Showing posts with label Noordkaap-koerant. Show all posts
Showing posts with label Noordkaap-koerant. Show all posts

Thursday, 19 March 2026

Terugflits: Noem hom op sy naam

'n Heerlike leesstukkie wat vra om 'n tweede keer gelees te word. Proe die woordspeling op die tong. 

Dit was liefde met die eerste oogopslag vir Daniël van Daniëlskuil en Mary van Marydale toe hulle albei toevallig koffie op Koffiefontein bestel het. 

Hy was 'n fiksheidsintrukteur van Ficksburg en sy was 'n jong weduwee van Richmond. Hoewel albei in hul dertigs was, wou Daniël graag op die tradisionele manier ouers vra op Askham.

Hy was angstig dat hulle dalk stry sou kry op Strydenburg, hy hulle dalk sou moes soebat op Soebatsfontein of hulle hom dalk verkeerd sou verstaan op Verkeerdevlei, maar haar ouers het naby Vrede geboer en minder as 'n maand later het hulle die knoop in Welkom deurgehak.

Dit was die troue van die jaar waar geen uitgawe ontsien is nie. Net die beste was goed genoeg vir sy Mary. Rose uit Rosendal, die res van die blomme uit Bloemfontein, hoenderpastei uit Hennenman en springbokpatee uit Springbok.

Die hele familie het die uitnodigings aanvaar. Die Van Wyks van Van Wyksvlei, die Rouxs van Rouxville, die Jacobse van Jacobsdal, die Viljoens van Viljoenskroon, die Groblers van Groblershoop en die Van Zyl's van Van Zylsrus.

Die Wesselse van Wesselsbron het ongelukkig 'n groot krisis gehad en moes die uitnodiging gedweë van die hand wys.

Ds. Boshof van Boshof het die egpaar in die huwelik bevestig. Daar is tot laatnag in die groot saal gekuier en gelangarm. Daniël en Mary was albei stralend gelukkig.

Die meeste gaste het eers in Odendaalsrus en Steynsrus oornag voordat hulle die lang pad terug huis toe aangedurf het.

Daniël het vir Mary 'n spoghuis op Hobhouse gekoop, maar toe Mary hul eerste kleinding verwag, het hulle tweeling toe verhuis.

Albei was verras oor hoe ongelooflik hul lewens verander het. En dit alles het begin met net een koppie koffie op Koffiefontein.  

[Karin Muller: Noordkaap 2014-04-22. Besoek gerus die Noordkaap Bulletin en lees hulle weeklikse rubrieke - daar is baie pitkos in hierdie rubrieke.]

Friday, 20 December 2024

Terugflits: God gee altyd krag

Daar het ons in die pastorie nou ook 'n gasstoof en natuurlik 'n gaslamp of twee, 'n pak kerse en ons braai baie meer as gewoonlik vleis.

Dit is net tiek dan hoor jy die kinders in 'n koor uit hul verskillende ruimtes sugtend sê: "Agge nee, nie al weer nie." 

Tog raak 'n mens aan alles gewoond. Selfs aan beurtkrag.

Die aanpasbaarheid van die mens is eintlik wonderlik. Selfs vir die jongste in die pastorie is dit nou nie meer vreemd nie.

Die eerste keer het sy geskrik en was bang vir die skielike stikdonkerte, veral in die bad en dit word skielik pikdonker. Deesdae roep sy net: "Bring 'n kers, krag is al weer af."

Nou word die kerse in die huis al 'n speletjie. Rondom 'n kers kan 'n mens regtig ook lekker saamkuier en min ander dinge doen. Dit is wonderlik indien die skootrekenaar en die tablette en selfone se batterye pap is, dan moet almal maar doodgewoon sit en saamkuier of lees.

Ek hoor die kinders sin 'n spotliedjie, na analogie van 'n liedjie van Laurika Rauch: "Gee ons net so 'n bietjie krag ..."

In die laaste Twyfelhoekie van die jaar bid ek julle almal krag toe.

Nie elektrisiteitskrag nie - dit ook, ja - maar krag vir 'n nuwe jaar en nuwe uitdagings. Dit wat ons nou in die dagboeke skryf en dit wat in praktyk gebeur, verskil dikwels baie. Kyk ons terug oor die jaar was die krag daar wanneer ons dit nodig gehad het. Kyk ons vorentoe sal die krag vir elke dag se dagaak weer daar wees.

