Showing posts with label Paasfees. Show all posts
Showing posts with label Paasfees. Show all posts

Saturday, 19 April 2025

Die woord Passie - “Passion” (Deel 2)

In die 12e eeu is die woord gebruik vir die lyding van Jesus aan die kruis. Dit het die betekenis van om te ly, om te verduur, gehad. (suffering, enduring).

Later is dit gebruik om die Christelike martelare se toewyding waarmee hulle hul vervolging en lyding verduur het, te beskryf.

Later het die betekenis oorgegaan na entoesiastiese toewyding. As ons vandag sê jy doen ʼn ding met passie, doen jy dit met entoesiasme, met oorgawe, met baie liefde en met jou hele hart.

Hoe gebruik ons die woord passie vandag?

* Ons praat van die Passie Spele, bedoelende die uitbeelding van Jesus se lydensgeskiedenis, sy gevangeneming, veroordeling en kruisiging.

* Dan gebruik ons dit vir besondere liefde en toewyding aan ʼn saak wat jou na aan die hart lê.

* Natuurlik ook vir klein of kort treetjies.

* Die Engelse gebruik dit ook nog in “passion fruit.” As die kelner vra: “Wat wil julle drink?” en jy sê, “Passion fruit,” kry jy ‘n grenadelladrankie.

[Chris Erasmus]

Friday, 18 April 2025

'n Blom vir Paasfees: Christene vier hierdie naweek Paasfees (Deel 1)

Chris sê: "Ek vra een oggend vir iemand op straat wat Paasfees vir hom beteken. Hy sê hy weet Vrydag is ʼn vakansiedag en dis ʼn kerklike dag, maar hy weet nie eintlik wat dit beteken nie. Ons wat weet, moet vir hulle wat nie weet nie, vertel en verduidelik.

Maar hoe vertel mens kort en bondig die Paasverhaal?

Doen dit soos die Spaanse sendelinge dit al eeue gelede gedoen het.

Al wat jy nodig het is ‘n grenadellablom. Dis hoeka nou die tyd dat die grenadellas blom.

Spaanse sendelinge het dit jare gelede gebruik as hulpmiddel om die verhaal van Goeie Vrydag te vertel.

Die grenadella staan vandag bekend as “passion fruit”. Waar kom die “passion” in die grenadella vandaan? Woorde ondergaan met die jare verandering in betekenis. So is dit ook met die woord “passion” by die grenadella.

Kom ons gaan haal die storie heel aan die begin.

Laat in die 12e eeu het die Spaanse sendelinge in Suid-Amerika die wondermooi inheemse blom van die grenadella gesien. Hulle begin toe om die blom te gebruik om die verhaal van Jesus se lyding en kruisiging te vertel. Die lydensgeskiedenis van Jesus word in Engels die “Passion of Christ” genoem. As jy die lydensgeskiedenis, die “passion of Christ” en hierdie besondere blom by mekaar bring, kry jy “Passion Flower” en “Passion Fruit”.

Kyk mooi na die blom dan sien jy die verskillende elemente van Jesus se lydensverhaal in verskillende dele van die blom..

1. Die tien kroonblare verteenwoordig die 10 dissipels wat getrou was. (Petrus het sy Here verloën en Judas Iskariot het sy Here verraai. Daarom word hulle nie bygetel nie.)

2. Die helmdrade verteenwoordig die doringkroon wat Jesus gedra het.

3. Die vyf meeldrade herinner ons aan Christus se vyf wonde: twee spykerwonde in sy hande, twee in sy voete en die wond van die soldaat se spies in sy sy.

4. Die drie stempels verteenwoordig die drie spykers wat Jesus se liggaam aan die kruis gespyker het.

5. Die ranke het hulle laat dink aan die geseltoue (die geselsweep) waarmee Jesus geslaan was.

6. Die gelobde blare vertel die storie van die hande van die mense wat Jesus gevang en gefolter het.

7. Die pragtige blou en wit kleure verteenwoordig die Hemel en reinheid.

Hoekom het ons nie al lankal die grenadellablom die Paasblom genoem nie?

