Showing posts with label Gebede. Show all posts
Showing posts with label Gebede. Show all posts

Sunday, 10 May 2026

Vir ma ...

Dis Moedersdag. Ek stap deur my goed versorgde tuin en pluk my mooiste roos - vir my ma. My gedagtes gooi ver draaie tot daar dóér in die bywonershuisie. Ma, by die voetenent van hul bed, knielend, biddend. Die kaalvoetdogtertjie in die verslete nagrokkie wil weet: "Ma, hoekom bid ma so lank?"

Sonder om te aarsel, kom die antwoord: "Vir jou, my kind, want om ongedeerd deur hierdie wrede wêreld te kom en om jou drome verwesenlik te sien, sal jy baie gebed nodig hê."

Vandag, sewentig jaar later, weet ek dat ma se gebede my nog altyd dra. En nou bring ek dié roos en vra dat my ma my moet vergewe vir die talle kere dat ek die pad byster geraak het. Ek is jammer dat ek gevra het vir die laaste tiensjielingnootjie in die "kêsboksie," maar die blink skoentjies met die strikkies was só mooi, Ma! Op sestien was ek seker maar te selfsugtig om op te let hoe verslete ma se skoene was.

Dankie, Ma. Ek bring hierdie roos, al is dit sewentig jaar te laat.

Jo Goodwood

[Hierdie brief het in die negentigjare in 'n tydskrif verskyn en 'n fotostaat daarvan het sy weg na my lessenaar gevind wat ek graag deel.]

Wednesday, 22 April 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Wat maak gebed so anders?

Jy hoef nooit 'n afspraak te maak nie, 
die lyn is nooit beset nie.
Daar is nooit te veel ander besoekers nie.
Die Hoorder is nooit te besig nie.
Hy is nooit uithuisig nie.
Hy stuur nooit vir jou weg nie.
Hy val jou nooit in die rede nie.
Hy luister nooit met 'n halwe oor nie.
Hy vergeet nooit 'n versoek nie.
Hy is nooit raadop nie.
Hy word nooit moeg nie.
Hy is nooit in 'n slegte bui nie.
Hy ag niks onbelangrik nie.
Hy vra nooit vergoeding nie.
Hy wag op ons.

[Dankie, Nerine, vir die aanstuur hiervan.]

Monday, 29 December 2025

Vandag se internetgebed vir jou: Wanneer ons bid

ELKE keer wanneer ons BID, is daar ‘n BEROERING in die HEMELE ... en op AARDE. Elke GEBED wat ons BID, sneller ‘n Goddelike REAKSIE in die GEES-DIMENSIE. Die ALLERHOOGSTE GOD mis nie een gebed nie. Elke gebed wat ons BID, het bonatuurlike MOMENTUM en KRAG. Gebed verander nie net OMSTANDIGHEDE vir ons nie. Dit verander ook ONS vir die omstandighede. Soms bid ons vir die BERG om te skuif ... maar dikwels skuif die HERE ons. Soms gee die HERE nie vir ons wat ons gevra het nie, want Hy het iets BETERS in gedagte. Solank ons net glo en verstaan: HY weet altyd die BESTE vir ons. Daarom het HY die LAASTE SÊ! GEBED is altyd ‘n teken van ons KINDERLIKE geloof in die Lewende GOD. Dankie VADER dat U altyd na ons GEBEDE LUISTER! Amen.

Saturday, 9 August 2025

Vrouedag en vrouemaand


Op Vrouedag hier by Ons Huis wil ons dankie sê vir elke vrou se onmisbare en noodsaaklike bydrae tydens haar aktiewe jare, tuis sowel as in die gemeenskap. Noudat hierdie vrouens hulle pas makeer het, wil ons graag elke vrou herinner aan die aktiewe en dinamies vrou wat sy was en steeds is, net in 'n ander rat.

Die lewe was en is vol moeilike uitdagings, sommige meer uitdagend as die ander. Onthou: Kyk die lewe vierkantig in die oë, terwyl jy jou oë opslaan na die berge waar ons hulp nog altyd vandaan kom. 

Mag jy deur jou vriendelikheid, bedagsaamheid en gebede 'n verskil maak in dié wêreld en dit 'n beter plek maak.

Gelukkige Vrouedag!