Intussen, rus goed uit, beplan lekker, geniet die etes en kuier by gesinne en familie, ry veilig na vakansiebestemmings en bou krag op vir 'n nuwe jaar. Wanneer jy kragteloos en moedeloos voel, onthou om te vra en te pleit: "Gee my krag vir die dag."

En onthou: God werk nie met beurtkrag nie. Hy het genoeg vir almal van ons.

Ons hoef nie met 'n kers ons binnekant te verlig nie. Sy Lig het na die wêreld gekom, en in die Kerstyd dink ons weer daaraan.

Krag vir julle almal toegebied, groete tot in die nuwe jaar.     

Friday, 13 September 2024

Terugflits: Bly by die hoofsaak

Indien 'n mens wil, kan 'n mens darem baie by ander mense leer. Eintlik het elke mens soveel dinge om ander mense te leer. 

Ons dink nie altyd ons kan by almal iets leer nie, maar ons kan.

Ouers kan by hul kinders leer en kinders by hul ouers, 'n werkgewer by 'n werknemer, kollegas by die werk van mekaar en rykes by armes en armes by rykes, jong mense by ou mense en ou mense by jong mense.

Vandag vertel ek van iemand by wie ek 'n baie belangrike lewenswysheid geleer het. Om dit te kon leer was een ding; om dit prakties toe te pas, was iets heeltemal anders.

Vandag nog herinner ek my by herhaling aan 'n lewensles wat 'n saak heeltemal kan omgooi. Hy is 'n direkteur van maatskappye, 'n belangrike en vername man, sy hele lewe is 'n geslinger van vergadering tot vergadering - sy dag bestaan uit die deurwerk van agendas, die een ná die ander.

'n Nederige mens met 'n nugtere uitkyk op die lewe. Tog sal hy een sinnetjie gereeld herhaal. Op vergaderings, buite vergaderings, wanneer hy kuier of wanneer hy werk.

Een saak staan vir hom bo al die ander sake uit. Hy leer dit ook vir ander mense. Hy het dit vir my geleer.

Die hoofsaak van die hoofsaak is om by die hoofsaak te bly

Dit klink so belaglik. Tog is dit so wesenlik. Ons maak in gesprekke so baie Rooikappie-afdraaipaadjies op vergaderings, in die lewe, in ons besluite en in ons denke. Ons kan dit maar leer en onthou en leef. Bly by die hoofsaak van die hoofsaak.

Moenie jou laat mislei deur allerhande afdraaipaadjies nie.

Dit maak jou net deurmekaar en bemoeilik sake.

Of dit nou in jou lewe is en of dit op 'n vergadering is, of jy groot besluite moet neem of sommer kleintjies. Bly by die hoofsaak. Moenie fokus verloor nie, want deur nie te fokus nie, verloor jy tyd en vergeet jy waaroor dit gaan. So eenvoudig: Bly by die hoofsaak van die hoofsaak.

[Noordkaap - Twyfelhoekie - Hannes Noëth]

Friday, 23 August 2024

Terugflits: As teerpad grondpad word

Ek het die voorreg om by mense te gaan kuier wat ek baie jare laas gesien het. 'n Mens sien mos altyd vreeslik baie uit na so 'n kuier - daar is so 'n opwinding in 'n mens - jy kan nie wag om daar te kom nie.

Hulle bly in die middel van 'n plattelandse dorpie. Nooit moeilik gewees om daar uit te kom nie.

Die besoek is egter 'n uitdaging: Waar ek altyd maklik sommer in 'n teerpad afgedraai het, tot daar is die teerpad opgelig.

Skielik ry jy in die middel van 'n dorpie - waar voorheen 'n baie belangrike teerpad was - op 'n grondpad tot by hulle huis. Hoe vreemd is dit?

Swak instandhouding en wanbestuur het ook in daardie dorp sy spoor gelaat. Die slaggate het ál meer geword, instandhouding al hoe moeiliker, die infrastruktuur het verval, en, werklikwaar, 'n teerpad het 'n grondpad geword.

