Showing posts with label gemeenskapskerk. Show all posts
Showing posts with label gemeenskapskerk. Show all posts

Tuesday, 15 August 2023

Dinsdag-denke: ‘n Vader se belofte

Hierdie is die ware verhaal van ‘n vader wat vir 36 ure deur bourommel gegrawe het na ‘n aardbeweging, opsoek na sy seun - omdat hy ‘n belofte aan hom gemaak het. Die verhaal van Armand se vader herinner ons aan die gebeure wat plaasgevind het by die graf van ons Verlosser toe ons Hemelse Vader ‘n baie groter belofte gehou het deurdat Hy ‘n rotsblok van nog groter betekenis weggerol het.

25 jaar gelede (7 Desember 1988) het ‘n 6.9-aardbewing gevolg deur ‘n 5.8-naskok Armenia feitlik gelyk gemaak en oor die 45 000 mense het gesterf in minder as vier minute. Dit is moeilik om jouself voort te stel die wroeging, pyn en leiding wat begin het in die kortstondige vier minute – mense se hele wêreld is omgekeer en lewens verwoes. Ten spyte van die verwoesting bring sulke tragedies soms die beste in mense na vore - dit voorsien ‘n venster om die inhoud van elkeen se hart te sien. Laat my toe om jou die hart van ‘n liefdevolle vader te wys.

Te midde van die chaos en verwoesting het hy gejaag na sy seun se skool. In plaas van ‘n skool het hy slegs ‘n vormlose ruïne van steen, klip, hout en sink aangetref waar die skool eens gestaan het. Dink jouself in wat het deur sy gedagtes gegaan. Wat sou op daardie stadium deur jou gedagtes gegaan het? Moontlik sou skok jou ook so verlam het soos die ander ouers wat in ‘n dwaal op die perseel rondgestaan het en droefgeestig na hulle kinders geroep het terwyl ‘n groot benoudheid hul oorval het.

Maar in die geval van die vader, het die verwoeste gebou hom aangespoor om tot aksie oor te gaan. Hy hardloop na die agterste hoek van die gebou waar sy seun se klaskamer voorheen was en hy begin onmiddellik te grawe. Hoekom? Watse hoop het hy gehad? Wat was die kanse dat sy seun so ‘n verwoesting kon oorleef? Al wat hy geweet het is dat hy sy seun belowe het dat hy altyd daar sal wees vir hom. Dit was die belofte wat krag aan sy liggaam voorsien het en hom geestelik gemotiveer het.

Terwyl hy begin het om te grou, het wel menende ouers hom probeer wegkry by die rommel met die woorde: “Dit is te laat!” “Hulle is dood!” “Jy kan niks meer vir hulle doen nie!” “Jy kan hulle nie help nie!” “Gaan huis toe!” Die hoof van die brandweer het hom ook probeer wegkry en hom meegedeel: “Brande en ontploffings vind oral plaas. Jy verkeer in groot gevaar. Gaan huis toe!” Ten einde laaste het die polisie opgedaag en aan hom gesê: “Jy is kwaad, getraumatiseerd, maar dit is verby. Gaan nou eerder huis toe.” Maar die vader het ‘n belofte gemaak en hy was vas van plan om daarby te hou!

Die liefde wat die vader in sy hart gehad het vir sy seun het hom aanhou laat grou vir agt ... 12 ... 24 ... 36 ure. Toe, in die 38ste uur rol hy ‘n groot stuk beton rotsblok weg en hoor sy seun se stem wat roep om hulp. Dadelik roep hy: “ARMAND!” Die seun roep terug, “Pa!? Ek het hulle gesê! Ek het die ander kinders gesê dat as pa nog leef, sal hy my kom red! Jy het belowe dat jy altyd daar sal wees vir my en jy het jou belofte gehou!

‘n Vasbeslote vader, ‘n belofte en ‘n rotsblok wat weggerol word om lewe te onthul en vryheid te skenk. Die verhaal van Armand se vader herinner ons aan die gebeure wat plaasgevind het by die graf van ons Verlosser toe ons Hemelse Vader ‘n baie groter belofte gehou het deurdat Hy ‘n rotsblok van nog groter betekenis weggerol het.

