is dat dit stres verminder - byna onmiddellik.

Was jy al ooit in 'n ongemaklike situasie wat gebreek is omdat iemand 'n grap gemaak het?

Gelag stel 'n oorvloed vriendelike hormone vry, terwyl dit die vlak van streshormone verlaag. Lag verlaag die vlakke van kortisol en epinefrien, dit is hormone wat vrygestel word as die liggaam onder spanning verkeer.

Lag is natuurlik goed vir die hart. Lag verhoog die vloei van bloed na die hart, wat die bloeddruk laat daal.

Daarbenewens neem bloedvloei toe as jy na 'n komiese film kyk in teenstelling met 'n spanningsvolle film.

Die toename in bloedvloei na die kyk van 'n komedie is gelykstaande aan die toename tydens ligte oefening.

'n Goeie voorskrif vir 'n gesonde hart kan dus wees om te oefen, reg te eet en 'n paar keer 'n dag te lag.

Die ander goeie nuus is dat humor 'n positiewe uitwerking op die intellektuele en emosionele funksionering het.

Dit help om lewensbeproewinge en verdrukkings in 'n gesonde perspektief te plaas deur dit minder ernstig te laat lyk.

Lag help ons om vrees te oorkom.

Dit laat ons onsself minder ernstig opneem.

Dit aktiveer en verhoog ons kreatiwiteit.

[Dankie, Estelle, dat jy hierdie stukkie met ons deel.]

Thursday 25 January 2024

Liz' thoughts


Click HERE for more.

 

Dink hieroor: Leierskap

Ons deel in die leesvreugde van die lesers van die Tuinroete, Hessequa en die Karoo. Ons klomp hier in die NK en wat  Ons Huis (die ouetehuis) se blog gereeld lees, geniet Klaas Niemandt se hartstories wat in die Graaff-Reinet Advertiser verskyn. Vandag sê oom Klaas dat wanneer leiers met hulle ondersteuners praat, kies hulle wat hulle wil predik: opbouende samewerking en vooruitgang, of woedende, verwoestende vernielsug.

Klik HIER as jy meer oor leierskap wil weet.

Tuesday 23 January 2024

Dinsdag-denke: Hewige rusie

Donkie en Tier is in ‘n hewige rusie oor watter kleur die gras is.

Donkie hou voet by stuk dat die gras blou is, en tier stry en sê dis groen. Na bykans ‘n uur se gestryery maak Donkie die voorstel: “Kom ons gaan na Koning Leeu - hy is die slimste en sal vir ons die antwoord gee.” 

By Koning Leeu aangekom, val Donkie sommer met die deur in die huis. “Koning Leeu, ek sê die gras is blou, maar tier hou aan stry dat dit groen is. Watter kleur is die gras?” 

Leeu kyk die twee stip aan, dan gluur hy vir Tier. “Donkie is heeltemal reg,” brul hy. “Die gras is blou! En Tier, vir jou onnoselheid, mag jy vir 5 dae lank niks sê nie!” Doodtevrede bulk en dans Donkie terug na sy grasland toe om verder te wei. Tier kyk geskok na Leeu en vra: “Mag ek iets sê voor ek stilbly vir 5 dae? Jy weet net so goed soos ek dat die gras groen is! Waarom sê jy vir Donkie dis blou??!!” “Omdat jy so dom was om met hom te stry oor iets wat ‘n voldonge feit was,” antwoord Leeu droog. “Jy het jou soos ‘n donkie gedra!” 

