Wys my 'n meisiekind met sproete en oranjerooi hare en ek wys vir jou 'n geitjie, sê 'n mooi vrou met swart hare en bottelkuite in die vertreksaal van die lughawe.
Sy sê dit op 'n goedige manier, want die rooikop met die sproete na wie ons sit en kyk, is nie ouer as ses nie.
'n Geitjie - as iemand nie dié uitdrukking ken nie - is 'n parmantige meisiekind, soos die een wat haar verloofde in die woonstel bokant myne met die konfytkant van 'n sny brood geklap het.
Eintlik ken ek heelparty stories van rooikoppe, soos van die enetjie in Australië wat paljas op ons toebroodjies wou smeer omdat ons in haar eetplek Afrikaans gepraat het, maar dit is 'n lang storie.
Nietemin. Soos dit dikwels gebeur wanneer 'n mens in die vertreksaal na iemand sit en kyk, beland ek en die geitjie in die vliegtuig langs mekaar; ek met my koerant en sy met haar handsakkie van plastiek.
Sy ken die vliegtuigryery, want sy gord vas en kyk by die venster uit voordat ek kan aanbied om haar te help. Sy draai eintlik haar rug na my toe, asof sy daarmee wil sê sy het nie geselskap nodig nie.
Die Boeing trek al hier by 6000 meter toe sy terugdraai en 'n peperment uit die handsakkie haal. Toe kyk sy vir die eerste keer na my - na my hande, my das, my kraag, my bril en my hare en terug tot by die hande.
"Wanneer kom die koeldrank?" vra sy.
Op dié manier raak ons darem so half aan die gesels, al steur sy haar nie aan vrae nie en doen sy self die vrae-werk. "Waar's jou vrou?" wil sy weet. Hoekom vlieg sy nie saam nie? Hoeveel kinders het julle? Hoe oud is hulle? Wat's hulle name?"
Sy vra 'n Sprite en twee pakkies grondboontjies toe die lugwaardin verbykom.
"Lees jy by die huis ook heeltyd koerant?" vra sy toe ek naderhand die agterstallige leeswerk probeer inhaal.
"Kyk jy saans televisie of speel jy met jou kinders?"
Toe ons oor die Grootrivier vlieg, wys ek haar die blink lint en sê dit is waar ek grootgeword het.
"Woon jou ma-hulle nog daar?" hervat sy haar ondervraging.
"Wanneer gaan jy vir hulle kuier? Gaan jou kinders saam? Is jou ma-hulle lief vir jou kinders?"
Toe die ete bedien word, weet ek nog nie eens wat haar naam is nie, en sy weet omtrent alles van my, behalwe my banknommer.
Sy hoop ons kry nie hoender nie, want die hoender in 'n vliegtuig is nie soos Kentucky nie, sê sy. As ek nie my kaas en sjokolade wil hê nie, sal sy dit vat. Sy vat altyd vir haar ouma 'n stukkie vliegtuigkaas en die stukkie sjokolade.
Nou weet ek darem sy gaan by haar ouma kuier.
Nadat sy haar kaas en sjokolade geëet het en myne in die handsakkie gebêre het, waag ek dit om haar oor haar ouma uit te vra. Dié woon in Belville, wat nie ver van die see af is nie, maar te ver om te stap.
Eers toe die vliegtuig oor die Kaapse Vlakte sak, sê sy haar naam is Mariaan en sy word so vies wanneer haar ouma Marie-jaan sê. Haar ouma en oupa wat dood is, het ook so Marie-jaan gesê.
Die Boeing hardloop al op die aanloopbaan toe ek verneem sy woon in Johannesburg by haar oupa en sy nuwe vrou, wat baie jonger as haar ouma is, maar nooit tyd het om te gesels nie. Dit is dié dat sy dikwels vir haar ouma in die Kaap gaan kuier.
Iets sê vir my, nou weet ek soveel van haar soos ek behoort te weet. Dit is die rede hoekom ek nie verder uitvra nie.
Toe die passasiers begin toustaan om af te stap, klim die geitjie oor my bene om in die paadjie te kom. Sy sê dankie vir die kaas en die sjokolade en sy hoop ek gaan gou terug huis toe, want my kinders sal verlang.
Ek sit en wag maar dat die mense begin uitstap terwyl die een vraag in my brand; die vraag wat ek te bang was om te vra.
Sy stap eers 'n entjie saam met die tou, maar toe draai sy om en kom fluister in my oor voordat sy wegskarrel: "My pa het my ma geskiet en nou sit hy in die tronk, want hy's 'n moordenaar."
Gerhard Burger
[Die Taalgenoot - Kortom - Gerhard Burger - Julie 1992]
Klik HIER en word deel van Die Taalgenoot-familie.
No comments:
Post a Comment