Monday 29 January 2024

Trek jou stapskoene aan en kom stap op 'n Maandag deur die Namib woestyn

Begin Oktober: “Ons gaan Desember Namib se duine klim, jy kan nie met sandale loop nie, die sand word baie warm en sal jou voete blase brand."

In my twintiger jare was ek al in die Namib, dus weet ek die duine is hoog, die sand diep, los en warm. Dit sal middel somer wees en woestyn is dan uiters warm - so begin dink ek: mens sal moet genoeg water, nee baie, moet saamdra, lap sonhoed, sonbril, sonbrandmiddel, selfoon, ekstra skoene, room vir skaafplekke en wat nog? Ek sal moet baie ligte klere kry, stapsokkies – o nee, dis te warm!

So word ek verder nog ingelig ook: “Jy kan nie ‘n klomp goed saamdra nie, net jou een ligste kamera!”

Ek wonder darem daaroor! Sê nou mens verdwaal daar - alles lyk daar alkante toe dieselfde sodat jy later nie meer weet nie!

Gaan my bene dit ooit in daardie los woestynsand hou? Ek stap so nou en dan en oefen so bietjie, maar dis beslis nie genoeg nie. Net daar stel ek my oefenfiets se band stywer, ‘n maand later nog stywer - ek oefen nou minstens vyf keer ‘n week en stap naweke ook ‘n paar kilometer.

Steeds dink ek, beplan, koop ‘n lap sonhoed, kry my stapstewels reg, koop nog ‘n paar toe skoene waardeur sand hopelik nie sal gaan nie, koop dun somersokkies en ook ‘n paar wat my moet beskerm teen blase kry. My dag-rugsak gaan saam met alles wat noodsaaklik is daarin!

Die tyd breek aan. Ons is deur die Kgaligadi, deur die grenspos daar, eet genoeg by ‘n plaasstal en koop die laaste nodige proviand – dis nou braaivleis vir twee aande en ek koop 10 ℓ water vir die volgende twee dae ( ek gaan mos baie dors word!)

Eers is ons by die Sesriem canyon waar ons 'n paar uur lank rondloop en foto’s neem, ek met die paar goed soos beplan in my ligte rugsak. Hoewel ek al voorheen verskeie dagstappe gedoen het, voel hierdie anders, sommer heel anders omdat dit in die woestyn is.

Die volgende oggend is ek al voor 05:00 op, gelukkig is dit somer en begin dit al so effens lig word. Ons moet 06:00 by die Naukluft park se ingang wees, want ons ry eers 'n hele ent deur los sand, dan moet ons oor die duine loop terwyl die sand nog koel en vas is, ons wil foto’s neem van die sonsopkoms oor die duine. Die terugkom gaan moeilik wees as die sand eers warm en los is en daar nog mense inkom wat die sand verder lostrap.

Gestewel met my rugsak met twee 500 mℓ bottels water,’n klein houertjie yogurt en pakkie droë vrugte, pak ons die duine aan. Dis bewolk met effens mis oor die kruine van die duine, en nogal koud, gelukkig toe nie so uiters warm nie. Daar is paaltjies ingeplant wat die roete aandui waarop ek my oog hou. Dit gaan goed. Daar is net so twee of drie ander mense ook.

Oor nog twee duine sak ek af na n groot plat vallei, ‘n wit kol sand met dooie droë stompe en dooie bome wat nog regop staan, Dooievlei genoem – ‘n gesig uit ‘n ander tydvak, ongelooflik! Mooi, maar staties , leweloos – soos in ‘n sprokie, ‘n oase wat skielik doodgegaan het, maar tog behoue gebly het.

Volgens die inligting het die weerpatrone ‘n 1000 jaar gelede skielik permanent verander, kry dit nou geen reën meer nie, die vog selfs so min dat die boomstompe nie eens kon verrot nie. Dit het alles net uitgedroog.

Dis stil, doodstil, die wit sand hard en versteen. Elkeen loop sy eie rigting, kyk hier, dan daar, neem foto’s van hierdie verlate versteende sprokiesland. Jy kyk, jy dink, jy wonder, daar is geen geluid of roering nie. Net die effense mis op die kruine van die duine verdwyn. Ek verwonder my aan hierdie doodse skoonheid. Nog huiwer ek, kyk ‘n laaste keer weer, stap dan terug, gemaklik, al is die sand nou losser.

Meer mense kom nou oor die duine aangestap. Ek is egter bly ons was vroeg en feitlik alleen daar om die stilte, ongereptheid en afsondering van die sprokiesvallei te ervaar. Dis steeds bewolk, dus is dit nie so uiters warm nie. Die kleure sou soveel helderder wees in sonskyn vir foto’s, maar ons is dankbaar. Nou gly ons wel in die diep los sand met die terugry, maar sit darem gelukkig nie vas daarin nie. Hierdie onherbergsame, stil, afgesonderde wêreld het soveel verskeie voorkomste soos wat die weer verander, en net soveel onverwagte vreemde skoonheid!
 
Ook hier hou God Sy hand oor alles en ons almal – so duidelik aan die onweerstaanbare skoonheid daarvan!

Sossusvlei, Duin 45
Sossusvlei

Sossusvlei, Duin 45
Dooievlei met mis op die kruin van duin
Dankie, Marguerite, dat jy al ons lesers wat nie meer op 'n staptog kan gaan nie, saam met jou op hierdie staptoer Namibië toe geneem het. Ons het, uit die gemak van ons stoel, baie lekker saamgeloop.

Klik HIER vir nog foto's en 'n bekende gedig oor die woestyn.

No comments:

Post a Comment