Op ‘n onlangse snikhete dag spring ek
vinnig in die swembad en raak daarna sommer so in my nat swemklere besig. Nie
lank nie, toe sak die sonnetjie en ek begin koud kry. Dit was amper bad- en
bedtyd, so ek pluk vinnig my kamerjas bo-oor die swemgewaad aan …
Toe die droë, warm jassie snoesig om my klam-koue lyf vou, hol my gedagtes eensklaps terug, terug, terug na my kinderdae: eers as die jongste van vyf, en later as een van die “kleintjies” in ‘n ry van sewe sussies.
Geld was nie volop nie, maar ‘n see-vakansie was elke jaar op ons kalender. En, hier is nou die herinnering wat deur die kamerjas wakkergemaak is: my ma het jaarliks gesorg dat elke meisiekind ‘n snoesige “strandjakkie” gehad het. Sy het dié snoesige, kleurvolle skeppings uit groot handoeke op die geel Bernina opgetower.
Ek hoor by my susse of hulle dit ook onthou. Een van die “groot sussies” onthou dat hulle ook bypassende toetrek-sakkies gekry het. Seker vir strandgoeters wat ons kleintjies nie nodig gehad het nie. Ek onthou plastiek-visnetjies, emmertjies en grafies, ‘n strepies-sambreel, ‘n groot opblaas-bal en houtspane en ‘n rubberbal waarmee my pa altyd graag wou “bollejol” …
Ek onthou ook Sylvasun pilletjies in ‘n bruin glasbotteltjie, wat ons vooraf begin drink het – ek is seker dit was nogal ‘n duur item, maar Pappa Tom was ernstig oor sy dogters se velle en sonskade, selfs nog voordat sonskade regtig ‘n ding was! Ek onthou veral die opgewondenheid wat ek saam met die eerste pilletjie kon proe – ons gaan amper see toe!
My ousus onthou ook ‘n Hartenbos-vakansie, en dat die naam van ons huisie Jannewarie was. Ek onthou dit skielik ook, selfs dat dit ‘n rooi houthuisie met wit trappies was, maar voordat sy dit genoem het, het ek niks daarvan onthou nie, en nooit daaraan gedink nie.
Dis opvallend hoe ons verskillende aspekte van dieselfde ding onthou. Hoe iets na baie jare van totale vergeet, skielik weer in volkleur in mens se geestesoog kan afspeel. En hoe die een herinnering ‘n ander een kan wakker maak. Dit laat my dink dat ons onderbewussyn inderdaad ‘n groot skatkis is, een wat ons grootliks onbenut laat lê.
Sou lekker snoesige herinneringe ons nie kon help om bietjie makliker deur moeilike tye kom nie? Dalk moet ons meer gereeld bewustelik probéér om goeie dinge te onthou. Moet ons nie meer dikwels ons eie onthou aanvul met dié van ander nie? En ook … kan ons nie meer gereeld ‘n bibberlyf, en veral ‘n bibber-hart (ons eie én veral ook iemand anders s’n) in ‘n lekker knus jakkie toewikkel nie?
[Gaan kuier gerus HIER]
No comments:
Post a Comment