Showing posts with label Kombuis. Show all posts
Showing posts with label Kombuis. Show all posts

Thursday, 9 July 2026

Ouma se wenke: 'n Dieetkundige se raad

Ek wil my as geen kenner uitgee nie, daarvoor is ek heeltemal te lief vir peusel. Maar elke keer as ek so lekker oortree, is daar so 'n waarskuwingstemmetjie wat my aanpraat. Dus is die volgende lysie vir myself en ek plaas dit hier, sodat ander my aanspreeklik kan hou oor my peuselgewoontes. 

* Die dieetkundige het my laat verstaan dat die meeste kosse in matigheid heel aanvaarbaar is.
* Ek mag nie maaltye oorslaan nie. Dis blykbaar 'n ou laai van ons wyse gryses om nie gereeld te eet nie en as jy boonop alleen bly, is dit te veel moeite om ordentlik kos te maak. (Gelukkig is die inwoners wat hulle nie oor kos hoef te bekommer nie.)
* Ontbyt is die belangrikste ete. (Hoeveel keer het ons dit nie vir ons kinders gesê nie?)
* Ontbyt speel 'n groot rol in energie en hoe ons gefokus deur die dag kan gaan.
* Gesonde peuselhappies kan goeie aanvullings tussen etes wees, maar dit vervang nie etes nie.
* Happies waaraan die dieetkundige gedink het, is vrugte, groente en neute.

Idioom: Moenie alles vir soetkoek opeet nie. 

Thursday, 2 July 2026

Ouma se wenke: Lief vir peusel? Maniere hoe om slimmer te peusel!

* Volgraanpeuselhappies kan jou van energie voorsien. 
Probeer volgraan-laesout-pretzels of tortilla-skyfies.
 
* Wat van laesuiker-granola as ʼn vinnige peuselhappie. 
Baie ontbytvoedsels kan later in die dag dien as ʼn voedsame peuselhappie. Kombineer ʼn klein hoeveelheid van iets met gesonde vet, soos grondboontjiebotter, met ʼn groter hoeveelheid van iets baie lig, soos appelskyfies.
 
* Neute en sade bevat baie goeie nutriënte en sal jou versadig laat voel. 
Ongesoute neute en sade is heerlike peuselhappies. Neute bevat egter baie kalorieë, so hou die porsies klein. Probeer om nie meer as een makro-nutriënt met elke peuselhappie te geniet nie. Byvoorbeeld, eet ʼn paar neute (proteïen en vet) en ʼn bietjie druiwe (koolhidrate).
 
* Moenie jou peuselhappie geniet, terwyl jy besig is met iets anders nie - soos om televisie te kyk, of by jou lessenaar te werk nie. Stop waarmee jy besig is vir ʼn paar minute en eet jou peuselhappie soos ʼn klein maaltyd.
 
* Dink vooruit en dra ʼn klein sakkie gesonde peuselhappies in jou sak sodat jy nie in desperaatheid jou toevlug neem na koekies of lekkergoedstafies in die winkel nie.
 
Gesonde peuselhappies kan jou gesondheid verbeter.
 
[Verwerk uit: 7 maniere om slimmer te peusel - WelstandWelstand (solidariteit.co.za)]

Thursday, 25 June 2026

Ouma se wenke: 'n Effektiewe dóg goedkoop raad om elektroliete terug te sit

'
n Eenvoudige, tuisgemaakte elektrolietmengsel (ook bekend as 'n rehidrasie-oplossing) vir 'n omgekrapte maag kan vinnig gemeng word om dehidrasie weens braking of diarre
e te voorkom. 

Bestanddele:
1 liter skoon, gekookte water (wat eers heeltemal afgekoel is)
6 tot 8 teelepels suiker
1 teelepel sout 

Metode:
Meng al die bestanddele in 'n skoon glas- of plastiekhouer en roer deeglik totdat die sout en suiker heeltemal opgelos is.

Wenke vir toediening:
Dosis: Neem klein slukkies van ongeveer 50 ml elke halfuur nadat jy gebraak het of 'n los stoelgang gehad het.
Berging: Bêre enige oorskietmengsel in die yskas en gooi dit na 24 uur weg.
Alternatiewe: As jy nie self wil meng nie, is kommersiële rehidrasiesakkies soos Rehydrate of Dioralyte by enige apteek in jou area beskikbaar.

