Showing posts with label Nuwejaarswense. Show all posts
Showing posts with label Nuwejaarswense. Show all posts

Thursday, 1 January 2026

'n Geseënde 2026 vir elkeen


Maak 2026 die jaar waarin jy jou vriendskapsbande in die oord gaan verstewig. Dit is ook ‘n goeie tyd om oor ou herinneringe te gesels terwyl jy poog om meer te skep. Geniet elke dag ten volle en bid vir die inwoners van die ouetehuise en die land.

Wednesday, 1 January 2025

'n Geseënde 2025 vir elke inwoner

Oor alle eeue staan Sy Woord as waarheid vas! Mag die Woord ook in 2025 vir jou die Woord van lewe, hoop, krag en inspirasie wees. 

Mag die Woord dag vir dag die rigtingwyser vir jou lewe wees. En mag jy, wanneer jy die Woord lees of hoor, die Here self ontmoet, miskien nie vir die eerste keer nie, maar by herhaling. Hy wat in en deur sy Woord aan die woord is. 

Seën vir 2025!

Monday, 1 January 2024

Dankie aan elkeen wat my pad makliker maak


Baie dankie aan elke personeellid vir julle liefde, omgee, ondersteuning en positiwiteit wat so onvoorwaardelik aan ons as inwoners gegee word. Dankie dat julle 2023 die pad saam met ons geloop het. 2024 gaan sy eie unieke uitdagings hê - baie sterkte.

'n Ekstra dankie vir die personeel van die kombuis wat elke ete met ‘n glimlag op hulle gesigte die lekker kos aandra en bereid is om te help waar en indien nodig. Ons wys nie altyd dat ons julle waardeer nie, maar weet maar, dis heerlik om nie groente te skil of skottelgoed te was nie. Ons het ons hande die spreekwoordelike saligheid belowe. En daarom moet ons julle meer waardeer.

Ook die personeel van die wassery wat op een of ander manier amper altyd die regte wasgoed, by die regte eienaars, skoon terug besorg. Dankie dat julle die blou Maandag vuil wasgoed wegwerk en aan ons deure kom klop met 'n bondel skoon en vars wasgoed. Dankie dat julle dit vir ons maklik maak om altyd skoon klere in die kas te hê.

2024-wense

Ek het die oujaar gelos,
agter die murasie by die bloekombos
waar rooi papawers oopmond blom,
in die laaste strale van die somerson.
Ek pak vir jou en my 'n tas -
vir die Nuwe Jaar
'n tas wat pas:
Vir Winter; 
Mirre, Goud en Wierook
sodat jy ook,
die son se warm strale
sag mildelik oor jou vel voel gloed.
Ek breek vir ons 'n plaasbrood
ek skink ons kelkies boepens vol;
robynrooi wyn,
vir jou en my,
op vriende en samesyn.
Ek salf jou;
laventel, katjiepiering en jasmyn
en kis jou seerkry woorde
en jou pyn.
Ek pak vir ons reis,
padkos om te deel - 
pannekoek met kaneel,
sodat jy jou verlede los
en liefwees proe en weet
ek sal jou nooit vergeet.
Ek knoop jou naam
in 'n borsruikertjie saam
en skryf dit tussen sterre
in die melkwegraam.
Ek kneus 'n suurlemoen se blaar
sodat jy die reuk 
van oor en nuut,
begin ervaar:
Mag jou voete
nooit die pad verloor
en op jou nuwe roete,
jou oë altyd
bly hoop.
Mag jou skewe paaie reguit loop
en jou mondhoeke
altyd lag.
Ja kyk, môre is 'n nuwe dag!
Ek pen 'n koesterwoord
hier op my hart se dun papier:
Vir jou -
Mag jy vrede vind
in jou olyfboord,
Kaalvoetkind,
Koningskind.
Ek wens jou vroeë purper reën
en God se rykste seën.
Mag jy liefde vind
en jou swaeltjies
altyd terugkeer ~
weer en weer,
na die somer hier.
Mag jy altyd onthou
die Kaapse berge se poeierblou.
Mag jy bly dans
as musiek begin speel
en jou Nuwejaarskans
in genade en vreugde uitdeel.
Mag my woorde vlerke kry,
ek woordtowenaar.is 
Laat jou gebede hoog vlieg 
en vry ...
Mag die Nuwe Jaar
net vrede, vreugde en liefde baar,
vir jou en my,
en vir mekaar.
My 2024 wens vir jou
gestrik,
in satynrooi lint -
met liefde vas gebind

[Dankie, Esta, dat jy hierdie besondere wense met ons deel.]

