Na die laaste wêreldoorlog het ‘n prediker in die stilte van sy kerk gesit en met God gepraat.
Dit was doodstil en skielik het die agterdeure oopgegaan en ‘n ouerige man het ingestap met ‘n dogtertjie van so twee jaar op sy arm. Toe hy by die voorste banke van die kerk kom, het hy haar op die grond neergesit. Die predikant het toe agtergekom dat die dogtertjie verlam was.
Die prediker het doodstil bly sit en gesien hoe die man voor die kansel neerkniel en saggies bid. Na ‘n paar minute het die man opgestaan, die dun gewaste kombersie weer om die dogtertjie gedraai en gereed gemaak om weer uit te stap.
Die prediker het nader gestap en die man met die hand gegroet en homself voorgestel. Dit was baie opvallend hoe skoon die ou man en die klein dogtertjie se klere was, al was dit verwaarloos en vol gate gewees.
Hy vra toe die ouer man of dit sy kleindogter is. “Ja,” sê die ou man. “Sy is gewond in dieselfde bomaanval wat haar moeder en vader se lewens geeïs het. Sy is verlam en bly nou by my. My vrou het ‘n hartaanval gekry na die nuus van ons seun en skoondogter se dood en sy het ook gesterf.”
Met trane wat by sy wange afloop het hy die tingerige lyfie teen hom vasgedruk en vir die prediker gesê dat sy al is wat hy nog oor het van sy hele gesin.
Die prediker het aan die knop in sy keel gesluk en toe vir die ou man gevra wat hy vanoggend hier in die kerk kom doen het. Die ou man antwoord met ‘n sagte bewerige stem ... "Ek het net vir die Here kom sê ek is nie kwaad vir Hom nie, en dat ek Hom nog steeds baie liefhet."
Buite het hy die dogtertjie in ‘n stukkende waentjie gelaai en mank-mank die straat af gestap.
Ten spyte van sy haglike omstandighede ...
Ten spyte van sy ooglopende armoede ...
Ten spyte van sy hartseer en pyn oor al die geliefdes wat gesterf het ...
Ten spyte van die gesukkel om ‘n dogtertjie wat verlam is, te versorg ...
Wou hy net vir die Here sê hy is nie kwaad oor sy omstandighede nie ...
En wou hy hê die Here moet weet hy het Hom nog baie lief ...
[Nog stories HIER]
No comments:
Post a Comment