Monday 1 January 2024

2024-wense

Ek het die oujaar gelos,
agter die murasie by die bloekombos
waar rooi papawers oopmond blom,
in die laaste strale van die somerson.
Ek pak vir jou en my 'n tas -
vir die Nuwe Jaar
'n tas wat pas:
Vir Winter; 
Mirre, Goud en Wierook
sodat jy ook,
die son se warm strale
sag mildelik oor jou vel voel gloed.
Ek breek vir ons 'n plaasbrood
ek skink ons kelkies boepens vol;
robynrooi wyn,
vir jou en my,
op vriende en samesyn.
Ek salf jou;
laventel, katjiepiering en jasmyn
en kis jou seerkry woorde
en jou pyn.
Ek pak vir ons reis,
padkos om te deel - 
pannekoek met kaneel,
sodat jy jou verlede los
en liefwees proe en weet
ek sal jou nooit vergeet.
Ek knoop jou naam
in 'n borsruikertjie saam
en skryf dit tussen sterre
in die melkwegraam.
Ek kneus 'n suurlemoen se blaar
sodat jy die reuk 
van oor en nuut,
begin ervaar:
Mag jou voete
nooit die pad verloor
en op jou nuwe roete,
jou oë altyd
bly hoop.
Mag jou skewe paaie reguit loop
en jou mondhoeke
altyd lag.
Ja kyk, môre is 'n nuwe dag!
Ek pen 'n koesterwoord
hier op my hart se dun papier:
Vir jou -
Mag jy vrede vind
in jou olyfboord,
Kaalvoetkind,
Koningskind.
Ek wens jou vroeë purper reën
en God se rykste seën.
Mag jy liefde vind
en jou swaeltjies
altyd terugkeer ~
weer en weer,
na die somer hier.
Mag jy altyd onthou
die Kaapse berge se poeierblou.
Mag jy bly dans
as musiek begin speel
en jou Nuwejaarskans
in genade en vreugde uitdeel.
Mag my woorde vlerke kry,
ek woordtowenaar.is 
Laat jou gebede hoog vlieg 
en vry ...
Mag die Nuwe Jaar
net vrede, vreugde en liefde baar,
vir jou en my,
en vir mekaar.
My 2024 wens vir jou
gestrik,
in satynrooi lint -
met liefde vas gebind

[Dankie, Esta, dat jy hierdie besondere wense met ons deel.]

Kan een van die lesers asb. laat weet wie die digter/skrywer is, sodat daar erkenning aan hierdie woordwerk verleen kan word.

No comments:

Post a Comment