Tuesday 18 April 2023

Dinsdag-denke: Tyd is kosbaar

Hierdie is ‘n pragtige storie wat ons weer daaraan herinner word, hoe belangrik en kosbaar tyd is. Nie net vir werk en die aardse dinge nie, maar ook vir die belangrike mense in jou lewe. Maak nie saak hoe besig jou dag is, of hoe moeg jy is nie, jou gesin verdien ook ‘n deel van jou tyd wat jy die heeldag so aan ander uitdeel. Prediker 3:1-8 sê nie verniet dat daar ‘n tyd vir alles onder die son is nie.Tyd is kosbaar.

Met ‘n sagte stemmetjie en oë wat vol bewondering is, groet die klein seuntjie sy pa wat net van die werk af terug gekom het, “Pappa, hoeveel geld verdien pappa per uur?”

Baie verwonderd gluur die pa sy seun aan, en sê, “Kyk seun, nie eens jou ma weet dit nie. Moet my nie nou verder pla nie. Ek is moeg.”

“Maar Pappa, vertel my tog net asseblief! Hoeveel verdien Pappa per uur,” het die seuntjie aangehou.

Later het die pa maar moed opgegee en antwoord: “Twintig rand per uur.”

“Dankie, Pappa. Kan Pappa asseblief vir my tien rand leen?” vra die seuntjie in ‘n bangerige stemmetjie.

Hoogs verontwaardig en erg geïrriteerd snou sy pa hom toe, “So dis die rede hoekom jy wil weet hoeveel geld ek per uur verdien? Gaan slaap nou en moet my nie verder pla nie!”

Heelwat later die aand, terwyl die pa in die donkerte sit en alles oordink wat hy aan sy seun gesê het, het hy baie skuldig gevoel. Hy het by homself gedink, miskien wil sy seun vir homself iets koop wat hy baie graag wil hê.

Na ‘n wyle, om sy gewete te sus, staan die pa op en gaan na sy seun se kamer. “Slaap jy al my seun?” vra sy pa.

“Nee Pappa. Hoekom?” antwoord die seuntjie ietwat deur die slaap.

“Hier is die geld wat jy vroeër gesoek het, my seun,” antwoord sy pa.

“Baie dankie, Pappa,” juig die seuntjie terwyl hy sy klein handjie onder sy kussing indruk en nog geld onder sy kussing uithaal. “Nou het ek genoeg!! Nou het ek twintig rand!” deel die seuntjie sy pa opgewonde mee.

Sy pa het hom aangestaar, heeltemal verward oor wat sy seun nou gesê het.

“Pappa, kan jy asseblief aan my een uur van jou tyd verkoop?”

Tyd is hopeloos te kosbaar om dit alles aan werk te spandeer! Waardeer jou geliefdes en moet hulle nie sommer net as vanselfsprekend aanvaar nie.

Moet nooit toelaat dat jou kinders of jou vrou of jou man jou moet kom vra om van jou tyd te koop vir hulself nie.

[Nog kosbare stories HIER]

No comments:

Post a Comment