Die pad was in so 'n toestand dat dit goedkoper geword het om die hele teerpad op te lig. Hoe skokkend is sulke agteruitgang. Ek wonder hoe gebeur dit dat 'n teerpad 'n grondpad word? Waar vooruitgang is, verwag 'n mens tog eerder alle grondpaaie sal mettertyd teerpaaie word - maar daar is 'n teorie en 'n praktyk. 

Soms werk dinge andersom. Dit is eers toe ons deur Klerksdorp ry, verby iemand wat vir daaglikse brood vra, dat die hardheid van die lewe my tref.

Daar by die verkeerslig vra sy haar daaglikse brood - en een van my kinders maak 'n opmerking: "Die tannie se teerpad het ook 'n grondpad geword."

Die lewe is nie veronderstel om so uit te loop nie. Die lewe se draaie is nie altyd maklik nie, dit is nie altyd sag nie, dit is nie altyd vordering en beter as gister nie.

Soms versleg dinge, soms word ook by ons 'n teerpad 'n grondpad.

Die redes hoekom 'n teerpad soms 'n grondpad word, is legio. Partykeer is dit eie skuld, partykeer is dit omstandighede, partykeer is dit 'n sameloop van omstandighede.

Hou moed, daar is altyd weer 'n teerpad voor.

[Bron: Noordkaap Bulletin - Twyfelhoekie - Hannes Noëth]

Friday, 2 August 2024

Vrydag-terugflits: Groen hout kosbaar

Hierdie tyd van die jaar is dit tyd vir aanstellings doen. 

Die afgelope twee weke slinger ek van die een onderhoud na die ander met die oog op aanstellings.

Wat my elke keer opval ná 'n sarsie onderhoude is die gesprek oor wat kies ons nou: Leer ons jong talent of kies 'n mens iemand met ervaring?

Ervaring kan nie gekoop of oornag aangeleer word nie, daarom wen ervaring in die meeste gevalle.

Hoe wonderlik die heel laaste onderhoud waar ek was.

Een van die skole waarvoor ons raadgewend optree, het 'n vrou wat 'n ewigheid en 'n dag in die betrokke pos was.

Nadat almal in die paneel, 'n hele groep van sewe, hulle uitgespreek het oor hoekom ervaring gekies moet word bo 'n jong talent wat alles nog moet aanleer, begin die vrou met haar waardevolle mening.

Sy hanteer dit soos volg: Geagte paneel, ek sit en luister na jul mening oor elkeen wat ons nou te woord gestaan het. Wonderlike mense met wonderlike CV's. Elkeen anders en elkeen uniek. Ons kies nie vir hulle in persoon nie en ons kies nie teen hulle in persoon nie. Ons soek iemand wat pas in 'n bepaalde pakkie, ons pakkie.

"Ek merk dat julle baie praat oor ervaring. Ervaring is kosbaar en ervaring is wonderlik. Maar ek is vandag dankbaar vir groen hout. Groen hout wat nog nie deur die meule van die lewe is nie, goen hout wat nog kan leer."

"Ek is dankbaar dat ons ook kon gesels met hulle wat nog moet groei en nog moet leer, wat nog moet vorm. Hulle wat nog idealisties is en dink hulle weet alles en kan alles, terwyl ons weet hulle kan nie alles nie en weet nie alles nie."

"Hoekom is julle bang vir die groen hout? Hoekom gee ons nie die groen hout in ons samelewing 'n kans nie? Ons kritiseer hulle, vrees hul tydsgees, bewonder hul andersheid, maar ons is te bang om hulle te laat groei onder ons en by ons. Ek kies vandag die groen hout. Ek is danbaar vir groen hout wat nog daar is."

Treffend, né?  

[Bron: Noordkaap - Twyfelhoekie - Hannes Nöeth]

Friday, 19 July 2024

Vrydag-terugflits: Die storie agter 'n mandjie

Die rye is lank.

Jy het vergeet hoe besig dit dié tyd op 'n Saterdagoggend in die supermark is. Jou oë val op die inhoud van die mandjies en waentjies van die ander mense in die ry.

