Dis amper Paasfees, Here. Oral in die winkels kuier die Paashase rond, en om die draai waai die Paasnaweek vrolik, met soveel beloftes van rus en saamkuier met mekaar. Iewers mis ons dit, né Here? Iewers het ons die kruis in blink goue papiertjies begin toedraai, met ogies en ‘n glimlag, en dit gaan wegsteek tussen al die sjokoladehase op die winkel se rak.
Ek wil nie deel wees van so ‘n Paasfees nie, Here. Ek kan nie. Ek kan nie vir Jesus in blink papier toedraai en omdraai asof dit my nie raak nie.
Ek wil vanaand stil-versigtig voor U kruis kom staan ... As die kruis kon praat, Here, sou dit sag vir my gesê het dat U my teruggetel het in die Veiligheid van U liefde. Daardie liefde waarin ek geborge is. Daardie liefde waar ek onvoorwaardelik aanvaar word. Daardie liefde wat my vashou en liefhet, soos net ‘n Pa vir Sy kind kan lief wees.
As die kruis kon praat, Here, sou dit my vertel het van daardie verskriklike oomblik toe Jesus uitgeroep het: “My God, My God ... waarom het U my verlaat?” My God ... nie ‘My Vader’ nie. My God. Want vir daardie oomblik het U weggekyk van Jesus, afgebuk en my weer in U liefde teruggetel. Vir daardie oomblik het U vir Jesus uit die veiligheid van U liefde gestoot.
As die kruis kon praat, sou dit my vertel van Jesus se verlate-wees, se uitgestoot-wees, se alleen-wees. Dit sou my vertel van Jesus se vrees om uit die kring van God se liefde te beweeg. Dit sou my vertel van Sy angs, daardie oomblik toe Hy nie meer deel was van God se liefde nie.
As die kruis kon praat, Here, sou dit my vertel van Jesus se liefde vir my. ‘n Liefde wat eenkant gaan staan het, alleen en sonder die Vader. ‘n Liefde wat my raakgesien het, en my alleen en bang en skuld op Sy skouers getel het, en dit buite die kring van die Vader se liefde gaan neersit het.
As die kruis kon praat, Here, sou dit my vertel van ‘n liefdevolle Vader wat my versigtig optel en my stil binne die geborgenheid van Sy volmaakte liefde gaan neersit.
As dit nie vir die kruis was nie, Here, het ek nou nog alleen en bang buite die Kring van U liefde rondgedwaal. Doelloos. En sonder Hoop.
As die kruis kon praat, Here, sou dit stil vir my vertel het dat ek nie moedeloos hoef te wees nie. Dit sou my herinner het dat ek op pad Huis toe is, na my Vader wat vir my so onbegryplik lief is. Dit sou my herinner daaraan dat ek geborge is binne God se liefde. Dat niks my daar kan seermaak of bangmaak of hartseer maak nie. Dit sou my herinner aan die Vader wat my elke oomblik van die dag styf teen Hom vashou. As die kruis kon praat, sou dit my opgewonde vertel van eendag se Eendag wanneer ek by die Huis gaan kom.
As die kruis kon praat, Here, sou dit ‘n Sirkel om my trek en my herinner dat Jesus buite God se liefde moes bly, sodat God my weer binne Sy Sirkel kon tel. Sodat ek kan deel wees van ‘n Goddelike gesin, waar ek altyd welkom is, waar ek mag hoort by ‘n Vader wat vir my so baie lief is.
Dankie vir die kruis, Here. Wanneer ek vanaand stil my vingers oor die skerwe-hout laat gly, sê ek dankie dat daardie kruis vir my kom sê dat God se arms nooit ooit vir my sal toegaan nie. Maar dat dit sag om my vou en Paasfees vir my kom sê: “Jy is Myne. Ek het jou duur gekoop. Ek het jou lief met ‘n liefde wat weggekyk het van My eie Seun, sodat ek jou weer binne die geborgenheid van My liefde kan tel.”
Dankie, Here. Die verlatenheid wat Jesus daar aan die kruis gevoel het, die seer en die stukkend en die uitgestoot wees, kan nie toegedraai word in blink papier nie. Dit kan nooit mooi gemaak word met paashase en sjokolade nie.
Dis amper Paasfees, Here. Ek wil stil voor die kruis kom kniel, en dankie sê. Dankie dat Jesus my teruggetel het in die geborgenheid van my Hemelse Vader se liefde. In hierdie liefde is ek veilig. Vir altyd.
Amen.
(Katrienkie@2023)
[Dankie, Rosetta Venter, dat jy hierdie gebed met die lesers gedeel het.]
No comments:
Post a Comment