Paasfees is natuurlik meer as wat die grenadellablom ons vertel. Die Paasverhaal gaan verder as die doringkroon en die kruis. Dit gaan na die toe graf en dan na die oop graf - Jesus se opstanding uit die dood.

Mag jy 'n besondere geseënde Paasfees hê."

[Chris Erasmus]

Thursday, 4 April 2024

Resep: Paasbolletjies


Paasfees is om die draai en heerlike tuisgebakte paasbolletjies sal net die ding doen. 

Bestanddele
450 g witbroodmeel
5 ml all spice (gemengde speserye)
2 ml sout
120 g gemengde droë vrugte (rosyne, sultanas, korente en sitrusskil)
50 g (60 ml) suiker
7 g droë gis
55 ml gesmelte botter/margarien
215 ml louwarm melk
1 eier, geklop

Versiersel (kruisie)
60 ml witbroodmeel
15 ml suiker
15 ml melk
1 groot eier

Metode
  • Meng alle droë bestanddele, behalwe die droë vrugte.
  • Meng alle nat bestanddele en meng in die meelmengsel in.
  • Knie tot sagte deeg (voeg bietjie melk by as te styf is). Knie goed vir omtrent 10 min. tot lekker elasties.
  • Maak toe en laat rys tot dubbel die grootte.
  • Knie deeg af.
  • Knie vrugte in en maak 12 bolletjies.
  • Pak bolle langs mekaar op bakplaat en laat weer rys.
  • Maak die versiersel aan tot gladde pasta. Skep dit in 'n versiersak of plastieksak waarvan 'n klein hoekie afgesny is. Spuit kruise oor bolletjies.
  • Bak by 350 gr C vir 15-20 min.
  • Verf 'n bietjie suikerwater oor die bolletjies as uit die oond kom.
Variasie
Laat vrugte en all spice uit en voeg sjokoladesplinters by en vanieljegeursel in all spice se plek.

[Uit: Die Pienk Boekie: Nuusbrief nr. 93, Maart 2011 - Jeanetta du Preez]

Klik HIER vir nog resepte.

Friday, 7 April 2023

Geseënde Paaswense vir die inwoners



Vir die jongeres: Lees HIER

Die Paasfeespreek 2017: Lees HIER (Die boodskap bly mos dieselfde.)

Monday, 3 April 2023

As die Kruis kon praat ...

Dis amper Paasfees, Here.  Oral in die winkels kuier die Paashase rond, en om die draai waai die Paasnaweek vrolik, met soveel beloftes van rus en saamkuier met mekaar. Iewers mis ons dit, né Here?  Iewers het ons die kruis in blink goue papiertjies begin toedraai, met ogies en ‘n glimlag, en dit gaan wegsteek tussen al die sjokoladehase op die winkel se rak. 

Ek wil nie deel wees van so ‘n Paasfees nie, Here.  Ek kan nie.  Ek kan nie vir Jesus in blink papier toedraai en omdraai asof dit my nie raak nie.

Ek wil vanaand stil-versigtig voor U kruis kom staan ... As die kruis kon praat, Here, sou dit sag vir my gesê het dat U my teruggetel het in die Veiligheid van U liefde. Daardie liefde waarin ek geborge is.  Daardie liefde waar ek onvoorwaardelik aanvaar word. Daardie liefde wat my vashou en liefhet, soos net ‘n Pa vir Sy kind kan lief wees.  

As die kruis kon praat, Here, sou dit my vertel het van daardie verskriklike oomblik toe Jesus uitgeroep het: “My God, My God ... waarom het U my verlaat?”  My God ... nie ‘My Vader’ nie.  My God.  Want vir daardie oomblik het U weggekyk van Jesus, afgebuk en my weer in U liefde teruggetel. Vir daardie oomblik het U vir Jesus uit die veiligheid van U liefde gestoot.
  