Die een voor jou gaan vleis braai. Daar is pakkies vleis en wors, vuuraanstekers, koeldrank en brikette in sy waentjie. Voor hom is 'n oupa wat pakkies lekkers op die rak by die betaalpunt uitsoek. Eindelik besluit hy op'n pakkie en neem vier van dieselfde soort. Die boodskap is duidelik: Ouma het hom gestuur, want die vier kleinkinders kom kuier. Die lekkers moet presies dieselfde wees om konflik te vermy.

Jy draai effens skuins en die vroutjie agter jou se mandjie tref jou oog: een pakkie katkos, 'n tydskrif, een bakkie lasagne wat opgewarm kan word en 'n groot blok sjokolade. Jy staan ingedagte voor jou. Sy is waarskynlik 'n oujongnooi wat naweke alleen met haar kat deurbring.

Dit is jou beurt om te betaal en soos jy gewoonlik die inhoud van jou mandjie uitpak, wonder jy watter storie dit van jou vertel. Daar is piesangs en skoenpolitoer 'n pakkie papegaaikos, 'n sak hondekos en 'n lekkerny vir die kat. Dit sou seker daarop kon dui dat jy 'n diereliefhebber is. Oor die res is jy nie heeltemal seker nie.

Dan besef jy daar is 'n paar moontlikhede vir alle mandjies se inhoud en dat alles nie net voor die hand liggend verklaar kan word soos jy graag sou wou nie. Die vrou agter jou versorg dalk haar buurvrou se kat en die blok sjokolade is moontlik vir 'n kollega wat verjaar. En jy besef hoe bevooroordeeld 'n mens kan wees as jy nie die storie agter iemand se mandjie ken nie.

[Bron: Noordkaap - Potpurri - Karin Muller]

Friday, 5 July 2024

Vrydag-terugflits: Elkeen is uniek ...

Min of meer alle begrippe in ons taal wat tyd of hoeveelheid aandui of beskrywend is, is relatief van aard.

Wat die modebewustes as elegant bestempel, mag jy as skreeulelik ervaar.

Terwyl een persoon mag dink die werk is onmoontlik baie, mag dit dalk vir iemand anders haalbaar wees.

As jy min geslaap het, mag iemand anders dit as heeltemal voldoende beskou. Wat vir die een persoon baie is, is vir die volgende persoon min. Wat vir die een persoon lank is, mag vir 'n ander persoon kort wees.

Alles hang van jou verwysingsraamwerk af. As jy met die minimum moet klaarkom, kan jy nie verstaan waarom sekere artikels as winskope bemark word nie. Die hoeveelheid kos of slaap of werk of ontspanning waaraan jy gewoond is, is nie noodwendig waaraan ander mense gewoond is nie.

Wonder jy waarom mense wat jy dink 'n groot inkomste verdien steeds skuld het, sal daar iemand anders wees wat dieselfde oor jou wonder aangesien hulle minder as jy verdien.

Inwoners van Hartswater of Hopetown mag Kimberley as 'n stad beskou. As jy in Kimberley woon, voel jy waarskynlik dat Bloemfontein 'n stad is. As Bloemfonteiner sal jy heel moontlik Pretoria, Kaapstad of Durban as 'n stad bestempel. Daar sal altyd iemand wees wat meer of minder het en daar sal altyd iemand wees wat meer of minder doen.

Ons verwysingsraamwerk is so uniek soos ons menswees. Soos 'n vingerafdruk of DNS waarvan geen mens s'n dieselfde is nie. Al veroorsaak dit soms konflik is dit ook wat interessantheid en verskeidenheid aan die lewe verleen.

[Bron: Noordkaap - Potpurri - Karin Muller] 

Friday, 31 May 2024

Vrydagterugflits: Alles in die natuur het sy plek

Baie van die inwoners sal ook by hierdie opskrif kan voeg dat hulle grootgeword het met die lewensuitkyk dat daar 'n tyd en 'n plek is vir elke ding onder die son. 

'n Paar dae gelede het die skilpad die eerste keer sy verskyning gemaak sedert die groot koue sy vastrapplek gekry het.

Stadig, voetjie vir voetjie, het hy vorentoe gebeur. Versigtig, asof hy nie heeltemal seker was van die omgewing nie.

Toe het hy skielik die onsekerheid afgeskud en na die langer, groen grassies naby die voetpaadjie koers gekies. Hy het daaraan begin smul asof hy nog nooit geëet het nie.

