Wednesday 30 June 2021

HOEKOM GLO EK?

Ek het Hom nodig ...

So hier is my antwoord:

Ek glo in God, want partykeer is die wêreld so "awesome" en dinge werk so goed uit dat my siel uitroep vir iemand om voor dankie te sê.
Dan is dit Hy!

Ek glo in God, want soms is die berge en die sonsondergang en die wolke en die maan so mooi dat ek iemand nodig het om te prys.

Iemand moes dit gemaak het.
Dis Hy!

Ek glo in God, want partykeer gebeur goed wat so onbeplan is en so seermaak. En dan voel dit of niemand verstaan nie, maar dan onthou ek die spykers in Sy hande en die Man aan die kruis.
Dan weet ek Iemand huil saam met my.
Dis Hy!

Ek glo in God, want partykeer is ek so deurmekaar en die lewe so sinneloos en my drome lyk onbereikbaar en dan het ek iemand nodig om saam met my die pad te stap en rigting te wys.
Dan is Hy daar!

Ek glo in God, want partykeer is ek so dom en ek doen sulke "stupid" goed en sonde mors my hart en my lewe so op en maak ander so seer
En dan het ek nodig dat Iemand vrede en wysheid bring
Dan is Hy daar!

Hy maak heel wat ek self verbrou het!
Hy bring genade, selfs in seer wat ekself veroorsaak het!

Ek glo in God, want partykeer weet ek niks. Ek het leiding en wysheid nodig in 'n deurmekaar wêreld wat ek nie verstaan nie.
En Dan skryf Hy vir my in die Bybel en ek lees Sy Woord en hoor Sy stem en dinge maak weer sin!
Ek glo in God, in Jesus, in sy Gees, want Hy's daar!

Heeltyd! Altyd!

In alles waardeur ek gaan en maak nie saak hoeveel keer ek dieselfde fout maak nie. Hy is daar!
Ek glo in God, want ek sien nie kans om ooit alleen te wees of enigiets alleen te doen nie.

Tuesday 29 June 2021

Noag ...

Ek en Noag stoei baie met mekaar, Here. Wanneer ek so deur my lewe stap, dan wonder ek oor Noag.  Sy storm het anders gelyk as die storms wat ek elke dag sien. Sy storm was wind en reën en vloede.  Sy storm het gedreig om almal te verdrink.  Almal kon sy storm sien.

Die storms wat ek elke dag sien, lyk anders, Here. Dit kruip weg in mense se harte en huise, waar amper niemand dit kan sien nie.  Dit is 'n mamma wat huil oor haar kind. 'n Huwelik wat net nie meer wil werk nie. Oë wat donker geword het, want depressie het al U Lig gesteel. Dit is bangwees vir finansies wat nie meer wil klop nie. Dit is kwaadwees vir hulle wat ons seergemaak het. Dit kruip weg in 'n virus wat alles om my, verander. Dit prewel stil agter 'n masker. Dit huil wanneer ons 'n harts-mens moet begrawe.

Die storms wat ons elke dag ervaar, lyk anders as Noag s'n Here. Sy storm het gereën en gehael en gewaai. Ons storms kruip diep binne-in ons harte weg. Dit maak dat ons nie meer deel voel van die lewe om ons nie. Dit maak ons alleen. Dit maak dat ons oë nie meer saam met ons mond wil glimlag nie. Dit maak dat ons party dae sukkel om aan te gaan.

Ons storm is anders as Noag s'n. Maar U is nog dieselfde, né Here? U liefde is die Ark waarnatoe ons kan hardloop as die reën begin val. U liefde hou ons veilig wanneer dit voel asof alles om en in ons uitmekaar val.  

U liefde sê: "Kom na My toe, as jou storm te groot raak. Kom na My toe as die alleenwees en hartseer jou wil oorweldig. Ek is die Ark wat jou veilig hou. Ek is die Ark wat jou toevou en dra teen die stormwinde wat jou wil omwaai. Kom kruip weg hier by my ... hier in My.  Ek wil jou hart weer rus gee."

