Baie van die inwoners sal ook by hierdie opskrif kan voeg dat hulle grootgeword het met die lewensuitkyk dat daar 'n tyd en 'n plek is vir elke ding onder die son.
'n Paar dae gelede het die skilpad die eerste keer sy verskyning gemaak sedert die groot koue sy vastrapplek gekry het.
Stadig, voetjie vir voetjie, het hy vorentoe gebeur. Versigtig, asof hy nie heeltemal seker was van die omgewing nie.
Toe het hy skielik die onsekerheid afgeskud en na die langer, groen grassies naby die voetpaadjie koers gekies. Hy het daaraan begin smul asof hy nog nooit geëet het nie.
Die opwinding was groot. Die somer is op pad. Die natuur weet wat om te verwag.
Verlede jaar, ongeveer hierdie tyd, het 'n vriend van my na die blomme in Namakwaland gaan kyk. Toe ek hom drie weke later raakloop, het ek hom oor die blommeryk uitgevra.
Hy het nukkerig verduidelik dat daar geen blomme was waar hy voorheen na die blomme gaan kyk het nie. "Net 'n mors van tyd en diesel," het hy onderlangs gebrom.
Twee dae ná ons gesprek het dit onverwags op plekke in Namakwaland gesneeu, waar daar waarskynlik nooit vantevore sneeu gesien of verwag is nie. Die natuur het geweet wat om te verwag.
'n Mens kan net verstom staan oor die orde in die natuur. Elke ding het sy plek. Elke ding het sy doel.
Die paar dae van yswinde en onverwagse ryp wat nog op ons wag, gaan ons nie afskrik nie. Die seisoen draai. Niks wat ons doen, gaan dit aanhelp of verhinder nie.
Eersdaags gaan die laaste hou in die ons-groet-die-winter-kaggelvuur gebrand word. Dan word die warmsjokolade effens na agter in die kas geskuif en die ekstra kombers word nie meer op die bed nie, maar langs die bed gebêre.
Maar niks word nog finaal weggepak nie, want anders as die natuur, weet ons nie altyd wat om te verwag nie.
[Bron: Noordkaap - Lesersjoernalis - Karin Muller]
No comments:
Post a Comment