Showing posts with label Bid. Show all posts
Showing posts with label Bid. Show all posts

Monday, 27 July 2026

Vandag se internetgebed vir jou:

Here, U ken my, 
U sien dwarsdeur my, 
of ek sit en of ek opstaan, 
U weet dit,
U ken my gedagtes 
nog voordat hulle by my opkom.
Of ek reis en 
of ek oorbly, 
U bepaal dit, 
U is met al my paaie goed bekend.
Daar is nog nie 'n woord op my tong nie 
of U, Here, weet wat dit gaan wees.
U omsluit my van alle kante, 
U neem my in besit.
Dankie daarvoor.
Amen

Monday, 20 July 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Ek kan vandag jubel

Ons Vader wat in die hemel is, opnuut besef ek vandag hoeveel U vir ons gegee het toe Jesus Christus aan die kruis gesterf het. Om te dink, Hy het met bloed en trane, asook sy sterwe en opstanding vir my verlossing teweeg gebring. Ek jubel vandag in daardie wete en ek dank U daarvoor. 

Gee dat by al die eise van elke dagtaak, ons steeds U handewerk sal raaksien. Elke klein blommetjie, elke klein goggatjie, asook die grootsheid van die maan en sterre, ja, alles is bewyse van U majesteit en heerlikheid. Die stilte van die nag en die vrolike gewoel in die oggend, dit alles spreek van U grootheid.

Met blydskap wil ek weer hierdie dag tegemoetgaan. Ek weet, al is my krag min, al is ek nie opgewasse teen die aanslae nie, wil ek tog met moed en vertroue voortgaan. U het beloof om die ootmoedige genade te skenk en om die eenvoudige te lei, daarom is my hoop en vertroue op U, die Almagtige, gevestig.

Bewaar ons van die versoekings van die wêreld. Reinig ons gemoedere, dan sal ook ons uiterlike handelinge rein wees. Maak ons oog, ons tong, ons hand, ja ons alles, werktuie vir U koninkryk en laat dit tot U geregtigheid en tot U verheerliking strek. Amen.

[Mariet Hobbs]  

Monday, 13 July 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Herstel wat gebreek is ...

Vader, ek dank U dat niks vir U onmoontlik is nie. Vergewe my vir elke oomblik waarin ek geglo het dat my lyding of omstandigheid permanent is. Ek verwerp hopeloosheid en omhels U waarheid. Hernu die denke in my, versterk my hart en open my oë om U moontlikhede te sien. Soos U die man tussen die grafte bevry het, bevry my van alles wat my vasbind. Herstel wat gebreek is, rig reg wat sy pad verloor het, en herinner my daagliks dat U krag groter is as my omstandighede.
In Jesus se Naam, Amen.

Monday, 29 June 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Ontvang elke dag met 'n dankbare hart.

Hemelse Vader,
Ons bring vandag ons senior burgers met groot liefde en respek na U toe. Dankie vir hul lewenspad, hul wysheid en alles wat hulle vir ons beteken.
Here, ons bid dat U hulle daagliks sal omring met U vrede en liefde. Waar hulle dalk pyn of swakheid ervaar, bid ons vir genesing en verligting. Beskerm hulle teen eensaamheid en gee hulle 'n diepe wete dat hulle kosbaar en geliefd is.
Vul hul dae met vreugde, goeie gesondheid, en 'n versterkte geloof. Gee hulle die genade om elke dag met 'n dankbare hart te ontvang.
In die Naam van Jesus, Amen.