Waarskuwing: Hierdie oplossing genees nie die oorsaak van die maagprobleem nie, maar help slegs met hidrasie. As simptome nie binne 24 tot 48 uur verbeter nie, moet jy 'n dokter raadpleeg.

[Idioom: Bitter in die mond, maak die maag gesond]

Thursday, 4 June 2026

Ouma se wenke: Wees lief vir jou hart

* Moenie rook nie.

* Beheer jou cholesterol.

* Beheer jou bloeddruk.

* Beheer jou diabetes.

* Wees fisies aktief.

* Behaal en handhaaf 'n gesonde gewig.

* Geniet 'n verskeidenheid voedsame kos.

* Sien om na jou geestesgesondheid.
(Transcare: derde uitgawe)
[Idioom: Hierdie wenke wil ek op jou hart druk!]

Thursday, 28 May 2026

Ouma se wenke: Bestuur beter

1. Wees vriendelik en hoflik teenoor ander bestuurders. (Soms moet 'n mens maar op jou tande kners - probeer nietemin!)

2. Stel veiligheid bo alles.

3. Besef dat jy 'n verantwoordelikheid het teenoor almal wat saam met jou in die kar is.

4. Bly kalm en ten alle tye waaksaam agter die stuurwiel.

5. Wees op jou hoede vir voetgangers, veral kinders.

6. Onthou dat tweewielvoertuie dieselfde regte as motors op die pad het.

7. Hou jou motor behoorlik in stand en laat hom gereeld met die oog op veiligheid nasien.

8. Moet nooit onder die invloed van alkohol bestuur nie.

9. Gehoorsaam alle verkeerswette.

[Ek sien so dikwels hoe mense vir mekaar vinger wys of ligte flikker en om alles te kroon, klim hulle graag op hul voertuig se toeter. Niks van hierdie aksies, gaan die situasie verbeter nie. Verdraagsaamheid is eintlik die wagwoord. As elkeen wat hier lees, probeer om meer agter die motor se stuur te glimlag en minder te toet, kan ons dalk ... net dalk 'n verandering sien. Hierdie onmoontlikheid verg dieselfde deursettingsvermoë wanneer 'n olifant geëet moet word ... happie vir happie.]      

Thursday, 21 May 2026

Ouma se wenke: Gee jou geheue 'n hupstoot

Die beste spyskaart om die geheue en breinfunksie 'n hupstoot te gee, en goeie bloedvloei na die brein te bevorder, is baie soos wat jy sal eet om jou hart te voed en te beskerm. 

* Eet gereeld groente
* Geniet bessies en kersies.
* Kry genoeg omega-3-vetsure
* Seekos
* Werk okkerneute in 

(Transcare: derde uitgawe)

[Idioom: Ons het almal die geheue van 'n olifant nodig!]

Thursday, 14 May 2026

Ouma se wenke: Neusbloei

Hieronder is stappe wat jy kan neem wanneer 'n persoon se neus bloei:

* Laat die persoon regop sit en effens vorentoe leun. Moenie die persoon laat lê nie en moenie die kop agtertoe laat hang nie.

* Gebruik jou duim en indeksvinger om die neus ferm net onder die been vas te knyp.

* Kyk op die horlosie om die drukking vir 5 minute aan te wend.

* As die bloeding na vyf minute aanhou, herhaal die proses.

* Indien die bloeding hierna aanhou, kry mediese sorg.
(Transcare: Derde uitgawe) 

[Idioom: Moenie jou neus optrek vir hierdie wenke nie.] 

Thursday, 16 April 2026

Ouma se wenke: Gesondheidsvoordele van piesangs

* Piesangs bevat 'n goeie hoeveelheid voordelige vesel, antioksidante, minerale en vitamiene.

* Piesangs word gewoonlik aanbeveel vir kinders wat ondervoed is. Dit is ook 'n gunsteling happie onder atlete vir energie in 'n kits. Dink net wat dit vir ons op ons jare kan beteken!