Ek sukkel om soos Noag te glo, Here. Ek sukkel partydae om U Ark raak te sien en daarin weg te kruip. U weet dit, né Here? U weet van my alleen-baklei teen dit wat my bangmaak. U weet van al die kere wat U so ver voel. Dankie dat U my op daardie dae kom haal, my optel en dra na U Ark toe. Dankie dat U my op daardie dae, wanneer ek koud en natgereën buitekant dwaal, bring na die warmte van U liefde.  

Dankie vir die deernis waarmee U my versorg, en troos, en vashou en sterk maak.  

Amen

[Dankie, Jaco van Wyk wat hierdie gebed met ons deel.]

Bankbesonderhede



Wednesday 23 June 2021

Sunday 20 June 2021

Vadersdag: Wat is 'n pa?

Uit: NND/Kitsnuus 30 April 1999
Wat is 'n pa? 'n Onmisbare ding - iemand om gewaardeer te word.

Eendag was daar 'n seuntjie.
Die tweede woord wat hy kon sê, was "Pappa."
So teen twee jaar oud, was iemand gereeld nodig om 'n bal van die dak af te haal, of 'n kwaai hond te verdryf. Dan het hy hard geroep: "Pappa!"
Teen vier jaar het maats hom begin boelie, maar hy kon iemand roep om hom te help. Dit was: "Pappa!"
So op ses of sewe het ek hom hoor sê: "My pa is sterker as Tarzan."
So twaalf-dertien was sy getrouste ondersteuner langs die sportveld: "My pa is my beste pêl."
Teen sestien, het die hakskene begin rooi kleur. As hy 'n bietjie raad of 'n sakgeldjie nodig gehad het, het hy gesê: "Laat ek die Outoppie 'n bietjie scheme."
Teen een en twintig, derdejaar op universiteit, het hy by verskeie geleenthede vir die tjommies gesê: "Ek verstaan nie die Ouballie nie. G'n mens kan met hom 'n diskussie voer nie."
Op ses en twintig het hy vir die bruidjie gesê: "Moenie worrie nie, my pa sal ons miskien, net miskien kan help."
Op dertig het hy vir vroulief gesê: "Kom ons gaan vra my pa."
Op ses en dertig, toe die lewe begin taai raak en die kinders begin veeleisend raak, het hy by geleentheid vir sy vroutjie gesê: "As my pa nog geleef het, was die oplossings naby." 

Happy Father's Day!


Thursday 17 June 2021

Monday 14 June 2021

Sunday 6 June 2021

Om op water te loop (3)


Petrus het ontdek dat om te sink nie beteken dat jy al verdrink het nie. Hier volg twee redes vir die stelling. Eerstens, om nie te slaag nie, maak nie van jou 'n mislukking nie, tou opgooi wel. Misluk is deel van die leerproses.

Sir Edmund Hillary het vele mislukte pogings aangewend voordat hy uiteindelik daarin geslaag het om Berg Everest uit te klim. Na een mislukte poging het hy volgens oorlewering aan die voet van die berg sy vuis uitdagend gebal en geskreeu, 'Ek sal jou uiteindelik oorwin! Jy kan nie groter word nie, maar ek groei steeds!' Hy het uit elke mislukte poging geleer totdat hy suksesvol was.

Winston Churchill se mening was: 'Ek het nog nooit met enigiets misluk nie. Ek het eenvoudig nog 'n kans gekry om dit reg te kry.' Dit is 'n oorwinnaarsgees!

Tweedens, die eintlike mislukkings was diegene wat in die skuit agtergebly het. Hulle mislukking is nie raakgesien of gekritiseer nie. Hoewel Petrus openlik gefaal het, het hy ook die euforie om op die water te loop, ervaar. Slegs hy kon weet hoe dit voel om deur God se bemagtiging iets te doen wat jy nooit op jou eie sou regkry nie. As jy een maal op die water geloop het, is jy nooit weer dieselfde nie.

