Showing posts with label Bejaarde. Show all posts
Showing posts with label Bejaarde. Show all posts

Saturday, 31 January 2026

Hier is voordele om ’n bejaarde persoon te wees – maak gebruik daarvan

 Druk asseblief hierdie uit en gee dit aan alle pensioenarisse en 
bejaarde lede van jou familie en vriende
★ Eiendomsbelasting – As pensioentrekker kwalifiseer jy vir ’n afslag van tussen 40% en 100% op jou eiendomsbelasting.

★ SABC TV-lisensie-afslag – As jy ouer as 70 is, kan jy aansoek doen vir ’n afslag op jou TV-lisensie. Mense onder 70 wat in aanmerking kom vir ’n staats-pensioen of gestremdheidstoelae, kan ook aansoek doen.

★ Hertz – As jy 55 jaar of ouer is, kan jy ’n huurkar uit Hertz se ‘A-groep’ vir so min as R200 per dag kry. Tariewe sluit diefstal- en skadevrystellings, lughaweheffing, BTW, toerisme-heffing en 200 kilometer gratis per dag in.

★ Sanparks – Geniet die prag van enige van die baie parke onder die Sanparks-sambreel teen ’n afslagtarief as jy 60 jaar of ouer is. Dit is slegs van toepassing op sekere maande van die jaar en sluit Vrydae, Saterdae en langnaweke uit. Die afslag geld vir kampering of verblyf en kan tot 40% van die normale tarief wees.
★ Ster Kinekor – Persone bo 60 kry ’n 50%-afslag op alle rolprente by Ster Kinekor op weeksdae en naweke, tot en met die 17:30 vertonings.
★ Nu Metro – Weereens, persone bo 60 kan tot 50% afslag kry op rolprente, mits jy jou ID saambring. Dit is nie van toepassing op Woensdae nie, want almal kry dan ’n spesiale tarief.

★ Game – Persone bo 60 kwalifiseer vir ’n Senior Burgers-afslagkaart wat slegs op Woensdae in alle Game-winkels landswyd gebruik kan word. Die eerste R1 500 wat bestee word, kwalifiseer vir ’n 10% afslag – uitgesluit kruideniersware, drank, versekering, selfone, lugtyd en kontrakte.

★ V&A Waterfront, Kaapstad – “Especially For You”-veldtog bied gratis parkering vir Suid-Afrikaanse pensioenarisse van Maandag tot Vrydag tussen 09:00 en 12:00.

★ City Sightseeing – Pensioenarisspesiaal – ‘n Wonderlike geleentheid om Kaapstad se skoonheid teen ’n afslag te sien. Parkeer by Portswood-parkeerarea en stap na die City Sightseeing-kantoor by die Two Oceans Aquarium om kaartjies teen halfprys te koop. Jy moet by die V&A Waterfront se inligtingsentrum registreer en jou ID saambring.

★ Metrorail – Pensioenarisse kan Dinsdae gratis per trein reis binne die Metropool-gebied (tussen 09:00 – 14:00 op weeksdae). Bring jou ID saam.

★ Pick ‘n Pay – Bestuur van winkels kan hul eie afslagbeleide hê. Sommige gee koeponboekies vir vleis, suiwel, vis en ander items, of hou ’n pensioenarisse-dag met 5% afslag of maandlikse Pensioenarisse-tee. Bo 60 – bring jou ID.

★ Clicks – Bo 60 en ’n ClubCard-lid? Word deel van die Seniors-program en verdien Dubble Punte elke tweede Woensdag van die maand op sekere produkte.

★ Intercape – Bied 15% afslag vir alle persone bo 60. Sitplek op onderste dek is gewaarborg.

★ Dean Moodley Optometrist – Gratis oogtoetse vir ALMAL, insluitend pensioenarisse. Afslag op rame en lense. Geleë in JHB-stadsentrum.

★ AA (Automobile Association) – Persone bo 60 kry groot afslag op die jaarlikse AA-lidmaatskap (Alliance-opsie). Sluit 3 oproepe per jaar in.

★ Dischem – Pensioenarisse kry twee Dubble Punte Dae per maand en ’n jaarlikse Pensioenarisse-tee met ’n produkte-geskenkpak.

★ Torga Optical – Gratis oogtoetse en afslag op rame en lense landswyd vir mense bo 60.

