Tuesday 23 January 2024

Dinsdag-denke: Hewige rusie

Donkie en Tier is in ‘n hewige rusie oor watter kleur die gras is.

Donkie hou voet by stuk dat die gras blou is, en tier stry en sê dis groen. Na bykans ‘n uur se gestryery maak Donkie die voorstel: “Kom ons gaan na Koning Leeu - hy is die slimste en sal vir ons die antwoord gee.” 

By Koning Leeu aangekom, val Donkie sommer met die deur in die huis. “Koning Leeu, ek sê die gras is blou, maar tier hou aan stry dat dit groen is. Watter kleur is die gras?” 

Leeu kyk die twee stip aan, dan gluur hy vir Tier. “Donkie is heeltemal reg,” brul hy. “Die gras is blou! En Tier, vir jou onnoselheid, mag jy vir 5 dae lank niks sê nie!” Doodtevrede bulk en dans Donkie terug na sy grasland toe om verder te wei. Tier kyk geskok na Leeu en vra: “Mag ek iets sê voor ek stilbly vir 5 dae? Jy weet net so goed soos ek dat die gras groen is! Waarom sê jy vir Donkie dis blou??!!” “Omdat jy so dom was om met hom te stry oor iets wat ‘n voldonge feit was,” antwoord Leeu droog. “Jy het jou soos ‘n donkie gedra!” 

Daar is nog ‘n voldonge feit waaroor niemand mag stry nie - ons het meer as genoeg rede om die Here te loof en te prys! Psalm 149 roep ons weer op om ‘n nuwe lied vir God te sing - kom ons kyk gou na wat die Psalm sê:
  • Maak jou loflied elke dag nuut! Elke dag gebeur daar iets met ons wat nie gister gebeur het nie - gebruik dit om teenoor mense oor God te getuig (vers 1). Vind daardie nuwe ietsie elke dag.
  • En dit hoef nie net liedere te wees nie - dans voor die Here (verse 2-3)! Slaan ritme met jou borsel op die spieëlkas. Borsel jou tande met ‘n vrolike ritme! 
  • God geniet dit so as ons Hom loof en prys, dat Hy dan sommer namens ons veg en vir ons die oorwinnings behaal (verse 4-6). Dit alleen is al reeds meer as genoeg rede om Hom onophoudelik en met groot genot te prys!
  • Ons lofsange teenoor God bind kettings om ons vyande se enkels, vernietig ons omstandighede wat ons probeer onderdruk en tel ons op bokant alles sodat ons saam met Hom kan triomfeer (verse 7-9).
  • Moenie jou soos ‘n donkie gedra en probeer stry oor dinge wat jy rondom jou sien nie. Wéét wat die waarheid is: die Here leef en regeer! Maak nie saak watse twak die lewe vir jou probeer vertel nie - hou aan om die Here te loof, want Hy regeer! Moenie eens met die wêreld probeer redeneer nie - hou net aan om die Here te loof! As tier maar net die onderwerp verander het en God begin loof het ... maar toe wil hy sy punt bewys deur te stry. Daar is geen rede vir ons om ‘n punt te bewys nie – dis reeds vir ons aan die kruis gedoen. Al wat ons nou moet doen, is om net die Here te loof!

No comments:

Post a Comment