Petrus het die vreugde gesmaak om in 'n wanhoopsoomblik deur Jesus gegryp te word. Petrus het geweet dat Jesus hom sou red, sou hy sink. Hy het 'n oomblik gedeel, 'n verbintenis, 'n vertroue wat die ander nie beskore was nie - hulle het in die skuit gebly! Sink is nie gelyk aan mislukking nie, jou vrees toelaat om jou te kelder, is wel.

As jou blare afval ...

Dit raak winter en ons sien daagliks hoe kaal die bome begin raak. Alles wat eers groen was se blare begin verkleur na geel, ander rooi en dan sien jy hoe die grond daarmee ingekleur word. Dan een oggend as jy opstaan is alles dood en kaal. Ons dink dalk dit is kaal en dood, maar eintlik gaan alles net in 'n rusperiode. Dieselfde gras wat doodgeryp het, of die boom, sal oor 'n paar maande nuwe blare begin uitstoot. Die gras sal weer groei. Bome sal begin vrugte dra en die wêreld sal van vaal na groen verander. Die wegkruip in jou huis, sal plek maak vir uitgaan en in jou tuin gaan wandel. Of die wat gelukkig is, sal langs die strand gaan stap. Die donker tye wat verby gaan en plek maak vir opgewondheid en lag.

Jou lewe kan dalk nou in somer wees, maar ongelukkig kan koue enige tyd intree. 

Tye wat sy tol op jou lewe eis. Dalk is dit tye van hartseer, of tye van alleen wees. Ons almal is nie altyd so gelukkig om net somer te hê nie. Alles raak dalk vaal en al wat jy sien is die dooie takke en dor lande. Jy wil jou kop onder die komberse wegsteek en in jou kamer bly. Tog is hierdie nie die einde nie. Jy is in 'n rusperiode. 

Jy voel dalk dit sal nooit beter raak nie. Ons bid tog wanneer dit swaar gaan of wanneer dit nie reën nie. Dalk wag ons 6 maande of 7 jaar, God slaap nie. God sal die reën en groei bring, solank ons aan Hom vashou. Vertrou op Hom, Hy sal jou krag gee. Hy sal jou versterk. Eer en vertrou Hom.

Jes. 40: 29-31
"Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie."

Psalm 50: 15
"Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.”
Jacques Barnard 15/05/2021

[Gaan besoek gerus hierdie FB vir inspirasie.]

Saturday 5 June 2021

TOE IS DIT WINTER ...

Ek het dit eers vinnig gelees, tot ek by die derde sin gekom het ... Ek het opgehou en weer voor begin lees, maar dié keer stadiger - dit laat jou regtig stop en dink ... 

Jy weet ... tyd het 'n manier om vinnig te loop en jou onverhoeds te betrap sonder dat jy aan die verbygaande jare dink. Dit voel soos net gister wat ek jonk was. Tog, op 'n manier, voel dit soos 'n leeftyd gelede en ek wonder waar al die jare heen is. Ek weet dat ek almal geleef het, ek kry terugflitse van hoe dit tóé was, en ook van al my hoop en drome.

Maar hier is dit ... die winter van my lewe, en ek is verras ... hoe het ek so gou hier gekom? Waar is die jare heen, en wat het van my jeug geword? Ek onthou so goed hoe ek deur die jare na ouer mense gekyk en gedink het dat ek baie jare agter daardie ouer mense is, ... en dat die winter so ver weg was ... dat ek myself nie kon indink hoe dit moes wees nie.

Maar ... hier is dit ... my vriende word grys, en tree af ... hulle beweeg stadiger ... en ek sien nou ouer mense. Sommige lyk beter en ander slegter as ek ... maar, ek sien die groot verandering. Nie meer dié wat ek onthou wat jonk en lewenslustig was nie ... maar, soos ek, begin hulle ouderdom wys en óns is nou daardie ouer mense wat ek gesien, maar nooit gedink het ek ook sal word nie. Nou vind ek dat net om in die stort te klim 'n regte prestasie vir die dag is. En 'n middagslapie is nie meer 'n bederfie nie, maar 'n vereiste! Want as ek dit nie uit my eie vrye wil doen nie ... raak ek bloot aan die slaap net daar waar ek sit!

