Showing posts with label Lewensreis. Show all posts
Showing posts with label Lewensreis. Show all posts

Friday, 25 July 2025

Wie is ek?

Ná Aftrede: Wanneer die speletjie verby is ...

Ek het onlangs 'n stuk gelees wat my diep getref het - en ek wil dit graag met julle deel. Dit laat mens besin oor wat oorbly wanneer ons titels, rolle en statusse vervaag. Ekself het my loopbaan in die motorbedryf met trots en passie uitgeleef. Daar was hoogtepunte, prestasies en baie ure van harde werk. Maar nou, ná aftrede, vra ek myself af: Wat beteken dit alles vandag? Wie is ek nou?

Die storie wat tot my gespreek het:

’n Senior uitvoerende bestuurder het afgetree en uit sy luukse amptelike woning na 'n gewone woonstel verhuis. In sy nuwe omgewing het hy homself steeds as belangrik gesien en hom van ander gedistansieer. Tot op 'n dag toe 'n ander ouer man met hom begin gesels het. Hierdie nuwe vriend het geduldig geluister terwyl die afgetrede bestuurder herhaaldelik vertel het van sy belangrike posisie en hoë status.

Eendag sê die ander man sagkens: “Na aftrede is ons almal soos gebruikte gloeilampe. Dit maak nie saak watter watt jy was, hoe helder jy geskyn het, of watter tipe lamp jy was nie - LED, halogeen, fluoresserend - as jy klaar is, is jy klaar. Nou is ons almal net gloeilampe wat nie meer brand nie.”

Hy het verder gesê: “Daardie man oorkant was ‘n majoor-generaal in die weermag. Daar sit ‘n professor. Ekself was vir twee termyne ‘n parlementslid. Maar niemand praat daaroor nie, want ons weet: wie ons was, is nie meer wie ons is nie. Wat nou saak maak, is wie jy is in die nou.”

Daardie eenvoudige gesprek bevat ’n waarheid:
👉 Ons waarde lê nie in die titels wat ons dra of die poste wat ons beklee het nie.
👉 Ons moet leer om innerlike vrede te vind, om eenvoudig net mens te wees.
👉 Ons moet ophou bestaan en begin leef - met vreugde, met nederigheid, en met omgee vir ander.

'n Bybelvers wat my daaraan herinner, is Prediker 3:1–2:
    “Vir alles is daar 'n bepaalde tyd, 'n tyd vir elke saak onder die hemel: 'n tyd om gebore te word en 'n tyd om te sterwe; 'n tyd om te plant en 'n tyd om uit te trek wat geplant is …”
En ook Miga 6:8:
    “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is: en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen, liefde en trou te bewys, en nederig saam met jou God te wandel?”

Laaste gedagtes vir my medereisigers in Die Lewe:
    ☀️Wanneer jy die son sien opkom, onthou dat beide die opkomende en ondergaande son mooi is - maar net een word geprys.
   🙌 Wanneer jy na die maan kyk, sien jy God se skoonheid.
    🙌Wanneer jy in die spieël kyk, sien jy Sy beste skepping: JY.

Ons is almal pelgrims op reis - God is ons Reisagent. Hy het reeds ons roetes en bestemmings bepaal. Vertrou Hom en leef voluit.

Moenie vergeet nie:
👉 Besoek ‘n hospitaal - en jy sal besef niks is mooier as gesondheid nie.
👉 Gaan na ‘n tronk - en jy sal leer hoe kosbaar vryheid is.
👉 Besoek ‘n begraafplaas - en jy sal verstaan hoe tydelik die lewe is.

Laat ons leef met die vrees van God en respek vir mekaar.
Laat ons gee, selfs al is dit klein.
Laat ons onthou: Na die speletjie keer die koning en die pion terug na dieselfde kis.
Mag ons die lewe waardeer, saam lag, en vir mekaar sorg - met nederigheid en dankbaarheid.

[Aangestuur deur Babsie Swanepoel]

Friday, 23 August 2024

Terugflits: As teerpad grondpad word

Ek het die voorreg om by mense te gaan kuier wat ek baie jare laas gesien het. 'n Mens sien mos altyd vreeslik baie uit na so 'n kuier - daar is so 'n opwinding in 'n mens - jy kan nie wag om daar te kom nie.

Hulle bly in die middel van 'n plattelandse dorpie. Nooit moeilik gewees om daar uit te kom nie.

Die besoek is egter 'n uitdaging: Waar ek altyd maklik sommer in 'n teerpad afgedraai het, tot daar is die teerpad opgelig.

Skielik ry jy in die middel van 'n dorpie - waar voorheen 'n baie belangrike teerpad was - op 'n grondpad tot by hulle huis. Hoe vreemd is dit?

Swak instandhouding en wanbestuur het ook in daardie dorp sy spoor gelaat. Die slaggate het ál meer geword, instandhouding al hoe moeiliker, die infrastruktuur het verval, en, werklikwaar, 'n teerpad het 'n grondpad geword.