Monday, 22 June 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Psalm 71

Nou dat ek oud geword het
By U, Here, skuil ek,
laat my tog nooit
teleurgestel staan nie!
Red my en bevry my, want U is getrou.
Luister tog na my en help my!
Wees vir my 'n rots om na toe te vlug,
waar ek altyd die veiligheid mag vind
wat U tot my redding beskik het,
want U is my rots en my vesting.
My God, bevry my uit die hand van goddeloses,
uit die greep van skurke en verdrukkers,
want U, Here, U is my hoop,
op U, Here, het ek van jongs af vertrou.
U is my hulp van my geboorte af,
reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm.
U loof ek gedurigdeur.
Ek is vir baie 'n wonder,
want U is my veilige toevlug.
Ek besing u lof en u roem gedurigdeur.
Moet my tog nie verwerp nou dat ek oud geword het nie,
moet my tog nie alleen laat nou dat my kragte ingegee het nie.
My vyande sweer saam teen my,
dié wat my lewe soek, smee 'n komplot teen my.
Hulle sê: “God het hom alleen gelaat!
Agtervolg hom en gryp hom,
want daar is niemand om hom te red nie!”
Moet tog nie ver van my af bly nie, o God,
kom my tog gou te hulp, my God!
Laat dié wat my vals beskuldig,
self in die ellende beland en vernietig word.
Laat oor dié wat my ondergang soek,
net skande en mislukking kom.
Ek, ek sal gedurigdeur bly hoop,
ek sal U altyd weer loof.
Sonder ophou sal ek van u verlossingswerk,
van u reddingsdade bly praat,
want hulle is meer as wat ek kan tel.
Ek kom om u magtige dade te prys, Here my God,
die verlossingswerk wat net U kan doen.
U het my van jongs af onderrig, o God,
en ek getuig nou nog van u kragtige dade.
Nou dat ek oud en grys geword het,
moet U my tog nie alleen laat nie, o God,
dat ek nog aan die geslagte wat kom,
kan vertel van u werk en u mag.
U verlossingswerk, o God, is oneindig groot;
groot is die dinge wat U gedoen het!
Wie is soos U, o God?
U het talle benoude ervaringe oor my gebring,
maar elke keer weer my lewe gered,
my elke keer weer weggeruk uit die mag van die dood.
Herstel my tog in my eer, gee tog uitkoms!
Dan sal ek U met die harp loof vir u getrouheid, my God,
saam met die lier sal ek sing tot u eer, Heilige van Israel.
Ek sal jubel as ek tot u eer sing,
omdat U my gered het.
Ek sal die hele dag deur praat van u verlossingswerk,
want dié wat my ondergang soek,
staan teleurgestel in hulle verwagting;
hulle beland self in die ellende.

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983, 1992.

Monday, 15 June 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Vou elke bejaarde toe in liefde

Dankie, Here Jesus, dat ek nou saam met só baie ander kinders van U, elke bejaarde en geliefde kind van U kan oplig voor U.
Vader, ons gebed is vou hulle toe in U kosbare liefde, omgee, warmte in elke nood wat hulle voor U uitroep, o Here!!!
Ons bid U seën oor elke een van hulle, raak hulle aan met U salwing van genesing en krag, U hand van liefde, troos, nabyheid en hulp in die kosbare, pragtige Naam van Jesus Christus. AMEN

Monday, 8 June 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Efesiers 3:14-21

Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus, van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang, dat Hy aan ONS mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in ons harte kan woon, ons wat in die liefde gewortel en gegrond is, en ons in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat ons vervul kan word tot al die volheid van God.
En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen.

Monday, 1 June 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Dankie

Here ons God, 
Dankie vir hierdie dag van rus, van refleksie en aanbidding.
Dankie vir elke asemteug, elke seën, elke kans om U liefde te ervaar.
Ons nooi U, Heilige Gees, om nou ons harte aan te raak.
Laat U Woord diep in ons gees insink.
Laat dankbaarheid vandag nie net woorde wees nie, 
maar ’n leefwyse wat U Naam eer.
In Jesus Christus se Naam bid ons dit.
Amen.

Monday, 25 May 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Oggendgebed

By waterstrome
in die grys van die môrelig 
bring ek myself voor U, my God.
Gestroop van dit wat die wêreld van my weet.
Elke klein gedagtetjie is aan U bekend.
Al my drome lê mooi uitgepak.
Elke kommer het U eerste raak gesien.
Heer, stroop my van alle onsuiwerheid.
Gebruik my vandag tot U eer.
Laat my luister na die Heilge Gees wat my bewoon.
Help my onthou van hoe Jesus mense na U gelei het.
My Almagtige God en Vader, 
dankie vir die voorreg om te weet. 
Dankie vir elke seëning en U aanraking.
U ken elke fasset van my lewe.
U verstaan elke oortreding.
In hierdie grysoggend-uur is ek dankbaar.
U is in beheer van my lewe.
Laat U lig deur my skyn vir elke eensame siel daar buite.

