Sunday, 15 June 2025

Terugblik: Kleindogter wen met roerende opstel oor oupa

Hy was al die jare 'n boer en het nooit 'n CV nodig gehad nie. Toe skryf sy kleindogter *Mari vir hom die beste CV in die hele wêreld, sê die afgetrede mnr. Japie van Rensburg van Philippolis.

Met haar roerende opstel oor haar oupa Japie, het Mari Beukes (12), dogter van mnr. Fanie en Marietjie Beukes van Theunissen, 'n prys van R1000 losgeskryf in die departement van welsyn se opstelkompetisie vir die Jaar van die Bejaarde.

In Ek is lief vir my oupa skryf Mari:

"Ek sien my oupa so voor my. Vandat my ouma dood is, sit hy altyd alleen op sy vaalgroen stoep. Pyp skeef in die mond, beker rooibostee in sy hand.

Hy kyk ver oor die kalerige bossieveld en sien dinge wat net sy moeë oë kan sien. Hy sien eintlik net met een oog, maar met daardie oog sien hy meer as wat die meeste mense ooit sal kan sien.

Sy woorde is eintlik filosofieë, maar net hy weet dit. Hy en ek, want ek en hy ken mekaar "inside out." Die dinge wat hy sê, is vir my so mooi soos Shakespeare, so waar soos Desmond Tutu, so aards soos Langenhoven. Dis pure oupa-wysheid. 

Sy stories neem my na ver plekke. Hulle gee lewe aan die naamlose gesigte op die ou foto's. Hulle is nie swart letters op wit papier nie, maar warm woorde wat in die lug ronddryf en hulle lê op my hart kom kry. Hulle gee meer as wat hulle vra ... net soos hý altyd altyd gee waar ander nie wil nie.

Hy waarsku oor dinge en ek dink soms dis sommer "nonsens," maar dan sien ek hy was reg. Hy sê altyd: "Onthou, jammerhartigheid vreet sy eie baas." Hy weet hy is reg, maar tog raak hy gou jammer en bly hy gee en gee.

My oupa is nie geleerd of slim of belangrik nie. Hy het nie om die wêreld gereis of rekords geslaan nie. Hy is doodgewoon. Maar hy ken my en almal om hom so diep, hy weet sommer wat ons dink.

Hy kan die grootste probleme oplos. Nie wiskundeprobleme nie. Hart- en voelprobleme. Dan praat hy sulke fyn trooswoorde en verf my hele wêreld vol mooi dinge. Hy laat my voel of ek 'n ster is. Asof ek die een of ander wonderlike krag in my het. Hy glo in my. Hy sê hy weet ek kan enigiets doen wat ek regtig wil doen.

My oupa laat dink my partykeer aan die wind. Hy dra my deur slegte tye. Soos wanneer ek sukkel of verlang, maar in goeie tye laat hy myself vlieg. "Gaan kind, geniet dit!" hoor ek hom sê. Hy is nie 'n storm- of seermaakwind nie. Soms fluister hy my in die regte rigting en soms as ek nie wil luister nie, wag hy om my te vang.

Ek kry altyd die laaste stukkie biltong en hy sê ja vir al my kleinkind-versoeke. Dit is asof sy liefde nooit ophou nie. Dit vou my so lekker toe soos 'n wolkombers in die winter.

Hy weet wat Pa en Ma nog nie weet nie. Dat ek net nóú gaan klein wees. Dat ek vinniger as 'n lappie boontjies gaan opskiet die wye wêreld in. Is dit hoekom hy my so fyntjies versorg?

Mens lees in boeke van allerhande wyse manne wat nie toelaat dat omstandighede hulle breek nie. Wat hulself nooit bejammer nie en nooit ophou bid en glo en hoop nie.

My oupa is só 'n wyse man."  

*Mari is 'n leerling aan die Hoërskool Theunissen waar haar pa, Fanie, hoof is en haar ma, Marietjie, 'n onderwyseres. Sy is 'n ywerige leser en skrywer. In 1997 het Mari as negejarige 'n opstelwedstryd gewen oor waarom Bloemfontein die hoofstad van Suid-Afrika moet wees.

Volksblad: Donderdag, 23 Desember 1999 

[Ingestuur deur Ann]

No comments:

Post a Comment