Die opwinding was groot. Die somer is op pad. Die natuur weet wat om te verwag.

Verlede jaar, ongeveer hierdie tyd, het 'n vriend van my na die blomme in Namakwaland gaan kyk. Toe ek hom drie weke later raakloop, het ek hom oor die blommeryk uitgevra.

Hy het nukkerig verduidelik dat daar geen blomme was waar hy voorheen na die blomme gaan kyk het nie. "Net 'n mors van tyd en diesel," het hy onderlangs gebrom.

Twee dae ná ons gesprek het dit onverwags op plekke in Namakwaland gesneeu, waar daar waarskynlik nooit vantevore sneeu gesien of verwag is nie. Die natuur het geweet wat om te verwag.

'n Mens kan net verstom staan oor die orde in die natuur. Elke ding het sy plek. Elke ding het sy doel.

Die paar dae van yswinde en onverwagse ryp wat nog op ons wag, gaan ons nie afskrik nie. Die seisoen draai. Niks wat ons doen, gaan dit aanhelp of verhinder nie.

Eersdaags gaan die laaste hou in die ons-groet-die-winter-kaggelvuur gebrand word. Dan word die warmsjokolade effens na agter in die kas geskuif en die ekstra kombers word nie meer op die bed nie, maar langs die bed gebêre.

Maar niks word nog finaal weggepak nie, want anders as die natuur, weet ons nie altyd wat om te verwag nie.

[Bron: Noordkaap - Lesersjoernalis - Karin Muller]

Wednesday, 22 May 2024

Terugflits: Elke nuwe dag bring hoop

My swaer is in die hospitaal. Baie mense word in die hospitaal opgeneem: dit is nie vreemd nie.

Wat egter vreemd is, is dat ons daarop voorberei was dat hy ná 'n groot operasie 'n week of twee in die hospitaal sou wees, maar dat dit nou al etlike maande later is. Daar is boonop nie 'n definitiewe ontslagdatum in die vooruitsig nie.

Baie mense sal getuig hoe moeilik dit is om iemand oor 'n afstand te ondersteun. As jy naby is, kan jy dié wie se hart seer is, vir 'n koppie koffie of 'n fliek uitneem. Weinig woorde is werklik nodig. Jy kan die pasiënt se kussings oppof en langs sy bed sit en boek lees. Daarvoor is ook min woorde nodig.

As jy ver is, is woorde amper die enigste metode van ondersteuning tot jou beskikking. Wat moet jy sê? In die eerste paar weke is dit maklik. Ná 'n paar maande word dit moeiliker. Jy soek na die regte woorde vir die pasiënt. Jy soek na die regte woorde vir die naaste familie en vriende. Jy soek selfs naarstiglik na die regte woorde vir jouself.

Een ding wat ek uit die afgelope paar maande geleer het, is dat die mens wonderlik aanmekaar gesit is. Van tyd tot tyd raak my swaer moedeloos, selfs verbitterd. Onder omstandighede is dit heeltemal normaal. Heeltemal verstaanbaar. Praat jy op so 'n dag met hom getuig sy gemoed van min hoop.

Praat jy egter die volgende dag met hom is sy gemoedstoestand heelwat beter. Hy getuig van weke wat hy in dae opbreek om dit net meer hanteerbaar te maak. Hy praat van mense wat sieker as hy is, vir wie hy bemoedig. Hy vertel van oproepe van oorses vriende wat hom ondersteun.

Ná alles is dit wat ons het - hoop dat die dag van môre beter sal wees. 

Elke nuwe dag begin met nuwe hoop.  

[Bron: Noordkaap - Potpourri - Karin Muller - gaan lees gerus hierdie rubrieke HIER en ondersteun die media waarsonder die man in die straat nie kan nie.]

Dankie, Anoniem, dat jy hierdie Potpourri met ons deel, nadat hierdie stukkie jou bemoediging was.

Friday, 10 May 2024

... begin net

Hannes skryf van die man wat duim gegooi het en wat hy in die truspieëltjie dopgehou het. Indien 'n motor van daardie kant af kom, staan hy daardie kant en duimgooi en as daar 'n motor van die ander kant af kom, gaan staan hy weer daardie kant. Jy kan tog nie in al twee rigtings op pad wees nie. 