Monday, 18 May 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Dankgebed

Hemelse Vader, ek dank U vir die kosbare Woord wat U in my lewe gespreek het. Dankie dat U Woord my rein maak en my hart suiwer, nie deur my eie werke nie, maar deur U genade en waarheid. Ek prys U, Here Jesus, dat U my nie verlaat nie, maar dat U beloof het om in my te bly soos ek in U bly.

Dankie dat U my verbind het aan Uself, die ware Wingerdstok, sodat ek nie uit my eie hoef te leef nie, maar deur U krag en lewe. Ek is dankbaar dat U my geroep het om vrug te dra, vrug wat getuig van geloof en liefde, en wat die Vader verheerlik.

Here, ek waardeer die sekerheid dat sonder U ek niks kan doen nie, want dit leer my nederigheid en afhanklikheid. Dankie dat U my nie losmaak wanneer ek swak is nie, maar dat U my vas hou en my versterk om steeds in U te bly.

Ek loof U vir die vrug wat U in my lewe voortbring - liefde, vrede, gehoorsaamheid en geloof – want dit is alles U werk in my. Mag my lewe altyd ’n dankoffer wees tot U eer.

In Jesus se Naam dank ek U, Here.
Amen.

Friday, 15 May 2026

Boodskap uit 'n koevert: Die eerste keer

Die geloof dan is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge waat ons nie sien nie. Hebreërs 11:1  

Bid en doen
Twee dogtertjies het op pad skool toe hul tyd effens verspeel en was bang dat hulle laat sou kom.
"Kom ons kniel en bid dat ons betyds moet wees," sê die een toe.
"Nee, " sê die ander een, "kom ons hardloop terwyl ons bid."

Ons behoort nie net te bid nie, maar in die geloof 
ook tot handeling oor te gaan,
 wanneer dit vir ons duidelik is wat om te doen

Die eerste keer
Georg Müller, die man wat 'n weeshuis in die geloof gestig het en met kinders en al volkome van God vir hulle daaglikse lewensonderhoud afhanklik was, het by geleentheid gesê: "As die Here my hierdie keer teleurstel, sal dit die eerste keer wees."

Monday, 11 May 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Gebed om geluk

Dierbare Vader,
My grootste begeerte is om gelukkig te wees.
Op materiële gebied probeer ek alles in my vermoë
om dit te vind, maar steeds ontwyk dit my.
Uit U Woord leer ek dat ware en
standhoudende geluk van binne kom;
uit die diepte van my gees en gemoed.
Help my om Christus as die middelpunt
van my lewe te kies en te lewe
volgens die voorskrifte van U Woord.
Help my om in alle omstandighede dankbaar te wees
en nooit negatief te dink of op te tree nie.
Gee dat ek my naaste sal liefhê soos myself,
hulle nood sal raaksien en altyd gewillig
sal wees om te help.
Leer my om gou te vergewe en stadig om te veroordeel.
Bly altyd by my, want slegs dán
is geluk binne my bereik.
Amen

[Solly Ozrovech]

Monday, 4 May 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Geen mens se lewe word gemeet aan sy jare hier op aarde

Vader, dankie dat ons elke oggend wanneer ons wakker word die dag met gebed kan begin. Hemelse Vader, gee dat ons sal besef geen mens se lewe word gemeet aan sy jare hier op aarde, maar aan dit wat hy vir ander doen, want daarin is ewigheidswaarde. Vader, lei ons asseblief deur u Heilige Gees om U beter te leer ken wanneer ons die Woord optel en lees. Help ons Here om die waarhede van die Bybelse boodskap te aanvaar en in ons lewe so toe te pas dat mense Jesus meer en meer in ons lewe sal sien. Vader, help ons om te onthou dat U altyd eerste in ons lewens moet kom en seën ons asseblief met wysheid en insig om so te lewe dat alles wat ons doen tot eer en verheerliking van u Naam sal wees, en ons dank U daarvoor. Amen. 

Monday, 27 April 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Seën ons hierdie week ...

Here, dankie, dat ons U instrument mag wees sodat U ons kan gebruik om 'n seën vir ons medemens te kan wees. Dankie vir U gees wat ons inspireer om ten volle te kan lewe.
Seën bid ons vir die week oor U kudde en elkeen wat op die lewenspad sal wandel.