Kan een van die lesers asb. laat weet wie die digter/skrywer is, sodat daar erkenning aan hierdie woordwerk verleen kan word.

Nuwejaarsvoorneme

Hoe kan ek hierdie jaar positief en met vreugde lewe, terwyl alles om my inmekaarval? 

Ek sal dankie sê met LIEFDE en ek sal dankie sê met VREUGDE.
Ek sal dankie sê vir WYSHEID en ek sal dankie sê met VREDE.
Ek sal my dankie SING,
ek sal my dankie UITSPREEK.
Ek sal my my dankie UITROEP en ek sal my dankie BID.
Ek sal my dankie met PSALMS sê,
ek sal my dankie met LIEDERE sê.
Ek sal my DANKBAARHEID gee.
Ek sal my DANKIES diep in my wese OPGAAR.
Hoe sal ek my Dankbaarheid gee?
Ek sal my DANKBAARHEID LEWE.
365 dae om dankbaar te lewe!

[Dankie, Estelle, vir die deel van hierdie voorneme.]

Nuwejaarswense

Hold on to what is good
even if it is a handful of earth.
Hold on to what you believe
even if it is a tree which stands by itself.
Hold on to what you must do
even if it is a long way from here. 
[Traditional Tewa]

Met hierdie tradisionele Tewa-spreuk, word die hoop uitgespreek dat die nuwe jaar vol beloftes, seën, en oorbrugbare uitdagings sal wees. Dat probleme as geleenthede gesien sal word en dat elkeen deur die nuwe jaar geïnspireer sal word, om die pad met vreugde te stap. 'n Geseënde nuwe jaar.

'n Nuwejaarswens vir al die inwoners

God is die Voorsiener van vrede, vreugde en voorspoed.
Mag jou oë altyd in hierdie nuwe jaar oop wees om elke dag se klein bederfies raak te sien.
My nuwejaarwens is 'n daaglikse wandeling met God.

Sunday, 15 January 2023

Gedagte vir die week: Nuwejaarswense

Ons is so halfpad deur die eerste maand van 2023. Sommige mense handhaaf nog dieselfde tempo as in 2022, party het 'n blaaskans gevat en ander het besluit om rustiger te wees. Van hulle wat die pas markeer het, het oor al die wense vir die nuwe jaar gedink.

Dankie vir A Esterhuyse vir hierdie waarneming ...  

Baie nuwejaarswense verwag van ons Job se geduld, Salomo se wysheid en Paulus se ywer. Kom ons vermy en skram weg van Eva se ongehoorsaamheid, Kain se jaloesie en bloedlus, Noag se dronkenskap, Jakob se skelmstreke, Aäron se afgodsverleiding, Jona se opdragontduiking, Simson se brandstigting, Saul se haatdraendheid, Dawid se wellustigheid en beplande moord, Herodus se kindermishandeling, Judas se geldgierigheid, Petrus se waarheidsontkenning en Pilatus se korrupte wetstoepassing.

Wat 'n wonderlike en aangename jaar sal 2023 nie wees nie?

Wednesday, 4 January 2023

Dankie!

'n Hartlike Ons Huis-dankie vir al die goeie wense, besoekies, eetgoedjies en geskenkies wat ongevraagd hulle weg tot voor ons deur gevind het. Dit word opreg waardeer en nie een drukkie of goeie wense het ongesiens verby gegaan nie. Mag 2023 vir elkeen goed behandel. Mag Sy seën oor elkeen uitgestort word en mag elkeen tree vir tree die jaar onder Sy beskerming aanpak. Vreugde en vrede.

Ons Huis-personeel en -inwoners

Sunday, 1 January 2023

2023: Begin nuut

Dit is ‘n nuwe jaar! Al weet jy nie wat môre inhou nie, ken jy die Een wat môre in Sy hande hou. En dan weet jy dat jy nie alleen is nie. Hoe kan jy 2023 jou eie maak?

Rig jou oë op Jesus, en maak tyd saam met Hom ‘n daaglikse gewoonte. Lees die Bybel en gesels met ander inwoners oor dele in die Bybel wat jou opnuut getref het. Julle tafelgenote kan saam Bybelstudie doen en sodoende julle kennis vebreed.