So, toe hy weer sy duim uithou vir die aankomende voertuig na regs en ek links in die pad indraai, vra ek hom: "Watter kant toe gaan jy nou eintlik?"

Hy antwoord ewe plegtig""Dit maak nie eintlik saak waarheen nie, Meneer, solank ek net hier wegkom."

Hy kon seker my verbasing sien, want voordat ek nog iets kan vra, antwoord hy self verder: "As die karre dié kant kom, gaan ek dié kant toe, as die karre daai kant kom, gaan ek daai kant toe, maar Meneer sien, as ek net dié kant toe of net daai kant toe gaan, staan ek vanaand nog hier."

Hy het geleer om iewers te kom, moet hy net eers wegkom van waar hy nou is. Dit kan beteken dat hy soms na twee kante toe moet kyk en duimry. Kyk hy net een kant toe, sit hy vanaand nog daar.

Nogal 'n interessante uitkyk hierdie van hom. Soms is 'n mens spesifiek op pad iewers heen, dan het jou lewe sin en loop jy doelgerig. Ander kere is die rigting soms 'n bietjie vaag en jy so 'n bietjie onseker. Dan is dit dalk 'n goeie ding om nie net te sit nie, maar net te begin beweeg. Soms weet 'n mens nie watter kant toe nie, moenie sit en wag nie, begin net iets doen.

Begin net.

[Bron: Noordkaap - Twyfelhoekie - Hannes Noëth - 10 Julie 2013 - gaan lees gerus die hele artikel op die internet.]

Thursday, 2 May 2024

Kniedruppels vir seer hart

Kinders kan vir ouers tot groot seën wees. Kinders kan egter ook ouers se grootste bron van kommer wees. 

Soms het jy vir 'n kind alles gedoen wat jy moes en kon en dan maak hulle nog net soos hulle wil wanneer hulle wil. 

Ek praat nou nie van jong kinders in die huis nie, ek praat van kinders wat al uit die huis is.

Die grootste vreugde by mene het ek oor die lewe van hulle kinders gesien. Die grootste hartseer het ek by mense oor die lewenswyse van hul volwasse kinders gesien.

Daardie fase wat hulle nie meer vir jou hoef te luister nie, jou nie glo in wat reg of verkeerd is nie en in elk geval ook nie juis veel omgee wat reg en verkeerd is nie. Daardie fase wat jy weet en sien en besef jou kind is besig om droog te maak en dit is net hy of sy wat dit nie sien nie - verder weet almal dit.

Dit is tydens so 'n hartseer-oomblik in 'n gesin se lewe dat ek hulle vra hoe hanteer hulle die seer wat hul kinders oor hulle bring.

Dit is nie die pa of ma wat antwoord nie. Dit is die ouma van 86 wat by hulle bly. "Ons gebruik kniedruppels, Dominee, kniedruppels."

Sy verduidelik so mooi: Wanneer jou oë seer is, gebruik jy oogdruppels, vir 'n oor oordruppels, vir elke liewe ding is daar 'n druppel of 'n pil. Vir 'n moeilike kind is daar net een ding wat help - kniedruppels.

Jy bid jou knieë vir hulle deur. Jy glo en vertrou dat daar uitkoms sal kom.

Soms kom daar. Soms nie. Soms moet hulle eers hul kop hard stamp.

Maar kniedruppels is wonderlik. Hierdie kniedruppels het vier voordele. Tannie Meraai verduidelik hulle een vir een: Jy hoef nie die vrag alleen te dra nie. Jy vind troos daarin dat die kind se lewe nie in jou of sy hand is nie. Daar kom hoop en geloof in jou los dat dinge tog sal verander. Dit laat jou huil voor Iemand wat verstaan. 

[Bron: Noordkaap - Twyfelhoekie - Hannes Noëth]

Thursday, 30 January 2020

Ons nuwe adres ...

Ons nuwe telefoonnommer is:

053 831 5816

Ons nuwe kantooradres is:
Halkettstraat 14, Kimberley

Kontak ons gerus!
Vind uit van al ons 2020-planne en word deel daarvan!

Sunday, 26 January 2020