As die kruis kon praat, sou dit my vertel van Jesus se verlate-wees, se uitgestoot-wees, se alleen-wees.  Dit sou my vertel van Jesus se vrees om uit die kring van God se liefde te beweeg.  Dit sou my vertel van Sy angs, daardie oomblik toe Hy nie meer deel was van God se liefde nie.  

As die kruis kon praat, Here, sou dit my vertel van Jesus se liefde vir my. ‘n Liefde wat eenkant gaan staan het, alleen en sonder die Vader. ‘n Liefde wat my raakgesien het, en my alleen en bang en skuld op Sy skouers getel het, en dit buite die kring van die Vader se liefde gaan neersit het.  

As die kruis kon praat, Here, sou dit my vertel van ‘n liefdevolle Vader wat my versigtig optel en my stil binne die geborgenheid van Sy volmaakte liefde gaan neersit. 

As dit nie vir die kruis was nie, Here, het ek nou nog alleen en bang buite die Kring van U liefde rondgedwaal. Doelloos. En sonder Hoop.

As die kruis kon praat, Here, sou dit stil vir my vertel het dat ek nie moedeloos hoef te wees nie.  Dit sou my herinner het dat ek op pad Huis toe is, na my Vader wat vir my so onbegryplik lief is. Dit sou my herinner daaraan dat ek geborge is binne God se liefde. Dat niks my daar kan seermaak of bangmaak of hartseer maak nie. Dit sou my herinner aan die Vader wat my elke oomblik van die dag styf teen Hom vashou. As die kruis kon praat, sou dit my opgewonde vertel van eendag se Eendag wanneer ek by die Huis gaan kom. 

As die kruis kon praat, Here, sou dit ‘n Sirkel om my trek en my herinner dat Jesus buite God se liefde moes bly, sodat God my weer binne Sy Sirkel kon tel. Sodat ek kan deel wees van ‘n Goddelike gesin, waar ek altyd welkom is, waar ek mag hoort by ‘n Vader wat vir my so baie  lief is.

Dankie vir die kruis, Here.  Wanneer ek vanaand stil my vingers oor die skerwe-hout laat gly, sê ek dankie dat daardie kruis vir my kom sê dat God se arms nooit ooit vir my sal toegaan nie. Maar dat dit sag om my vou en Paasfees vir my kom sê: “Jy is Myne. Ek het jou duur gekoop. Ek het jou lief met ‘n liefde wat weggekyk het van My eie Seun, sodat ek jou weer binne die geborgenheid van My liefde kan tel.”

Dankie, Here. Die verlatenheid wat Jesus daar aan die kruis gevoel het, die seer en die stukkend en die uitgestoot wees, kan nie toegedraai word in blink papier nie.  Dit kan nooit mooi gemaak word met paashase en sjokolade nie.  

Dis amper Paasfees, Here.  Ek wil stil voor die kruis kom kniel, en dankie sê.  Dankie dat Jesus my teruggetel het in die geborgenheid van my Hemelse Vader se liefde. In hierdie liefde is ek veilig. Vir altyd. 

Amen.

(Katrienkie@2023) 

[Dankie, Rosetta Venter, dat jy hierdie gebed met die lesers gedeel het.] 

Friday, 10 April 2020

Paasvrydag 2020: Genade


Dankie, Jan Harm, dat jy hierdie besondere video met Ons Huis se inwoners en virtuele besoekers deel.

Friday, 19 April 2019

Acaciapark se Paasfeesuitreik ...

Die bestuur en inwoners van Acaciapark
het Ons Huis se inwoners kom bederf met paaseiers.
Die heerlike soetigheid herinner ons aan ons dae
van kindwees en ouerwees. Ons wens is dat elkeen
'n geseënde Paasnaweek sal hê.
























Nog foto's hier.

Geseënde Paasfees ...



Friday, 29 March 2019