Tuesday 17 May 2022

Dinsdag-denke: Ouderdom is 'n getal

Ouderdom is net ‘n getal vir die flukse 80-jarige

Om ‘n 80ste verjaarsdag te kan vier en steeds gesond en daagliks aan die gang te wees is ‘n voorreg wat nie baie mense beskore is nie. As jy boonop elke dag nog steeds kan werk en dit doen waarvoor jy lief is kan dit sekerlik as ‘n tipe boerpot gesien word.

Dit is presies hoe Johannes Oosthuizen, wat op 9 Julie 2021 sy 80ste verjaarsdag gevier het, se lewe daarna uitsien. Vir dié flukse man, wat daagliks na ‘n massiewe tuin omsien, is ouderdom net ‘n getal.

“Ek werk nog elke dag sewe dae ‘n week by ‘n vervoermaatskappy in Brakpan. Ek is dol oor my werk, en veral oor die mense saam met wie ek werk. Hulle hou my jonk,” het Johannes gesê. Hy vertel dat hy vir 10 jaar lank as ‘n stoorman by die onderneming gewerk het totdat hy as terreinbestuurder aangestel is.

“Ek is verantwoordelik vir die tuin, binne sowel as buite die perseel. Ek het nog altyd ‘n liefde vir tuinmaak gehad en onthou hoe ek as jong kind op die plaas met osse geploeg het.”

Johannes vertel dat hy sy inspirasie uit tydskrifte kry.

“Ek soek altyd vir nuwe tipe plante en idees. Om so ‘n groot tuin (die grond beslaan ‘n hektaar) te beplan moet ek sekere stappe volg,” het Oosthuizen verduidelik.

“Ek besluit altyd eers waar ek ‘n bedding wil maak. Dan sorg ek dat ek die grond goed voorberei. Dis belangrik om te kyk of die bedding in die son of in die skaduwee is.

“Op daardie manier weet jy watter plante om te kry. Plante moet in die regte habitat gehou word. Nadat dat ek my navorsing gedoen het, besluit ek wat ek wil plant.

“’n Mens leer baie uit ‘n tydskrif uit. Ek plant elke seisoen en werk elke dag in die tuin. Om so aktief te wees hou my jonk en gesond.

“Om so ‘n lang lewenspad te stap leer ‘n mens baie dinge in die lewe. My advies aan enige persoon is: wees altyd positief en wees altyd respekvol teenoor almal.”

Oosthuisen se dogter, Shani Strauss (51) sê: “Die grootste voorbeeld wat my pa gestel het was om onvoorwaardelik lief te hê en dat liefde nie met voorwaardes kom nie.

“My pa bly die afgelope 17 jaar by my sedert my ma se dood, en ek is dankbaar dat ons die voorreg het om hom so lank by ons te hê.”

[Geleen - lees die berig met foto's HIER]

No comments:

Post a Comment