Daar is nog ‘n voldonge feit waaroor niemand mag stry nie - ons het meer as genoeg rede om die Here te loof en te prys! Psalm 149 roep ons weer op om ‘n nuwe lied vir God te sing - kom ons kyk gou na wat die Psalm sê:
  • Maak jou loflied elke dag nuut! Elke dag gebeur daar iets met ons wat nie gister gebeur het nie - gebruik dit om teenoor mense oor God te getuig (vers 1). Vind daardie nuwe ietsie elke dag.
  • En dit hoef nie net liedere te wees nie - dans voor die Here (verse 2-3)! Slaan ritme met jou borsel op die spieëlkas. Borsel jou tande met ‘n vrolike ritme! 
  • God geniet dit so as ons Hom loof en prys, dat Hy dan sommer namens ons veg en vir ons die oorwinnings behaal (verse 4-6). Dit alleen is al reeds meer as genoeg rede om Hom onophoudelik en met groot genot te prys!
  • Ons lofsange teenoor God bind kettings om ons vyande se enkels, vernietig ons omstandighede wat ons probeer onderdruk en tel ons op bokant alles sodat ons saam met Hom kan triomfeer (verse 7-9).
  • Moenie jou soos ‘n donkie gedra en probeer stry oor dinge wat jy rondom jou sien nie. Wéét wat die waarheid is: die Here leef en regeer! Maak nie saak watse twak die lewe vir jou probeer vertel nie - hou aan om die Here te loof, want Hy regeer! Moenie eens met die wêreld probeer redeneer nie - hou net aan om die Here te loof! As tier maar net die onderwerp verander het en God begin loof het ... maar toe wil hy sy punt bewys deur te stry. Daar is geen rede vir ons om ‘n punt te bewys nie – dis reeds vir ons aan die kruis gedoen. Al wat ons nou moet doen, is om net die Here te loof!

Monday 22 January 2024

Vandag se internetgebed vir jou: Gebed vir Vrede

Almagtige God en Vader,
vanuit wie alle waarheid en vrede kom,
raak die harte van alle mense aan
met u heilige liefde en vrede.

Kom, O Prins van vrede,
lei en leer die heersers van ons land,
met besluitneming deur u volkome wysheid.

Skenk aan hul u onderskeidingsvermoë,
tot die vooruitgang van u koninkryk,
totdat ons hele land gevul word
met die kennis van u oneindige liefde.

Dankie, Jesus, ons Here en Verlosser.
(Thomas Dreyer)

Sunday 21 January 2024

Ons woorde

Ons spoeg mekaar met hol klanke. Ons eet mekaar se woorde om ons onversadigbare siel se maag te vul.

'n Tweespraak is 'n ontmoeting gelei oor 'n brug van woorde - 'n intieme brug tussen twee, sonder slaggate of versperrings. So behoort dit te wees. Laat ons nie figurante of toneelspelers wees nie. Waarom moet ons woorde ons onverstaanbaar maak? Het ons dan vertalers nodig om deesdae met mekaar te praat? Jy praat altyd Grieks en ek Latyn, terwyl ons instemmend knik en glimlag asof ons dieselfde taal praat. Ons woorde is so vals soos ons harte.

So baie roggel waansinnig. So baie skreeu. Stiltes baar opstande en woorde brand geboue af. Ons woorde is ons skerms waaragter ons skuil. Hulle vorm die beeld wat ons wil voorgee ons is. Hulle is ons wapens. Hulle verkrag die skoonheid en verander ons moderne "fyn" samelewing in 'n spastiese dans. Die politieke leiers verskeur mekaar met woorde. Digters bring al die gal tot hulle beskikking aan ons oor. Intellektuele liberaliste, siek kunstenaars, ateïste en rigtinglose menigtes bring aan ons die boodskap van 'n dooie god. In hul woorde vind ons gemoed 'n sinnelose waarheid wat ons verder vereensaam en verwar.

Woorde wil alles tot simbole vereenvoudig. Selfs liefde staan vir iets.  

Deur ons woorde ontmoet ons mekaar en verloor ons mekaar. Deur ons woorde vermoor ons mekaar. Woorde is nie materie nie en tog is dit onvernietigbaar. Dit kronkel deur die nou strate van herinnering en sit aan by die tafels van verbeelding. Ons kan dit nie uitwis nie. Die pyn of geluk wat dit agterlaat, toon dikwels die voetspore van die woord. Nogtans speel ons met ons woorde soos roekelose kinders. Ons het geleer dat die wêreld rond is, die son kokend en die lewe 'n gedagte, maar ons het nog nie geleer om stil te bly nie. Woorde is vir mense bedoel wat weet wat om daarmee te maak en hoe en wanneer om dit te gebruik. kindertjies hoef nie te praat nie. Hulle kan lag of huil. Ons moet praat; ons met ons verlore onskuld; ons met ons maniere uit boeke. Wat het anders oorgebly vir ons?