Volg sy aanwysings vir jou lewe en met verloop van tyd sal jou lewe Sy karakter weerspieël.

Mag voorspoed en goeie gesondheid hierdie jaar deel van jou lewe wees.

Saturday, 1 January 2022

Dankie, vir al die welkome 2022-wense

'n Wonderlike en geseënde 2022 bid ek julle toe. 
Kom ons vergeet van al die hartseer, teleurstellings en swaar van 2021.
Paulus sê in Fillipense 3: 14  
".. ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, ..."  
Amplified Bible - Philippians 3:13
".. but one thing I do: forgetting what lies behind and straining forward to what lies ahead."
Valerie Kilian

My gebed vir elkeen is dat absolute Jesus-gebaseerde blydskap jou lewe in 2022 sal vul. Vreugde vir elke inwoner en onthou julle belangrike taak op aarde is om te bid. Seënwense. Past. Pieter

Mag elkeen ‘n pynlose 2022 op vele terreine beleef.
Getroue leser.

Mag God ons met gesondheid seën in hierdie nuwe jaar.
Nelly

Gesondheid is beslis bo-aan my lysie vir elke inwoner vir die nuwe jaar. Alles van die beste.
Bea B 

Jou lewe is 'n LIED deur GOD se hand geskryf. Gaan 2022 met 'n lied in jou hart die jaar in. 
Marguerite 

Mag 2022 elke oomblik maklik wees vir jou omdat jy in alles vir God ken.
Charmaine

Voorspoed vir 2022

ACVV Ons Huis bid vir elke inwoner en leser toe:
die Here se oorvloedige Genade,
Sy oorkoepelende Liefde, 
Sy nimmereindigende Vrede, Sorg, Beskerming en Voorsiening.
Mag jy daagliks bewus word van Sy teenwoordigheid.
Waardeer elke dag saam met hulle wat jou pad kruis.
En mag jy die genade ontvang om daagliks dankbaar te leef. 

Nuwejaarswense

Baie nuwejaarswense word van ons verwag vir 2022:
Job se geduld, 
Salomo se wysheid 
en Paulus se ywer. 
Kom, ons as lesers van die blog en inwoners van Ons Huis
en die res van die land vermy en skram in 2022 weg van ...
Eva se ongehoorsaamheid, 
Kain se jaloesie en bloedlus, 
Noag se dronkenskap, 
Jakob se skelmstreke, 
Aäron se afgodsverleiding, 
Jona se opdragontduiking, 
Simson se brandstigting, 
Saul se haatdraendheid, 
Dawid se wellustigheid en beplande moord, 
Herodus se kindermishandeling, 
Judas se geldgierigheid, 
Petrus se waarheidsontkenning 
en Pilatus se korrupte wetstoepassing.

Wat 'n wonderlike en aangename Huis en land sal dit nie wees om in te woon nie.
[Verwerk: AL Esterhuyse - Kuruman]

Friday, 1 January 2021

Seënwense vir 2021

2020 was 'n jaar wat niemand van ons gou sal vergeet nie.
Dit het eise aan elke een van ons gestel.
Of jy nou jonk of oud, ryk of arm was, niemand is oorgeslaan nie.
Party van die uitdagings was makliker om te hanteer as ander.
Een ding is vir seker, Cocid-19 het ons oë oopgemaak
vir dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar het.
Dinge waaroor ons nie vir 'n oomblik nagedink het nie.
Kuier en besoekies hier in Ons Huis het opgedroog.
Kommunikasie is beperk tot die foon.
Vryheid van beweging is skielik ingeperk, om te kom en gaan
soos wat ons wil, wat selfs in ons jare, maar beperkend is,
is/was 'n luukse.
Ons as mense, wêreldwyd, het kreatiewer leer dink en werk.
Ons het leer uitreik na hulle wat minder as ons het,
en wat ons dikwels nie raakgesien het nie.
Die oomblik toe ons almal in dieselfde water is,
het ons besef dat almal se bootjies nie dieselfde is nie.
Ons het ons hande uitgesteek na ons medemens.
Ons het geleer wat dit eintlik beteken om kerk te wees.
Dit is om vir ander 'n ware gestroopte voorbeeld te wees.
Ons gaan innerlik sterker anderkant uitkom.
Ons gaan beter individue wees,
want ons het geleer
dat ons mekaar nodig het.  
 
Seën vir 2021