★ Tsogo Sun Hotels – Hotelle soos Southern Sun, Palazzo, Suncoast Towers, Beverly Hills bied 50% afslag op daaglikse beste beskikbare tarief aan mense ouer as 63. Skakel 0861 447 744 om te bespreek.

★ Weighless – Dames bo 60 en mans bo 65 kry afslag. Vitality-lede kry dalk ekstra afslag.

★ Shosholoza Meyl – 25% afslag op alle ritte vir pensioenarisse.

★ Greyhound – 5% afslag vir persone bo 60 op alle reise, enige dag van die week.

★ Orion Hotels – 40% afslag op B&B-tariewe vir persone bo 60.

★ Car Magazine – Spaar 30% op ’n jaarlikse intekening (12 uitgawes).

★ Getaway Magazine – Spaar 30% op jaarlikse intekening (12 uitgawes).

★ Leisure Wheels – Spaar 30% op 12 uitgawes.

★ Spur – Geselekteerde takke bied ’n Seniors Menu vir klante bo 65.

★ Shoprite en Checkers – Gratis koppie sop vir alle bejaarde klante op Woensdag oggende.

★ Tiger Wheel & Tyre – Afslag op bande en sekere produkte/dienste elke Dinsdag vir klante ouer as 60.

Geniet dit

[Bron: Klik HIER]

Sunday, 15 June 2025

Terugblik: Kleindogter wen met roerende opstel oor oupa

Hy was al die jare 'n boer en het nooit 'n CV nodig gehad nie. Toe skryf sy kleindogter *Mari vir hom die beste CV in die hele wêreld, sê die afgetrede mnr. Japie van Rensburg van Philippolis.

Met haar roerende opstel oor haar oupa Japie, het Mari Beukes (12), dogter van mnr. Fanie en Marietjie Beukes van Theunissen, 'n prys van R1000 losgeskryf in die departement van welsyn se opstelkompetisie vir die Jaar van die Bejaarde.

In Ek is lief vir my oupa skryf Mari:

"Ek sien my oupa so voor my. Vandat my ouma dood is, sit hy altyd alleen op sy vaalgroen stoep. Pyp skeef in die mond, beker rooibostee in sy hand.

Hy kyk ver oor die kalerige bossieveld en sien dinge wat net sy moeë oë kan sien. Hy sien eintlik net met een oog, maar met daardie oog sien hy meer as wat die meeste mense ooit sal kan sien.

Sy woorde is eintlik filosofieë, maar net hy weet dit. Hy en ek, want ek en hy ken mekaar "inside out." Die dinge wat hy sê, is vir my so mooi soos Shakespeare, so waar soos Desmond Tutu, so aards soos Langenhoven. Dis pure oupa-wysheid. 

Sy stories neem my na ver plekke. Hulle gee lewe aan die naamlose gesigte op die ou foto's. Hulle is nie swart letters op wit papier nie, maar warm woorde wat in die lug ronddryf en hulle lê op my hart kom kry. Hulle gee meer as wat hulle vra ... net soos hý altyd altyd gee waar ander nie wil nie.

Hy waarsku oor dinge en ek dink soms dis sommer "nonsens," maar dan sien ek hy was reg. Hy sê altyd: "Onthou, jammerhartigheid vreet sy eie baas." Hy weet hy is reg, maar tog raak hy gou jammer en bly hy gee en gee.

My oupa is nie geleerd of slim of belangrik nie. Hy het nie om die wêreld gereis of rekords geslaan nie. Hy is doodgewoon. Maar hy ken my en almal om hom so diep, hy weet sommer wat ons dink.

Hy kan die grootste probleme oplos. Nie wiskundeprobleme nie. Hart- en voelprobleme. Dan praat hy sulke fyn trooswoorde en verf my hele wêreld vol mooi dinge. Hy laat my voel of ek 'n ster is. Asof ek die een of ander wonderlike krag in my het. Hy glo in my. Hy sê hy weet ek kan enigiets doen wat ek regtig wil doen.

My oupa laat dink my partykeer aan die wind. Hy dra my deur slegte tye. Soos wanneer ek sukkel of verlang, maar in goeie tye laat hy myself vlieg. "Gaan kind, geniet dit!" hoor ek hom sê. Hy is nie 'n storm- of seermaakwind nie. Soms fluister hy my in die regte rigting en soms as ek nie wil luister nie, wag hy om my te vang.

