Showing posts with label Jesaja. Show all posts
Showing posts with label Jesaja. Show all posts

Sunday, 17 May 2026

Oomblik van stilte: Jes. 6:3c

Die hele aarde is vol van sy heerlikheid. 

Met jou menslike oog sal jy niks sien nie, net die Heilige Gees kan jou oë open en die heerlikheid  en heerskappy van God aan jou uitwys. 
Oral om jou is die heerlikheid van God; om jou is die mooiste en beste heerlikheid van God sigbaar.
God wil Homself vandag aan jou openbaar.
Soek God en vra na Hom en Hy sal aan jou openbaar gemaak word.
Terwyl die engele saam sing, bewe die drumpelposte van God se huis en rook vul sy huis.

Dankie, Here, vir u engele wat aan U lof toebring. Die engele ken God en besing sy glorie dag en nag en sal nooit ophou om God te verheerlik nie; selfs die deurposte bewe terwyl die roepers dit uitroep: "Heilig heilig is die Here van die leërskare." In aanskoue daarvan het Jesaja sy onreinheid gesien en besef dat hy verlore is. Maar God sal my aanraak en ek sal ook uitroep: Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 28 December 2025

Oomblik van stilte: Jesaja 45:3

En Ek sal jou die skatte gee wat in die donkerheid is en die verborge rykdomme, sodat jy kan weet dat Ek die HERE is wat jou by jou naam roep ...


Selfs in die donkerste en moeilikste tye het die Here iets vir jou.
Wanneer ons deur moeilike tye gaan verwag ons nie ons iets spesiaal te vind nie.
Ten midde van dit alles kan die Here sy skatte en rykdomme aan ons ontbloot.
Hy roep jou by jou naam en Hy het skatte vir jou.
Gaan hierdie nuwe jaar in met die vaste wete dat die Here jou by jou naam geroep het, dat jy saakmaak en dat Hy 2026 saam met jou gaan stap as jy Hom toelaat.

Gebed: Vader, dankie dat U my by my naam roep. U sal my nooit verlaat om vernietig te word nie U sal altyd dinge vir my ten goede laat uitwerk. Amen.

Sunday, 11 May 2025

Oomblik van stilte: Jes. 7:14

Daarom sal die Here self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en en 'n seun baar en hom Immánuel noem.

Vanoggend kan jy met gerustheid opstaan en weet God is met jou.
Enige een wat twyfel oor die posisie en mag van Jesus; Hy is God, want sy Naam is Immánuel, God met ons.
God self is by jou en met jou.
Vertrou op God jou Verlosser en Voorsiener wat by jou is.

Dankie Immanuel, U is my God vir wie ek bid. U is die God op wie ek vertrou en van U is my verwagting. U het 'n weg vir my berei en U sorg dat ek my bestemmings bereik. Ek is U gesalfde deur die genade van Jesus. Aan U kom toe al die eer en heerlikheid o Almagtige. Amen. 

Sunday, 13 April 2025

Oomblik van stilte: Jes. 46:4

en tot in die ouderdom toe is Ék dieselfde, ja, tot die grysheid toe sal Ek julle dra; Ek het dit gedoen,  en Ék sal julle opneem,  en Ék sal dra en red.

Niks is vir die Here te veel moeite nie, want alles is uit liefde gedoen.
Die Here wil jou optel en dra wanneer dit swaar gaan.
Die Here sal jou red wanneer die vyand jou aanval en oorrompel.
As jy oud raak en nie meer die krag van 'n jong mens het nie, sal die Here jou opneem en dra en uitred.

Dankie Here, U tel almal op en u redding is vir alle mense. U is nie 'n aannemer van die persoon nie. Ek verdien nie om met genade gered te word nie want my hele lewe het U nie altyd geëer nie. Wie kan ek U mee vergelyk? Daar is niemand met wie ek U kan gelykstel nie. U staan bo alles en almal uit, u koninkryk is 'n ewige koninkryk. U is die Almagtige God wat alles sien en u liefde het my gedra en gered. Amen.

Sunday, 6 April 2025

Oomblik van stilte: Hand. 2:24

Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word.