Die pad was in so 'n toestand dat dit goedkoper geword het om die hele teerpad op te lig. Hoe skokkend is sulke agteruitgang. Ek wonder hoe gebeur dit dat 'n teerpad 'n grondpad word? Waar vooruitgang is, verwag 'n mens tog eerder alle grondpaaie sal mettertyd teerpaaie word - maar daar is 'n teorie en 'n praktyk. 

Soms werk dinge andersom. Dit is eers toe ons deur Klerksdorp ry, verby iemand wat vir daaglikse brood vra, dat die hardheid van die lewe my tref.

Daar by die verkeerslig vra sy haar daaglikse brood - en een van my kinders maak 'n opmerking: "Die tannie se teerpad het ook 'n grondpad geword."

Die lewe is nie veronderstel om so uit te loop nie. Die lewe se draaie is nie altyd maklik nie, dit is nie altyd sag nie, dit is nie altyd vordering en beter as gister nie.

Soms versleg dinge, soms word ook by ons 'n teerpad 'n grondpad.

Die redes hoekom 'n teerpad soms 'n grondpad word, is legio. Partykeer is dit eie skuld, partykeer is dit omstandighede, partykeer is dit 'n sameloop van omstandighede.

Hou moed, daar is altyd weer 'n teerpad voor.

[Bron: Noordkaap Bulletin - Twyfelhoekie - Hannes Noëth]

Monday, 24 July 2023

'n Mens sterf en sien God naderkom met 'n groot reistas in Sy hand ...

Hulle begin praat ...

God:"Kom my kind, dis tyd om te gaan."
Mens: "So gou? Maar ek het nog baie planne om ..."
God: "Jammer. Dis tyd om te gaan."
Mens: "Wat is in die tas?"
God: "Jou besittings."
Mens: "U bedoel my goed? Soos geld en klere en ..."
God: "Al daardie goed was nooit joune nie, dit behoort aan die Aarde."
Mens: "Is dit my herinneringe?"
God: "Nee, dit behoort aan Tyd."
Mens: " Is dit my talente?"
God: "Nee, dit behoort aan Omstandighede."
Mens: "Is dit my vriende en familie?"
God: "Nee, dit behoort aan die Pad deur jou geloop."
Mens: " Is dit my huweliksmaat en kinders?"
God: "Nee, dit behoort aan jou Hart."
Mens: "Dan moet dit my liggaam wees!"
God: "Nee my kind, dit behoort aan Stof."
Mens: "Dan is dit beslis my siel!"
God: "Ongelukkig is jy verkeerd. Jou siel behoort aan My."

Moedeloos en hartseer vat die mens die tas by God en maak dit oop ...

Leeg ...

Hartgebroke vra die mens: "Het ek dan nooit iets besit nie?"
God: "Dis reg, ja. Jy het nooit iets besit nie."
Mens: "Maar, wat wàs dan ooit myne?"
God: "Oomblikke. Elke oomblik wat jy geleef het, was joune. Jy het nét oomblikke besit."

Daarom ...
  • Doen goed, in elke oomblik.
  • Dink goed, in elke oomblik.
  • Lééf, in elke oomblik.
  • Hê lief, in elke oomblik.
  • Dank God vir elke oomblik.
Die lewe is net 'n oomblik:
  • Léwe dit ...
  • Geniét dit ...
  • Liéf dit ... elke oomblik
[Dankie, Rosetta Venter, vir hierdie bydrae.]

Tuesday, 22 March 2022

Die lewe is ongelooflik ...

[Dankie, Valerie, dat jy hierdie stukkie waarheid met ons almal deel.] 
 

Saturday, 23 May 2020

Die plek van liefde en lig ..

Elizma Steenkamp het 'n groepie mense toegespreek en haar boodskap is aangestuur sodat ons dit ook met Ons Huis se lesers kan deel. Haar onderwerp was: BE BRAVE - BODY, MIND  &  SOUL. 

Die belangrikste boodskap is dat ons moet hierdie tyd moet gebruik om stil te word. Ons moet in hierdie dae ’n geestelike reis onderneem na die plek waar jou liggaam, siel en gees mekaar ontmoet en waar jy in totale harmonie lewe. 'n Plek waar jy dapper genoeg is om die “stories” van skuld, angs, vrees, skande, woede en onvergenoegdheid uit jou kop te haal. Om buite jou kop te staan en in te kyk, al die negatiwiteit uit te werp en jouself te vul met God se waarheid van liefde en lig.

Die plek van liefde en lig waar jy elke dag opstaan en besluit dat die dag wonderlik gaan wees!

Die plek van liefde en lig waar jy vreesloos die einde kan sien waar jy wil wees.

Die plek waar jy goed doen aan ander, omdat jy kan.

Dié plek waar jy van jou slimpraatjies ontslae raak in ruil vir God se waarheid van liefde, lig en goedheid.

[Bron: Klik HIER vir verdere lees]