Showing posts with label Christa Grobbelaar. Show all posts
Showing posts with label Christa Grobbelaar. Show all posts

Thursday, 2 June 2022

Erfgoed


Wat het ek geërf? Het ek enigiets geërf? Ek wonder!

My ma is oorlede toe ek net twee jaar oud was. Ek onthou niks, niks van haar nie. Ek is nou al baie ouer as wat sy was toe sy op 34 dood is.

O, ek hoor baie storietjies oor haar – my tannie Marie vertel hoe kwaai sy was as ‘n mens op ‘n bed sit: ‘n bed was glo vir slaap, en nie vir sit nie. Wel, dáárdie geit het ek darem nie geërf nie, maar ‘n algemene kwaaierigheid … ja, dalk!

My ousus vertel hoe opgewonde sy was oor die laatlammetjie (dis nou ek) en hoe sy opgedres het tydens haar swangerskap. Ek onthou hoe ek voor die groot spieel in my destydse spaarkamer gestaan het sodat die lig my van agter kan vang, en my rug hol gemaak het in my eerste “maternity” rok van Indiese sy, desperaat-haastig om swanger te lyk sodat ek kan opdres …

Ek hoor hoe sy ‘n stomp kombuismes aangebied het vir my twee bakleiende sussies, met die voorstel dat hulle, as hulle dan nou glad nie oor die weg kan kom nie, mekaar dan maar moet keelaf-sny. Dan onthou ek hoe ek mý twee stryende dogtertjies met hulle ruggies na mekaar toe in die bad laat sit het met ‘n kwaai verbod: “As julle nie mooi met mekaar kan praat nie, moet dan nie eens vir mekaar kyk nie!”

Die toon langs my kleintoontjie is gruwelik krom – gee my altyd moeilikheid as ek wil skoene koop. My oudste het dieselfde toonmoeilikheid. My pa se tone was reguit. So ek wonder …

My prominente of adellike (eintlik maar net groot!) neus kom van my pa af. Die vierkantige bruin geboortevlekkie op my bobeen ook, en ek blameer hom partykeer vir my ongeduldigheid. Maar ek glo my ma het ook vir my ietsie nagelaat – sy was ook lief vir lees en musiek, sê hulle.

Soos Prinses Diana en Marilyn Monroe bly sy altyd jonk en pragtig op die swart-en-wit foto’s wat ek van haar het. Ek dink … nee, ek sien beslis iets van haar in my én in my meisiekinders. Sy sou ‘n trotse ouma gewees het!

[Dankie, Hester vir die deel van hierdie kosbaarheid.]

Gaan lees meer van hierdie onthoustories HIER.

Thursday, 5 May 2022

'n Jakkie vir 'n bibber lyf

Op ‘n onlangse snikhete dag spring ek vinnig in die swembad en raak daarna sommer so in my nat swemklere besig. Nie lank nie, toe sak die sonnetjie en ek begin koud kry. Dit was amper bad- en bedtyd, so ek pluk vinnig my kamerjas bo-oor die swemgewaad aan …

Toe die droë, warm jassie snoesig om my klam-koue lyf vou, hol my gedagtes eensklaps terug, terug, terug na my kinderdae: eers as die jongste van vyf, en later as een van die “kleintjies” in ‘n ry van sewe sussies.

Geld was nie volop nie, maar ‘n see-vakansie was elke jaar op ons kalender. En, hier is nou die herinnering wat deur die kamerjas wakkergemaak is: my ma het jaarliks gesorg dat elke meisiekind ‘n snoesige “strandjakkie” gehad het. Sy het dié snoesige, kleurvolle skeppings uit groot handoeke op die geel Bernina opgetower.

Ek hoor by my susse of hulle dit ook onthou. Een van die “groot sussies” onthou dat hulle ook bypassende toetrek-sakkies gekry het. Seker vir strandgoeters wat ons kleintjies nie nodig gehad het nie. Ek onthou plastiek-visnetjies, emmertjies en grafies, ‘n strepies-sambreel, ‘n groot opblaas-bal en houtspane en ‘n rubberbal waarmee my pa altyd graag wou “bollejol” … 

Ek onthou ook Sylvasun pilletjies in ‘n bruin glasbotteltjie, wat ons vooraf begin drink het – ek is seker dit was nogal ‘n duur item, maar Pappa Tom was ernstig oor sy dogters se velle en sonskade, selfs nog voordat sonskade regtig ‘n ding was! Ek onthou veral die opgewondenheid wat ek saam met die eerste pilletjie kon proe – ons gaan amper see toe!

My ousus onthou ook ‘n Hartenbos-vakansie, en dat die naam van ons huisie Jannewarie was. Ek onthou dit skielik ook, selfs dat dit ‘n rooi houthuisie met wit trappies was, maar voordat sy dit genoem het, het ek niks daarvan onthou nie, en nooit daaraan gedink nie.

Dis opvallend hoe ons verskillende aspekte van dieselfde ding onthou. Hoe iets na baie jare van totale vergeet, skielik weer in volkleur in mens se geestesoog kan afspeel. En hoe die een herinnering ‘n ander een kan wakker maak. Dit laat my dink dat ons onderbewussyn inderdaad ‘n groot skatkis is, een wat ons grootliks onbenut laat lê.

Sou lekker snoesige herinneringe ons nie kon help om bietjie makliker deur moeilike tye kom nie? Dalk moet ons meer gereeld bewustelik probéér om goeie dinge te onthou. Moet ons nie meer dikwels ons eie onthou aanvul met dié van ander nie? En ook … kan ons nie meer gereeld ‘n bibberlyf, en veral ‘n bibber-hart (ons eie én veral ook iemand anders s’n) in ‘n lekker knus jakkie toewikkel nie? 

[Gaan kuier gerus HIER]