Groblershoop – ons gooi diesel in. Ek klim af om bene te rek, sien die donkiekarretjie raak en gryp my kamera.
‘n Donkie maak altyd so ‘n outydse, tydlose foto van rustigheid. Ek vra eers toestemming, gesels’n bietjie, vra name, ook van die donkies - dis Magdom en Strydom. Ek groet hul met goeie wense vir die nuwe jaar en ‘n donasie.
Weer op pad herkou ek aan die donkiename - besef dis eerder Mag-dom en Stry-dom - dis ook nie verniet nie!
Ja, baie interessant, veral as ek terugdink aan vroeëre kuierplaasdae. Ja-nee, kyk, ‘n donkie is 'n steeks ding, ‘n moeilike een om iets te laat doen, al lyk Vaaltyn so rustig! Saggeaard? Glad nie, hoor! Vandaar die spreekwoord, steeks soos ‘n donkie - nie verniet nie! Hulle wil nie gery word nie, word ook nie maklik ingespan nie.
Natuurlik, daarvandaan die name:Mag-dom - dom donkie wat nie verstaan nie, wat ook met mag en mening teëstaan om ingespan te word.
Stry-dom - nog ‘n dom donkie wat stry en baklei teen ingespan te word.
(Dom donkie - ook ‘n ou sêwyse - vandag beslis uitgedien!)
Nouja, dié dat hul die donkies nie uitspan nie, maar laat staan en wag met die karretjie totdat die manne klaar hul drankies vir Krismis gaan koop het.
Ek onthou nog hoe my Pa vertel het van die donkievangery en inspan, eers voor en dan weer na skool.
Hierdie donkies was mak genoeg dat ek hul op die neus en hul ore kon streel - ek hou steeds van donkies, hul is vir my mooi, pragtig, het elkeen 'n eie persoonlikheid en herinner my aan ou vervloeë kinderdae toe ons met hul gespeel
en hul probeer ry het.
Geniet elkeen se donkie-herinneringe!
[Dankie, Marguerite, vir hierdie heerlike reisgedagtes wat jy met die lesers deel - verseker gaan elkeen sy eie onthou hierby voeg. Klik HIER om foto's van Magdom en Strydom en nog dierbare donkies te sien. Geniet!]
No comments:
Post a Comment