* Die vrug kan ook hardlywigheid verminder.

* Piesangs is 'n goeie bron van vitamiene B6 asook vitamiene C.

* Hierdie nederige vrug bevat ook vlakke van minerale soos koper, magnesium en mangaan. Magnesium is noodsaaklik om bene sterker te maak, terwyl koper 'n noodsaaklike element is in die produksie van rooibloedselle.

* Piesangs is ook 'n baie ryk bron van kalium. Kalium is 'n belangrike komponent van sel- en liggaamsvloeistowwe wat help om hartklop en bloeddruk te reguleer en die skadelike gevolge van natrium teen te werk.

Piesangs in enige vorm is heerlik. Onthou om daagliks 'n piesang in te sluit by jou peuselhappies ... lekker kan ook gesond wees. Heerlik om in jou handsak of skooltas te gooi - dis klaar verpak in sy eie "bakkie."  

[Idioom: Moenie 'n piesang vlak kyk nie.]

Thursday, 26 March 2026

Ouma se wenke: Skep gesonde gewoontes

* Gereelde oefening

* Gesonde kos

* Leef voluit

* Aanvaar nog steeds uitdagings

* Geniet die lewe

[Idioom: 'n Appel 'n dag laat die dokter wag.]

Thursday, 19 March 2026

Ouma se wenke: Eet versigtig

* Beperk kitskos, koekies, sjokolade, skyfies, vetterige en verwerkte vleis, lekkers en gebakte produkte.

* Vermy soet drankies. Dit versadig nie, maar kan gewigstoename veroorsaak.

* Kies minder souterige voedsel en gebruik minder sout by die huis ten einde hoë bloeddruk te verhoed.

* Vrugte en groente is gesonder opsies. 

[Idioom: Alles wat lekker is, is nie altyd gesond nie! Lekker eet!]

Thursday, 12 March 2026

Ouma se wenke: Geniet jou kos, maar probeer om 'n bietjie minder te eet

Ek gaan vandag 'n netelige onderwerp aanroer. Die enigste rede is omdat ek onlangs daarmee gekonfronteer is. Ek gaan dit oor die volgende paar weke versprei.

* Eet gaan daaroor om ervarings en goeie kos te deel.

* Te veel eet kan tot gewigstoename, diabetes en hartsiekte lei.

* Verminder die porsiegrootte van vetterige, styselagtige en soet voedsel as jy oorgewig is.

* Mik vir 'n gebalanseerde bord: 'n kwart proteïne, 'n kwart stysel en die helfte groente en vrugte.  

Thursday, 5 March 2026

Ouma se wenke: Vlekke (sweet)

Met die hitte wat daagliks elke druppel sweet uit ons pers, moet ons aandag gee aan die sweetvlekke. Dit is nie nodig om moedeloos te raak oor perspirasievlekke op kledingstukke nie. Hier is 'n paar moontlike oplossings.

* Gebruik sommer die wasbak en week die kledingstuk in vuurwarm water en 'n koppie wit asyn. Gebruik 'n houtlepel om dit nou en dan om te roer. Week dit vir 1 uur en was dan soos gewoonlik.

* Hardnekkige sweetvlekke op wit klere kan ook met aspirien verwyder word. Los twee aspirientablette op in warm water en week die vlek daarin vir 'n paar uur. Was dan soos normaal.

* 'n Alternatief is om bloot 'n koppie asyn by die spoelsiklus van jou wasgoed te gooi. Dit moet egter net by koue water gevoeg word. 

*Asyn is ook 'n goedkoop alternatief vir 'n versagmiddel.

* Nog raad vir vlekke op klere is om 'n pasta met bakpoeier en water te maak en dit op die vlek te los vir 1 uur. Was dan soos gewoonlik.

[Idioom: Gelukkig is dit nie nodig om in koue sweet uit te slaan oor die sweetvlekke nie!]

Thursday, 19 February 2026

Ouma se wenke: Geel vlekke op klere en stoele

* Hardnekkige sweetvlekke op wit kledingstukke: Meng een deel water met vier dele waspoeier en smeer dit aan die plekke (aan die binnekant van die klere). Laat dit vir een uur staan en borsel dan liggies. Spoel die kledingstuk skoon met koue water. Week dit dan oornag in koue water gemeng met vier eetlepels waspoeier. Was dan soos normaalweg.