Met die wegrol van die steen, het daar vir ons ewige lewe gekom en ware vryheid in Christus. En weet julle wat? Ons Hemelse Vader is nog steeds in die besigheid van die wegrol van klippe.

Wat is die klippe in jou lewe?

Dit maak nie saak hoe groot of hoe klein hulle is nie, ons Vader is nou op soek na jou. Hy soek deur die rommel en ruïnes van lewens wat nie vir Hom geleef word nie en Hy wil die rotse wegrol van wanhoop en slaweband wat jou bind.

Mag jy onthou of miskien vir die eerste keer ontdek dat ons God die grootste beloftes ooit gemaak het en Hy is oorvloediglik in staat om hulle almal na te kom net soos Hy die baie spesiale belofte aan Sy Seun nagekom het so tweeduisend jaar gelede.

[Nog kosbare stories HIER]

Tuesday, 18 April 2023

Dinsdag-denke: Tyd is kosbaar

Hierdie is ‘n pragtige storie wat ons weer daaraan herinner word, hoe belangrik en kosbaar tyd is. Nie net vir werk en die aardse dinge nie, maar ook vir die belangrike mense in jou lewe. Maak nie saak hoe besig jou dag is, of hoe moeg jy is nie, jou gesin verdien ook ‘n deel van jou tyd wat jy die heeldag so aan ander uitdeel. Prediker 3:1-8 sê nie verniet dat daar ‘n tyd vir alles onder die son is nie.Tyd is kosbaar.

Met ‘n sagte stemmetjie en oë wat vol bewondering is, groet die klein seuntjie sy pa wat net van die werk af terug gekom het, “Pappa, hoeveel geld verdien pappa per uur?”

Baie verwonderd gluur die pa sy seun aan, en sê, “Kyk seun, nie eens jou ma weet dit nie. Moet my nie nou verder pla nie. Ek is moeg.”

“Maar Pappa, vertel my tog net asseblief! Hoeveel verdien Pappa per uur,” het die seuntjie aangehou.

Later het die pa maar moed opgegee en antwoord: “Twintig rand per uur.”

“Dankie, Pappa. Kan Pappa asseblief vir my tien rand leen?” vra die seuntjie in ‘n bangerige stemmetjie.

Hoogs verontwaardig en erg geïrriteerd snou sy pa hom toe, “So dis die rede hoekom jy wil weet hoeveel geld ek per uur verdien? Gaan slaap nou en moet my nie verder pla nie!”

Heelwat later die aand, terwyl die pa in die donkerte sit en alles oordink wat hy aan sy seun gesê het, het hy baie skuldig gevoel. Hy het by homself gedink, miskien wil sy seun vir homself iets koop wat hy baie graag wil hê.

Na ‘n wyle, om sy gewete te sus, staan die pa op en gaan na sy seun se kamer. “Slaap jy al my seun?” vra sy pa.

“Nee Pappa. Hoekom?” antwoord die seuntjie ietwat deur die slaap.

“Hier is die geld wat jy vroeër gesoek het, my seun,” antwoord sy pa.

“Baie dankie, Pappa,” juig die seuntjie terwyl hy sy klein handjie onder sy kussing indruk en nog geld onder sy kussing uithaal. “Nou het ek genoeg!! Nou het ek twintig rand!” deel die seuntjie sy pa opgewonde mee.

Sy pa het hom aangestaar, heeltemal verward oor wat sy seun nou gesê het.

“Pappa, kan jy asseblief aan my een uur van jou tyd verkoop?”

Tyd is hopeloos te kosbaar om dit alles aan werk te spandeer! Waardeer jou geliefdes en moet hulle nie sommer net as vanselfsprekend aanvaar nie.

Moet nooit toelaat dat jou kinders of jou vrou of jou man jou moet kom vra om van jou tyd te koop vir hulself nie.

[Nog kosbare stories HIER]