Wednesday, 22 April 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Wat maak gebed so anders?

Jy hoef nooit 'n afspraak te maak nie, 
die lyn is nooit beset nie.
Daar is nooit te veel ander besoekers nie.
Die Hoorder is nooit te besig nie.
Hy is nooit uithuisig nie.
Hy stuur nooit vir jou weg nie.
Hy val jou nooit in die rede nie.
Hy luister nooit met 'n halwe oor nie.
Hy vergeet nooit 'n versoek nie.
Hy is nooit raadop nie.
Hy word nooit moeg nie.
Hy is nooit in 'n slegte bui nie.
Hy ag niks onbelangrik nie.
Hy vra nooit vergoeding nie.
Hy wag op ons.

[Dankie, Nerine, vir die aanstuur hiervan.]

Monday, 20 April 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Laat my nooit twyfel nie ...

HERE, wat 'n pragtige dag, na 'n wonderlike nag.
Skenk my die krag om alles te kan vermag wat hierdie dag van my verwag.
Skenk my geduld as ek vir iemand wag.
En as ek kwaad raak, hou my stemtoon sag.
Leer my om vir myself te lag, 
en 'n glimlag te deel eerder as om vir een te wag.
Maak my elke sekonde bewus van U Skepping se prag
En laat my nooit twyfel aan U Mag ... 
Amen.

Monday, 13 April 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Help my om dankbaar te lewe ...

Dierbare Here, U het my met soveel dinge geseën. Help my om in alle omstandighede dankbaar te wees, dankbaar te lewe en my seëninge te tel, in plaas daarvan om te tob oor dinge wat ek nié het nie. Amen

Monday, 6 April 2026

Op die vleuels van gebed

Sluit net jou oë, maak oop jou hart
En weg is jou kommer, jou pyn en jou smart.
Gee jou net oor, luister - wees stil.
laat Hy jou lei, berus in Sy wil.
En gaan ons gebuk onder laste wat knel,
Wat sal dit baat om gedurig te kwel?
Want as ons volhard en ons doen net ons bes
Dan neem God by ons oor en Hy doen die res
En word ons soms swak na liggaam en gees
'n Geopende deur sal altyd daar wees.
En dit is die deur van die Huis van Gebed
Waar God vir ons wag as ons Hom nodig het.
En ons vind daardie huis en ons vind ook die Heer
Waar ons kniel en stil in gebed verkeer.
Want God soek die hart gereinig en skoon  
En maak dit sy tempel om daarin te woon.
God hoor ons gebede en Hy antwoord beslis
As ons net in Sy Heilige wil berus.
En ons sorge en kommer - die laste wat kna
Word op kragtige vleuels van gebed weggedra.

[Helen Steiner Rice]

Monday, 30 March 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Prioritisering van my tyd

Dierbare Jesus, dankie vir die gawe van aanbidding saam met ander liefdevolle en ondersteunende gelowiges. Help my om my tyd saam met ander gelowiges te prioritiseer en ons lewens en geloof saam te deel. Versterk ons verbintenisse binne die liggaam van Christus en gebruik ons gemeenskap om mekaar aan te moedig en op te bou. Mag ons u liefde weerspieël en eer aan u naam bring. In u naam. Amen.

Monday, 23 March 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Help ons om te besef dat ons na u beeld geskep is

Skeppergod, U skep die aarde en alles daarop.
U skep alles in verhouding tot mekaar en U skep alles goed.
U skep man en vrou na u beeld en seën beide.
Help ons om u beeld te sien in hulle wat ly as slagoffers van geweld.
Help ons om die gesig van geweld te herken in ons midde veral as dit ’n gewoon-alledaagse masker dra.
Help ons om geweld teen te staan
en om slagoffers van geweld met menswaardigheid te hanteer.
Help ons om te besef dat ons na u beeld geskep is.
Help ons om in Jesus se voorbeeld te volg en om telkens te soek vir lewegewende alternatiewe tot geweld.
Help ons om geweld te beveg in die MIV en vigs-era
omdat dit voorkoming belemmer en effektiewe behandeling teenstaan.
Ons bid dit met vrymoedigheid in die naam van Jesus Christus.
Amen.

(Charlene vd Walt opgeneem in Woord & Fees 2013-2014, uitgegee deur BM)