Sunday 28 January 2024

Mary Jones se groot doel in die lewe

In ‘n afgeleë deel van Wallis het ’n dogtertjie, Mary Jones, saam met haar ouers tussen die berge gewoon. Haar ouers kon nie lees nie. Daar was geen skool naby genoeg waar sy kon leer lees nie. Sy het graag saam met haar ouers kerk toe gegaan. Die Bybelversies wat die predikant gelees het, het haar aangegryp en sy het hulle probeer onthou. Toe Mary tien jaar oud was, is ’n skool 3km van hulle huis af geopen. Mary kon uiteindelik leer lees. Na sy leer lees het, was daar net een wens in haar hart: om ’n eie Bybel te besit. Haar pa het vir haar ‘n spaarbussie van hout gemaak, waarin sy al die geld kon bê­re wat sy verdien het met kinders oppas, hout by­me­kaar­maak en verkoop en naaldwerk doen. Dit het haar ses jaar geneem om genoeg geld bymekaar te maak om ’n Bybel mee te kon koop. Bybels was skaars en baie duur. Húlle predikant het nie eens ’n Bybel vir haar gehad nie.

Op ’n dag hoor Mary in die dorpie Bala word Bybels verkoop. Sy sou met die voetpaadjie, tussen die berge deur, Bala toe moes loop om vir haar ’n Bybel te gaan koop. Een oggend vroeg kniel sy saam met haar pa en ma om te bid dat die Here haar sal bewaar. Sy groet hulle, neem haar handsak met padkos en die geld waar­voor sy so lank gewerk het, en ’n paar skoon skoene om aan te trek as sy in Bala kom, en vertrek. Toe sy so alleen tussen die berge deur loop, kom die woorde van Psalm 121, wat sy uit die kop geken het, in haar op: “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.”

Die aand, net toe dit donker word, kom sy in Bala aan. Goeie mense gee vir haar herberg vir die nag. Vroeg die volgende oggend klop sy aan Thomas Charles se deur. Hy maak self die deur oop en nooi haar effens verbaas in. Eers vra hy haar uit oor haarself en toe wil hy weet wat sy van hom wil hê. “’n Bybel,” fluister sy in daardie groot oomblik waarvoor sy so lank gewag het en haal haar geld uit. Oorbluf kyk hy na haar: “My kind, ek het geen Bybels om te verkoop nie!” Sonder ’n woord sak Mary op ‘n stoel neer en begin bitterlik huil. Tussen haar snikke deur kla sy: “Moet ek dan nou sonder ’n Bybel teruggaan?” Aangedaan sit hy sy hand op haar skouer: “Moenie huil nie, Mary. Omdat jy so graag ’n Bybel wil hê, gee ek vir jou een van my eie Bybels. Hier, neem dit.” Met ’n kreet van blydskap spring sy op, gryp die Bybel en druk dit teen haar vas. “Dankie!” roep sy uit. “Baie dankie! Nou moet ek huis toe gaan.”

By haar huis wag haar ouers haar in. Van ver af al wys sy vir hulle die Bybel. Hulle hardloop haar opgewonde tegemoet. In die voorkamer word die groot parafienlamp aangesteek. Vir die eerste keer, met haar ouers by haar, maak Mary haar eie Bybel oop. Sy blaai na Psalm 150 toe en lees van die eerste vers af: “Prys die Here! Prys God in sy heiligdom, prys Hom hier onder sy magtige hemelgewelf ..." tot by die laaste vers: “Laat alles wat asemhaal, die Here prys. Prys die Here!”

Uit hierdie gebeurtenis het ’n geseënde gevolg gespruit: Thomas Charles het vir sy kollegas en ander belangstellendes in Londen vertel van die nood aan Bybels in Wallis. Een van die leraars in die vergadering stel voor: “Kom ons stig ’n verenig­ing wat meer Bybels aan Wallis kan voorsien.” ’n Ander leraar, Joseph Hughes, roep uit: “Nie net vir Wallis nie, maar vir die hele wêreld!” So is die Britse en Buitelandse Bybelnootskap op 7 Maart 1804 gestig. Ons eie Bybelgenootskap van Suid-Afrika, het in 1820 in werking getree en een van die grootste verspreiders van volledige Bybels in die wêreld geword.

Waardeer ú Bybel, lees ú Bybel, geniet ú Bybel.

“Here, vandag dank ek U vir mense wat saamgewerk het om die Bybel in my hande te plaas. Seën die werk van die Bybelgenootskap.”

Kontak die Bybelgenootskap HIER.

Noord-Kaap/Vrystaat
Posadres: Posbus 12149, Brandhof, 9324
Landlyn: 051 444 5980
e-pos: bibbfn@biblesociety.co.za

No comments:

Post a Comment