Monday 27 May 2024

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Guns in Sy oog

Groete en Vrede!!!

Dit is amper dagbreek en ek sit langbeen met my oranje koffiebeker buite by die ”Kuierplek-op-die-vlak”. Neffens my, dans en draai geelrooi vlammetjies op die maat van rustige musiek wat net hulle kan hoor. Netnou gaan die warmste hemellig sy kop agter die verste sien optel sodat sy oog alles op die Kalaharivlak kan sien. My vroegoggend dinkdinge wil vandag nie sommer veel verder as die Kalahari se vergete mensegoed beweeg nie. Voorwaar kosbare en ongekompliseerde skapelinge wat oorloop van opregtheid en eenvoud ... al is die droogte kant van die lewe so onlosmaaklik deel van hul daaglikse bestaan. Mensegoed soos oom Janneman en Willa-goed.
 
Oom Janneman byvoorbeeld, se standaard antwoord was altyd "My dink loop nog so bietjie rond" as hy iets gevra word. Niks meer en niks minder nie. Net dit en so staan die saak vas. Maar daardie dag toe oom Janneman sy saak met die Kêrelkind van God regmaak en uitkniel, daardie dag het die skaamte hom gelos. Eers het hy net geluister en vrae begin vra. Daarna het hy begin vertel van kosbare belewenisse. Maar die koffie met kondensmelk was die dag toe oom Janneman spontaan verklaar het dat hy guns in die Kêrelkind van God se oog gekry het. Deesdae loop Oom Janneman se dink loop soos ‘n skoothondjie al agter Jesus aan.

Willa-goed op haar beurt, het een agtermiddag onder 'n groot Suidwesdoring besef dat ‘n erge hongersnood in haar binneste-binne is. Haar binneste-binne is stadigaan te sterf weens ‘n dwarsduin vol liefde vir die soetwyn. Iets wat onbeweegbaar tussen haar en die Here staan. Skaam-skaam het Willa-goed daardie middag vir gebed gevra. Sommer nog voor die amen uit my mond gekom het, het Willa-goed se binneste al geborrel van dankbaarheid “want” het sy gesê “ek het guns in die Kêrelkind van God se oog gekry.”

Terselfdertyd herinner die Veilige Gees my daaraan dat die Egiptiese volk in ‘n tydperk van erge droogte en uitmergelende hongersnood sekere radikale besluite vir oorlewing geneem het. Nadat al hulle bates (al hulle geld, vee en grond) aan Josef oorgedra het, het hulle uit vrye wil as Farao se slawe gefunksioneer. Hierdie volk was ten volle uitverkoop aan Josef ... bloot net om te kan oorleef want hulle het guns in sy oog gekry.
 
Maar wat van ons ... wat van my en jou? Word ons ook gekonfronteer met ‘n tydperk van erge droogte en uitmergelende hongersnood? Moet ons nie dalk weer radikale ankerpaal besluite neem om te oorleef nie? Ankerpaal besluite in ‘n genadelose wêreld waar ons Jesus as God se Kêrelkind met alles en in alles moet vertrou? Ankerpaal besluite om (soos oom Janneman) ons daaglikse dink net agter die Kêrelkind van God te laat aanloop en om aanmekaar te borrel van dankbaarheid (soos Willa-goed), want ons het onverdiende guns in die Kêrelkind van God se oog gekry .

Gen 47:25 (Afr 2020) “Hulle sê toe: “U het ons aan die lewe gehou. As ons guns vind in die oë van my heer, sal ons farao se slawe word."

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
Klik HIER vir verdere inligting.


[Dankie, Anoniem, vir die deel van hierdie stukkie. Indien jy as leser wil en kan betrokke raak by hierdie uitreiking, maak asseblief gebruik van die kontakdetail hierbo.]

No comments:

Post a Comment