* Geel sweetvlekke op wit klere: Meng een deel Sunlight liquid of Handy Andy met een deel Hydrogene Peroxide Solution 30%. Gooi oor vlekke en laat staan vir ‘n uur. Vir hardnekkige vlekke kan 2 eetlepels koeksoda bygevoeg word en liggies gevryf word. Was normaal. Die kolle behoort te verdwyn!

* Geel vlekke op tuinstoele: Wend die volgende pasta aan op wit plastiek stoele wat geel vlekke vertoon: 1 e kremetart op 100 ml bleikmiddel. Laat staan vir sowat 10 minute en spoel dan met skoon water af.

[Idioom: Moenie 'n emmer koue water oor hierdie planne uitgooi nie!]

Thursday, 12 February 2026

Ouma se wenke: Vlekke

* Handdoeke: Om vlekke op 'n handdoek te verwyder, vryf vlek met 'n bietjie Dettol.

* Handdoeke wat hard uit die was kom - veral as water brak is - kan saggemaak word deur die handdoeke in warm water met seep en ongeveer 'n handvol opgelosde sout te gooi. Moet nie 'n versagmiddel gebruik nie. Spoel die seep goed uit. Spoel weer, maar gooi so 2 eetlepels wit asyn in die laaste uitspoelwater.

* Bly weg van versagmiddel wanneer jy handdoeke was. Dit het 'n oliebasis en bou op. Pleks van versagmiddel kan jy 'n koppie wit asyn gebruik.

* Was met growwe sout, en spoel met asyn

* Koeksoda is 'n goeie vlekverwyderaar en sal die meeste vlekke van jou handdoeke verwyder.

[Idioom: Moenie die handdoek ingooi oor hardnekkige vlekke op die handdoeke nie.]

Thursday, 5 February 2026

Ouma se wenke: Inkvlekke

* Ink: Gebruik brandspiritus, alkohol of haarspoei om die ink van 'n balpuntpen te verwyder. Sit die gevlekte materiaal op 'n droë stuk watte. Deurweek nog 'n stuk watte met brandspiritus of bensien en dep dit aan die vlek. Herhaal met 'n skoon stukkie watte tot die vlek uit is. Spuit haarsproei aan die vlek en dep met skoon stukkies watte.

* Gebruik naellakverwyderaar om viltpenmerke van jou vel te verwyder.

* Ink uit tapyte te haal: Neem karringmelk en 'n skoon lap. Gooi karringmelk op die ink en druk op met die lap totdat die ink uit is. Was dan die plek met warm water en ammoniak.

* Merkersink: Ink waarmee goedere gemerk is, kan afgehaal word deur dit met 'n papierhanddoek wat in alkohol gedoop is, te vryf

* Om ink van 'n balpuntpen uit klere te haal: Drup Lennons Witdulsies op die merk en was soos gewoonlik. Strooi dadelik sout oor ink wat op wit materiaal gemors is, vryf met 'n suurlemoen daaroor. Spoel die materiaal dan dadelik af en was soos gewoonlik.

[Idioom: Al die bruikbare oplossings het my hart sommer week gemaak!]

Thursday, 22 January 2026

Ouma se wenke: Moontlike maniere hoe om kougom te verwyder

* Verwyder kougom uit jou klere om die taai kol met grondboonbotter te smeer. Die olierigheid en so werk te mooi saam om die taaiheid uit te kry. So 'n klein bietjie vryf en alles is uit.

* Vryf 'n ysblokkie daaroor sodat dit kan hard word en trek af. As dit 'n vlek los, druk 'n bietjie bloekomolie of terpentyn op. Dis geskik vir vloere, matte, teëls en materiaal.

* Om kougom van klere te verwyder, plaas die kledingstuk in 'n plastieksak in die yskas. Krap dan net later die bevrore kougom af.


[Idioom: Dis nie nodig om klippe te kou as jy 'n koutjie kougom uit 
'n kledingstuk wil verwyder nie.]

