Dag 1: Jou naaste huil en voel oorval met verlies en skok.
Ook dag 1: Vir 8,015 miljard ander mense is dit 'n gewone Woensdag.
Dag 2 tot 5: Jou begrafnis word beplan, mooi dinge word oor jou geskryf en gesê deur dié wat jou liefhet.
Ook dag 2 tot 5: Die wat jou nie kon hanteer nie, praat en skryf ook mooi van jou, maar uit respek vir die dood, gestrooi met 'n knippie skynheiligheid, nie uit respek vir jou nie.
Dag 6 tot 10: Jou begrafnis word gehou deur 'n klein groepie mense en daar is baie trane, die trane en die groepie word minder en kleiner teen die tyd wat die 4de koeksister geëet word.
Ook dag 6 tot 10: Dié wat weggebreek het van die naaste aan jou groep af, is in die kar op pad huis toe al reeds besig om te skinder oor jou naaste se doen en late by jou begrafnis.
Dag 30 tot 60: Jou man of vrou en jou kinders het vir die eerste keer weer hardop vir 'n grap gelag, hul onthou jou, maar die seer voel al minder as die maandeindeverantwoordlikhede.
Ook dag 30 tot 60: Jou baas het jou pos gevul, die kantoor praat nie regtig meer veel van jou nie, behalwe as dit kom by die oorname van jou werkspligte.
Dag 100 tot 200: Jou man of vrou en jou kinders mis jou, maar huil nie meer regtig nie. Jou foto's kry waarde, maar word nie meer so hartseer na gekyk nie.
Ook dag 100 tot 200: vir 8,015 miljard mense is dit 'n gewone Vrydag.
En tog leef 99% van ons om ander se respek en hoë agting te bekom ... Ons maak onsself sielsongelukkig om aansien te kry of te behou ... Ons stel ons drome uit, breek ons waardes af en gee ons geluk prys vir 'n glimlag op 'n gesig wat dit tien teen een nie eers tot by jou begrafnis se koeksistertafel sal maak nie.
Dit gee mens 'n ander perspektief op die manier wat jy jou lewe leef (of nie leef nie), né?
[Dankie, Johan, vir hierdie bydrae.]
No comments:
Post a Comment