Monday 29 January 2024

'n Woestyngedig ...

Die Namib-woestyn

Verlate, verdor, deur die lewe verstoot,
Is my wese verbitter met nyd,
En ek voer in die diens van my Meester, die Dood,
Met alles wat lewe ‘n stryd.
Heet soos my sonskyn en diep soos my sand
En hard soos my berge se rots,
Is die wreedheid van weerwraak wat binne my brand
Met die haat van gekrenkte trots.

Geen skoonheid, geen skadu, geen groenheid of gras,
Geen vleie my vaalte versier;
Seëvierend verdryf ek indring’rig gewas
En folter vir mens en vir dier:
Ek teken mirages uit tergende spot
Vir verdwaaldes, gemartel deur dors,
En my sande dans juigend met helse genot
Oor geraamtes verstrooi op my bors.

Maar saans as die mis oor my west’like strand
Soos ‘n lykkleed my kaalte bedek,
En die nagwinde kerm oor my eind’lose sand
En skadu’s my lengte oorstrek-
Dan word ek meteens met weemoed omgewe,
Al bly ek hoogmoedig en wreed,
En ek smag na die wellus van groenheid el lewe,
En sug in my eensame leed.

E A Schlengemann

Uit “Land van Sonlig en van Sterre"
‘n Bundel gedigte oor Namibië
Saamgestel deur Daniel Hugo

[Klik HIER vir nog inligting - hierdie gedig is getoonset deur Lorri Raaths]
Sesriem-duine
Sesriem Canyon

[Foto's: Marguerite Pienaar - klik HIER vir nog Namib-foto's en -gedagtes.]

No comments:

Post a Comment