Showing posts with label Grenadella. Show all posts
Showing posts with label Grenadella. Show all posts

Saturday, 19 April 2025

Die woord Passie - “Passion” (Deel 2)

In die 12e eeu is die woord gebruik vir die lyding van Jesus aan die kruis. Dit het die betekenis van om te ly, om te verduur, gehad. (suffering, enduring).

Later is dit gebruik om die Christelike martelare se toewyding waarmee hulle hul vervolging en lyding verduur het, te beskryf.

Later het die betekenis oorgegaan na entoesiastiese toewyding. As ons vandag sê jy doen ʼn ding met passie, doen jy dit met entoesiasme, met oorgawe, met baie liefde en met jou hele hart.

Hoe gebruik ons die woord passie vandag?

* Ons praat van die Passie Spele, bedoelende die uitbeelding van Jesus se lydensgeskiedenis, sy gevangeneming, veroordeling en kruisiging.

* Dan gebruik ons dit vir besondere liefde en toewyding aan ʼn saak wat jou na aan die hart lê.

* Natuurlik ook vir klein of kort treetjies.

* Die Engelse gebruik dit ook nog in “passion fruit.” As die kelner vra: “Wat wil julle drink?” en jy sê, “Passion fruit,” kry jy ‘n grenadelladrankie.

[Chris Erasmus]

Friday, 18 April 2025

'n Blom vir Paasfees: Christene vier hierdie naweek Paasfees (Deel 1)

Chris sê: "Ek vra een oggend vir iemand op straat wat Paasfees vir hom beteken. Hy sê hy weet Vrydag is ʼn vakansiedag en dis ʼn kerklike dag, maar hy weet nie eintlik wat dit beteken nie. Ons wat weet, moet vir hulle wat nie weet nie, vertel en verduidelik.

Maar hoe vertel mens kort en bondig die Paasverhaal?

Doen dit soos die Spaanse sendelinge dit al eeue gelede gedoen het.

Al wat jy nodig het is ‘n grenadellablom. Dis hoeka nou die tyd dat die grenadellas blom.

Spaanse sendelinge het dit jare gelede gebruik as hulpmiddel om die verhaal van Goeie Vrydag te vertel.

Die grenadella staan vandag bekend as “passion fruit”. Waar kom die “passion” in die grenadella vandaan? Woorde ondergaan met die jare verandering in betekenis. So is dit ook met die woord “passion” by die grenadella.

Kom ons gaan haal die storie heel aan die begin.

Laat in die 12e eeu het die Spaanse sendelinge in Suid-Amerika die wondermooi inheemse blom van die grenadella gesien. Hulle begin toe om die blom te gebruik om die verhaal van Jesus se lyding en kruisiging te vertel. Die lydensgeskiedenis van Jesus word in Engels die “Passion of Christ” genoem. As jy die lydensgeskiedenis, die “passion of Christ” en hierdie besondere blom by mekaar bring, kry jy “Passion Flower” en “Passion Fruit”.

Kyk mooi na die blom dan sien jy die verskillende elemente van Jesus se lydensverhaal in verskillende dele van die blom..

1. Die tien kroonblare verteenwoordig die 10 dissipels wat getrou was. (Petrus het sy Here verloën en Judas Iskariot het sy Here verraai. Daarom word hulle nie bygetel nie.)

2. Die helmdrade verteenwoordig die doringkroon wat Jesus gedra het.

3. Die vyf meeldrade herinner ons aan Christus se vyf wonde: twee spykerwonde in sy hande, twee in sy voete en die wond van die soldaat se spies in sy sy.

4. Die drie stempels verteenwoordig die drie spykers wat Jesus se liggaam aan die kruis gespyker het.

5. Die ranke het hulle laat dink aan die geseltoue (die geselsweep) waarmee Jesus geslaan was.

6. Die gelobde blare vertel die storie van die hande van die mense wat Jesus gevang en gefolter het.

7. Die pragtige blou en wit kleure verteenwoordig die Hemel en reinheid.

Hoekom het ons nie al lankal die grenadellablom die Paasblom genoem nie?

Paasfees is natuurlik meer as wat die grenadellablom ons vertel. Die Paasverhaal gaan verder as die doringkroon en die kruis. Dit gaan na die toe graf en dan na die oop graf - Jesus se opstanding uit die dood.

Mag jy 'n besondere geseënde Paasfees hê."

[Chris Erasmus]