Ek kry altyd die laaste stukkie biltong en hy sê ja vir al my kleinkind-versoeke. Dit is asof sy liefde nooit ophou nie. Dit vou my so lekker toe soos 'n wolkombers in die winter.

Hy weet wat Pa en Ma nog nie weet nie. Dat ek net nóú gaan klein wees. Dat ek vinniger as 'n lappie boontjies gaan opskiet die wye wêreld in. Is dit hoekom hy my so fyntjies versorg?

Mens lees in boeke van allerhande wyse manne wat nie toelaat dat omstandighede hulle breek nie. Wat hulself nooit bejammer nie en nooit ophou bid en glo en hoop nie.

My oupa is só 'n wyse man."  

*Mari is 'n leerling aan die Hoërskool Theunissen waar haar pa, Fanie, hoof is en haar ma, Marietjie, 'n onderwyseres. Sy is 'n ywerige leser en skrywer. In 1997 het Mari as negejarige 'n opstelwedstryd gewen oor waarom Bloemfontein die hoofstad van Suid-Afrika moet wees.

Volksblad: Donderdag, 23 Desember 1999 

[Ingestuur deur Ann]

Sunday, 29 September 2024

Gebed vir ons bejaardes


Klik op die prent om 'n duidelike beeld te kry.

[Ingestuur deur Ria Welman]

Saturday, 1 October 2022

Die stoel voor die bed ...

‘n Man se dogter het die plaaslike predikant gevra om vir haar pa te kom bid. Toe die dominee opdaag, kry hy die man in die bed met twee kussings onder sy kop. Langs hom het 'n leë stoel gestaan. Die besoeker aanvaar toe dat die pasiënt hom reeds al verwag het.
"Ek sien u het my verwag," sê hy.
"Nee, wie is jy? - vra die bejaarde man.
Die dominee stel homself voor en merk op:
"Ek het die leë stoel gesien en toe aanvaar dat u dit vir my laat regsit het."
" O ja, daardie stoel,” sê die ouer man. "Sal jy asseblief die deur vir my toemaak?”
Die besoeker maak toe so.

Die ouerman begin toe praat :
“Ek het dit nog nooit vir enige iemand vertel nie, nie eens vir my dogter nie, maar in my hele lewe het ek nog nooit geleer om te bid nie. By die kerk het ons leraar oor gebed gepreek, maar dit was alles bo my vuurmaakplek, maar een dag, omtrent vier jaar gelede, het my beste vriend vir my gesê - Jannie, gebed is maar net eenvoudig 'n gesprek met Jesus, ek stel dus voor dat jy 'n stoel neem en dit voor jou bed sit, dan stel jy jouself voor dat Jesus op daardie stoel sit. Dis nie verkeerd nie, want Hy is tog orals, praat dan net met Hom soos wat jy nou met my praat. Ek het dit dus gedoen en ek hou so baie daarvan dat ek dit 'n paar uur lank elke dag doen, maar ek is versigtig, as my dogter sou sien hoe ek met 'n leë stoel gesels, stuur sy my sowaar na 'n gestig toe.”

Die leraar is diep geroer deur hierdie vertelling en het die pasiënt aangemoedig om so aan te gaan soos hy doen. Hy het toe saam met die ou man gebid en huis toe gegaan. Twee aande later bel die dogter om vir hom om te sê dat haar pappie daardie middag oorlede is.

"Het hy in vrede gesterf ?" vra hy.

"Ja, toe ek die middag twee-uur uit is, het hy my geroep, my vertel dat hy vir my lief is en my gesoen. Toe ek 'n uur later van die winkel af terugkom, het ek hom gekry, maar daar was iets snaaks, blykbaar het hy net voor hy gesterf het, oorgeleun na die stoel se kant toe en sy kop op die stoel neergelê, so as of hy sy kop op iemand se skoot sou neer lê, wat sou dit nou beteken? "

Die predikant vee 'n traan af en sê: "Ek weet nie, maar ek wens ons kon almal so heen gaan met ons kop op JESUS se skoot"

Ons behoort nie te bid sodat mense ons gebede kan hoor nie, ons gebede is bedoel vir God. Gebed is intieme geesteskommunikasie tussen jou gees en die Gees van God wat in jou woon. Dit is Jesus se begeerte om jou met Sy liefde te oorweldig, Hy is die volmaakte Vader en Hy wag vir jou gesprek met Hom.

[Oorgeneem]