Al die kringe wat ons geloop het, al die paaie wat ons gebou het, bring ons terug by ons onafwendbare afskeid. Ons is albei twee leë woorde. 'n Mens kan nie van woorde alleen lewe nie.

(Uit: Poort)

[Dankie vir die persoon wat hierdie naamlose skryfwerk in my poshokkie gesit het. Indien iemand hierdie skryfwerk herken, laat weet asb. sodat daar erkenning gegee kan word.]

Saturday 20 January 2024

Saterdaglagmedisyne

Donkies het al vreugde, moedeloosheid, woede (?) vir baie mense veroorsaak. Kopkrap hoe om 'n donkie te benader, in te span of aan die loop te kry, was (is) algemeen. Hier is egter 'n donkiekopkrap uit 'n ander hoek.

Klik HIER om meer van die "Famous Trick Donkeys" te lees en ook hoe om dit op te los. Meer as 100 miljoen afskrifte van hierdie raaisel is verkoop en in 1871 het Sam Loyd, die ontwerper hiervan, ongeveer $10 000 hiermee verdien. 'n Sak vol geld selfs vir vandag. Die video help gelukkig!

Friday 19 January 2024

Gesondheid: Wenke van sr. Annabelle

Die afgelope tyd kry ons baie warmer as gewoonlik en gepaard daarmee probleme wat opduik.

Mense moet asseblief kyk na hul voginname. Drink ten minste 2 liter of meer koue/koel vog in die tyd.

'n Mens verloor ongeveer 500ml vog net om asem te haal. As jy nie genoeg vog inneem nie, dan kry jy allerhande probleme ... 
* jou bloeddruk daal wat jou duiselig en naar laat en jy kan val en bene breek,
* jou brein verloor vog en jy sukkel om te onthou en raak deurmekaar, 
* jy kry blaasontsteking en wonder waarom, 
* jou bene en voete swel, want ons  harte trek swaar en dan wonder ons hoekom gebeur dit.

Al bogenoemde kan toegekryf word aan 'n vogtekort.

Sit die elektroliete terug deur hierdie relatiewe goedkoop resep.
1 liter OROS met 5ml sout in. Drink 10h00 en 15h00 250ml daarvan.
OF
Koop REHYDRATE by die apteek en maak 10h00 en 15h00 vir jou 250ml aan en drink dit.

Hierdie voorstelle is om die elektroliete wat ons verloor deur die hitte en sweet te probeer vervang. 

Probeer ook om KOEL te bly. Vermy dit om in sulke warm weer (as jy kan) tussen 11h00 en 16h00 buite te wees. Vermy aktiwiteite soos tuinwerk en stap. 

Onthou jou hoed as jy uitgaan in die son. Pas julself op in hierdie somertyd. 

Mooi dag en somer vir almal.
Sr. Annebelle

[Dankie, Babsie, dat jy hierdie wenke met ons deel.]

Thursday 18 January 2024

Mag-dom en Stry-dom van Groblershoop en ander vriendelike padverbruikers

Op pad na Kgalagadi
Algemene gesig in die Kalihari
Op pad na Kgalagadi
Mag-dom en Stry-dom: die sterre van die storie!

Die Kalahari-donkies op die foto's kom van 'n klein Nama-Koi dorpie, genaamd Welkom af. Dié Welkom is 'n bietjie kleiner as die Goudveldse naamgenoot in die Vrystaat.
Klik HIER om die storie agter die foto's te lees. Geniet dit!!

Foto's: Marguerite Pienaar

Verjaardagwense


Mev. Buchler, mag die oorvloed van die liefde van Christus al die dae van u lewe vul. Baie geluk met jou verjaardag. 'n Geseënde dag.

 

Liz' thoughts


Click HERE for more.