Sunday 16 April 2023

WATERDRUPPEL vir die WEEK = My “in-plaas-daarvan-leefstyl”

Groete en Vrede!!!

So seker soos wat die warmste hemellig in die ooste opstaan en in die weste gaan slaapplek opsoek, so verseker is dit dat die Kalahari mensegoed se dinkdinge en lewens geraak word deur voorwêreld-tendense, gebeurtenisse en gedrag. En as daardie gebeurtenisse en optredes hulle beursies direk beïnvloed, maak die Kalahari mense net soos voorwêreld-mensegoed ... hulle praat daaroor. Gedagtes hieroor sal uitgeruil word. Hulle sal hard en duidelik en natuurlik met emosie hieroor praat. Dit maak nie saak waar hulle op daardie stadium spore los nie, hulle sal nie sommer moordkuile van hulle harte maak nie.
 
Kort voor laaste week moes ek ‘n draai by ons plaaslike koöperasiewinkel maak. Lank voor ek die draai by die huisie op die hoek gevat het, het ek hulle al op die winkel se stoep gehoor. ‘n Behoorlike geroesemoes van klanke wat wyd oor die vlak trek. Hierdie bondel Kalahari mensegoed is diep ontsteld want die emosie in hulle stemme is duidelik op die oor. Asof dit nie genoeg is nie, word daar in duidelike Kalahari taal beskryf wat hulle met hierdie kerkloper, wil doen. Hulle wil hierdie self aangestelde ouderling wat geen ontsag vir God en Sy gebod het nie, stenig.

Vroeg die volgende oggend het ek kort voor sonop tot bo-op ons ses meter hoë watertenk se platform geklim. Ek het teen die groen watertenk gaan sit omrede ek so bietjie in totale stilte alleen wou wees. Gister se stoepgesprek vol dreigemente draai oor en oor in my gemoed. Aanhoudend tot vervelens toe en daarom wou ek net wegkom.

Uit radeloosheid wou ek my lot daardie oggend tot bo-op ons ses meter hoë watertenk se platform by Hom bekla. Terwyl my oë ‘n goddelike skildery bestaande uit ‘n goudkleurige verste sien met ‘n handjievol rooi en pienk wolkies indrink, herinner die Veilige Gees my daaraan dat hierdie barbaarse gedragspatroon nie uniek is nie. Om ander met klippe te gooi is mos blou jare deel van die menslike gedrag. Selfs Jesus as God se Kêrelkind was dan per geleentheid al die teiken daarvan. Johannes beduie dan onomwonde dat Joodse kerkleiers dramaties van Hom verskil het. Gevolglik wou hulle Hom net daar en dan stenig omrede hierdie barbaarse handeling die enigste manier is waarop rampokkers ontslae kan raak van innerlike frustrasies.

Ver in die verte verklaar 'n Kalahari hoenderhaan dat die warmste hemellig sy kop uitgesteek het. Net soos Petrus van ouds, laat sak ek my kop in skaamte want ek – en moontlik jy ook - is skuldig. Ons handjies is lekker los om vinnig en gereeld om klippe na Hom, Sy saak en Sy mense te gooi. Dis nou veral as ons nie met Hom of dit waarvoor Hy staan saamstem nie. Miskien gebruik ons nie regte klippe wanneer ons stenig nie, maar ons gebruik woorde. Ons kritiseer en kraak af en verkleineer en skinder en praat aan want ander aanbid verkeerd, praat verkeerd, doop verkeerd en hulle doen verkeerd. Net soos die skynheilige Joodse kerkleiers stenig ek en jy ander en dan is ons heel verontwaardig, verbaas en diep ontsteld as Hy, Sy saak en Sy kinders uit ons teenwoordigheid padgee.

“Leef eerder volgens My “in-plaas-daarvan-leefstyl. ‘n Leefstyl wat sal voorkom dat jy nie ander met jou woorde stenig nie” fluister die Veilige Gees en verduidelik verder. “Dit is ‘n leefstyl wat behels dat gelowiges eerder hul onvoorwaardelike vergifnis en redding uitleef in plaas daarvan dat hulle hul leliewit lewens oor die vlak uit basuin. ‘n Leefstyl waarin gelowiges erken dat hulle My nodig het om hulle gemors skoon te maak in plaas daarvan om breë bors en bak arm rond te loop oor al hul suksesse.
Daarmee saam, moet gelowiges eerder getuig van My oorvloedige onverdiende genade wat hulle ontvang het in plaas daarvan dat om met ‘n heilige leefstyl te spog. Gelowiges moet ook weet dat Ek as Skepper van hemelgoed en stofaarde mensegoed as waardevol en kosbaar beskou in plaas daarvan dat hulle glo dat hulle perfek is. En laastens moet gelowiges onomwonde verklaar dat hulle swak is en My krag nodig het om te doen wat Ek van hulle vra in plaas daarvan om voor te gee dat hulle so stewig soos ankerpale staan.”

Ef. 4 vers 23 & 24 (Afr 2020) = “Julle moet eerder in die aard van julle denke vernuwe word. Ja, trek die nuwe mens as kleed aan, wat in ware geregtigheid en heiligheid in ooreenstemming met God geskape is.”

Sandkorrel baie seëninge.

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.

[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Indien jy wil en betrokke kan raak by hierdie uitreiking, maak gebruik van die kontakdetail hierbo.]

No comments:

Post a Comment