Sunday 1 September 2024

Oomblik van stilte: Jes. 54:11 & 12

Jy, ellendige, deur storm gejaagde, ongetrooste! Kyk, Ek lê jou stene in sierklei, en Ek grondves jou in saffiere; en jou borswerings maak Ek van robyne en jou poorte van karbonkels en jou hele ringmuur van edelgesteentes.

Partykeer moet alles eers uitmekaar val sodat dit op die regte manier weer bymekaar kan kom. Dit beteken soms dat jy jou posisie, status en al die aardse goed moet verloor. Met jou eie sterkte, krag en goeie ambisie, sal jy dit nooit weer aanmekaar en reg kry nie. God wil vandag vir jou wys hoe sy woord skep en herskep; maak en weer bymekaar maak en reg maak.

Dankie Here, my God en ewige Vader, U herskep my in sierklei. U is die pottebakker en ek is die klei. U laat my met eer terugkeer in sierstene en edelgesteentes. Dit wat ek nie verdien nie gee U my. U geregtigheid kom na my en word my deel. Ek is herstel en wedergebore om te kan skyn in U ewige koninkryk. Aan U al die eer en heerlikheid in Jesus Naam. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

No comments:

Post a Comment