Jesus leef, Hy het opgestaan, Hy lê nie meer in die graf nie, die graf is leeg.
Daarna het Hy die hekke van die hel uitgeruk en die smarte van die dood ontbind.
Niks kan die Seun van God bind en vashou nie.
Nou het Christus, die opgestane Heer, vir jou dieselfde opstandingskrag gegee, deur sy genade en krag van geregtigheid.

Dankie Here, U het vir my na die hel neergedaal en die dood oorwin met u opstandingskrag in die Heilige Gees. U Gees wat Jesus uit die dode opgewek het woon in my. My oorwinning is in Christus wat in my is, die hoop op heerlikheid. En Dawid sê: U sal My vervul met vreugde by u aangesig. 'n Voorspelling van Christus wat uit die lendene van Dawid sou voortspring. Hy het ook voorspel dat Jesus se vlees nie verderwing sou sien nie. U het die Heilige Gees ook op my uitgestort, wat U van die Vader ontvang het. Amen.

Sunday, 16 March 2025

Oomblik van stilte: Jes. 64:8

Maar nou, Here, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder,  en ons almal is die werk van u hand.

Is jy besorgd of bekommerd omdat jy voel jy is nie op die regte plek, of jy het jou roeping gemis? Onthou, God is jou Formeerder en "bou" nog steeds aan jou. 
Vertrou die Here en gee Hom kans om sy werk te doen. 
Moenie God se werk vir Hom probeer doen nie. Jou beste werke is soos 'n wegwerplike kleed. 
As jy volmaak wil wees, wees onderdanig aan God en laat Jesus sy werk voltooi in jou. Net Hy is getrou en net Hy kan jou volmaak formeer.

Here, ek is die werk van u hande. Ek vertrou U alleenlik. Ekself is onbetroubaar en kan nie bereik wat ek moet, sonder u hulp en leiding nie. U het reeds vir my 'n weg berei en U hou my weg van die kwaad en skadelike pad, wat die vyand vir my voorberei. Dankie Here vir u volmaakte weg vir my berei. Met U is ek meer as 'n oorwinnaar. Amen.

Sunday, 8 September 2024

Oomblik van stilte: Jes. 64:2(b)

Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.

Die Here wil net in die beste van jou belange optree en aan jou voorsien.
Die Here luister en Hy hoor jou voordat jy nog roep; terwyl jy nog spreek verhoor God jou (Jes. 65:24).
Die Seun van die mens het gekom om te red wat verlore is (Matt. 18:11).
Hy sal alles los en jou kom soek wat verlore is (verg. Matt. 18:12).

O Here, Vredevors, Herder van my siel, U sal ek verkies. In hierdie oggend, lig ek u Naam en wil my hart 'n nuwe lied tot U verhef. U sal my red, en U sal op almal let wat verslae van gees en arm is. U arm is nie te kort om te help nie. U let op almal wat bevrees is vir U, dis waar ware wysheid begin. Laat U grootheid aan almal bekend word vandag in Jesus Naam. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel.]

Sunday, 1 September 2024

Oomblik van stilte: Jes. 54:11 & 12

Jy, ellendige, deur storm gejaagde, ongetrooste! Kyk, Ek lê jou stene in sierklei, en Ek grondves jou in saffiere; en jou borswerings maak Ek van robyne en jou poorte van karbonkels en jou hele ringmuur van edelgesteentes.

Partykeer moet alles eers uitmekaar val sodat dit op die regte manier weer bymekaar kan kom. Dit beteken soms dat jy jou posisie, status en al die aardse goed moet verloor. Met jou eie sterkte, krag en goeie ambisie, sal jy dit nooit weer aanmekaar en reg kry nie. God wil vandag vir jou wys hoe sy woord skep en herskep; maak en weer bymekaar maak en reg maak.

Dankie Here, my God en ewige Vader, U herskep my in sierklei. U is die pottebakker en ek is die klei. U laat my met eer terugkeer in sierstene en edelgesteentes. Dit wat ek nie verdien nie gee U my. U geregtigheid kom na my en word my deel. Ek is herstel en wedergebore om te kan skyn in U ewige koninkryk. Aan U al die eer en heerlikheid in Jesus Naam. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]