Thursday, 18 December 2025

Ouma se wenke: Koperware

Hier is 'n paar moontlikhede wat ek vir julle opgesom het: 
* Vryf koper blink met stukke suurlemoen wat in sout gedoop is.

* Om koperware maklik skoon te maak, voeg net een teelepel wynsteensuur by ‘n emmer water en week die ornamente daarin.

* Poets koper mooi blink met sout en asyn.

* Gooi’n pakkie wynsteensuur en Sunlight-skottelgoedseep in ‘n emmer met warm water. Week die koper daarin vir `n paar uur. Haal uit en vryf droog. Die oplossing dring in al die hoekies en gleufies in en laat die koper pragtig nuut lyk!

Meng:
💪1 liter warm water
💪3 eetlepels Sunlight Liquid
💪2 eetlepels Wynsteensuur (Tartaric Acid)
💪Was artikels daarin, spoel af met skoon warm water en vryf op - dit maak die ware pragtig skoon en bly lank blink.
OF

💪Meng 5 ml sout met ‘n koppie asyn en roer dan meel by tot dit ‘n pasta vorm. Smeer die pasta aan die koper en laat vir 15 minute staan. Spoel af met warm water en vryf droog.

Dis goud wat blink maar koper wat stink.

Thursday, 11 December 2025

Ouma se wenke: Eierwenke - plaasvervanger vir eiers

In my jongdae was eiers altyd beskikbaar en beslis baie goedkoper as deesdae. Intussen het ek so in die wandelgange gehoor wat as plaasvervangers vir eiers gebruik kan word. Toets en besluit maar self watter een die beste vir jou werk.

Die volgende moontlikhede vervang een eier: (Geskik vir gebak, bv. koeke, skons, kolwyntjies ens.)
* Asyn (wit of appelasyn) en koeksoda: Een teelepel koeksoda saam met een eetlepel asyn, vervang een eier in gebak.
* 'n Halwe fyngedrukte piesang
* 'n Kwart koppie olie
* 'n Kwart koppie yogurt
* 2 eetlepels water gemeng met 1 eetlepel olie en 2 eetlepels bakpoeier. Meng goed saam voordat dit by die resep gevoeg word.
'n Halwe eier is altyd beter as 'n leë dop!

Thursday, 4 December 2025

Ouma se wenke: Eierslim

* Hoe weet jy of 'n eier vars is of nie?
👉 ‘n Vars eier sal op sy sy lê op die bodem van ‘n kastrol met water, terwyl ‘n slegte eier bo sal dryf.

* Hoe tel jy 'n gebreekte eier van die vloer af op?
👉Sprinkel sout oor die eier. Los dit vir ongeveer 20 minute. Dit sal maklik opvee.

* Hoe kan daar onderskei word tussen ’n hardgekookte en ’n rou eier?
👉 Spin die eiers op ’n gladde oppervlakte. Die hardgekookte eier sal vinnig ronddraai terwyl die rou eier nie wil roer nie.
👉 Die eiers kan ook versigtig oor 'n tafeloppervlakte gerol word. Die gekookte eiers sal goed rol, terwyl die ongekookte eiers rukkerig sal rol.
Dis maklik gesê, maar die eend lê die eier.

Thursday, 27 November 2025

Ouma se wenke: Gekookte eiers

* Voeg koeksoda by die water waarin eiers gekook word, en die dop sal nie vassit as jy dit afdop nie.
* Voeg 'n bietjie asyn by die water om te keer dat eiers bars wanneer jy dit kook. (‘n Teelepel in die kastrol het dieselfde resultaat.)
* ‘n Gekraakte eier kan nog steeds gekook word as jy die kraak met botter verseël.
* As jy ‘n gekookte eier se dop oopgesny het en dis nog te rou na jou sin, plaas die afgesnyde deel terug en bedek die hele eier met kleefplastiek. Sit dit terug in die kookwater en kook dit verder.
* Dop 'n gekookte eier dadelik af. Dit verhoed dat ‘n swart ring om die eiergeel vorm.
* Sny hardgekookte eiers deur met 'n mes wat in water gedoop is en die eiergele sal nie breek nie. 
Ek gaan volgende week weer 'n eiertjie lê.