Friday 3 May 2024

Oefen jou geheue


Onthou om my te onthou, vergeet om my te vergeet
, was op sy dag een van Laurika Rauch se groot treffers.

Maar voor ons vergeet waaroor dit alles gaan, moet ons rekening hou met ons eie vermoë om te onthou, veral namate die ouderdom toeneem. Dis nie almal wat soos 'n Winston Churchill die juwele uit die Engelse literatuur wat hy op skool gememoriseer het, uit die vuis kan voordra nie.  

Dit is opvallend hoe min aandag studente gee aan die verskerping van hulle geheue. Onderwysers is geneig om die opvatting, dat memorisering help om die verskillende gebiede van die brein te ontwikkel, as tydmors te beskou.

Memorisering is in die verlede oordryf, dikwels tot nadeel van gesonde begrip. Dit is egter geen rede om dit geheel en al oorboord te gooi nie.

Dit kan miskien nie die intellek bevoordeel nie, maar dit kan bydra tot 'n goed geordende brein en 'n bron van voedsel vir die gees.

Verskeie suksesvolle studente het daarop gewys dat 'n vaardige geheue afhang van die gehalte van die redenasievermoë en oordeel, sowel as 'n beter werking van die verstand.

Plato was op sy dag ook baie geïnteresseerd in die werking van die menslike brein. Een van sy uitsprake was: "Kennis is om te onthou."

Volgens kenners is geen verstandelike vermoë so vatbaar vir verbetering as die mens se geheue nie. Dit het daartoe gelei dat kenners in die laaste klompie jare verskeie tegnieke ontwikkel het om vergeetagtigheid te bestry.

Dit blyk dat herhaling die belangrikste bondgenoot is. Toetse in laboratoriums het ook getoon dat deur net hardop te herhaal wat jy wil onthou, jy jou onthouvermoë van 25 tot 100% kan verbeter.

No comments:

Post a Comment