En so betree ek n nuwe seisoen van my lewe ... onvoorbereid op al die skete en kwale, en die verlies van krag en die vermoë om te gaan doen wat ek nog altyd wou, maar nooit het nie! Maar ten minste weet ek, hoewel my winter gekom het, ek nie seker is hoe lank dit sal duur nie ... weet ek dat, wanneer dit hier op aarde verby is, is dit verby ... 'n nuwe avontuur sal begin!

Ja, ek het verwyte, en ek is jammer oor dinge wat ek wens ek nie gedoen het nie, dinge wat ek moes gedoen het, en baie dinge wat ek gedoen het waaroor ek bly is. Dit is alles deel van 'n leeftyd.

So, as jy nog nie in die winter van jou lewe is nie, laat ek jou herinner dat dit vinniger hier sal wees as wat jy dink. So, wat jy ookal graag in jou lewe wil bereik, doen dit asseblief gou! Moenie dinge te lank uitstel nie! Die lewe gaan gou verby. Doen vandag wat jy kan, want jy kan nooit seker wees of hierdie jou winter is of nie! Jy het geen belofte dat jy al die seisoene van jou lewe gaan sien nie, so leef vir vandag en sê vir jou geliefdes al die dinge wat jy wil hê hulle moet onthou ... en hoop dat hulle jou waardeer en liefhet vir al die dinge wat jy vir hulle in jou leeftyd gedoen het!

Die lewe is 'n geskenk aan jou, en die manier waarop jy jou lewe leef, is 'n geskenk aan dié met wie jy dit deel. Leef goed! Leef voluit! Geniet vandag, élke dag! Doen iets wat jy geniet! Wees lief vir ander! Déél wat jy het, moenie net daarmee "brag" nie.

Goeie gesóndheid is ware rykdom, nie goud en silwer nie.

Vriendskap met familie en vriende is rykdom. As julle om watter rede ookal uitmekaar gedryf het, vergewe en vergeet ... leef vorentoe en nie in die verlede nie, want môre mag dalk nooit aanbreek nie!

Vandag is die oudste wat jy  nóg was en tog ook die jongste wat jy ooit sal wees - so, geniet hierdie dag vir solank dit duur!

Jou kinders is goed ... maar jou kleinkinders is volmaak!

Om uit te gaan is goed, maar om by die huis terug te kom is beter!

Jy vergeet name ... maar dis okay, want daar is mense wat vergeet dat hulle jou ooit geken het!

Die dinge wat jy altyd graag gedoen het, doen jy nie meer nie, maar jy dink nogal daaraan dat jy nie regtig meer omgee dat jy dit nie meer doen nie ...

Jy slaap beter in n leunstoel voor die blêrende TV as in jou bed ...

Jy mis daardie dae toe alles met net 'n AAN- of AF-skakelaar gewerk het ...

Jy is geneig om meer kort woordsinne te gebruik soos "waar?" "hoesê?" ...

Noudat jy duur juwele kan bekostig, is dit nie veilig om dit enigiewers te dra nie ...

Jy merk dat alles wat in winkels verkoop word, is "mouloos" ...

Wat altyd sproetjies was, is nou "lewervlekke" ...

Jy het 3 groottes klere in jou hangkas ... 2 waarvan jy nooit sal dra nie ...

Maar OUD is goed in sommige dinge: OU liedjies, OU flieks, en beste van alles ... OU VRIENDE!!!

Mooi bly, my OU VRIEND(IN)...!

Stuur hierdie aan OU VRIENDE ... dit is nie dit wat jy bymekaarmaak nie, maar dit wat jy uitdeel wat vertel van die soort lewe wat jy geleef het!

[Dankie, Babsie Swanepoel wat hierdie ongelooflike stukkie met ons deel.] 

Wednesday 2 June 2021