Sunday, 10 May 2026

Vir ma ...

Dis Moedersdag. Ek stap deur my goed versorgde tuin en pluk my mooiste roos - vir my ma. My gedagtes gooi ver draaie tot daar dóér in die bywonershuisie. Ma, by die voetenent van hul bed, knielend, biddend. Die kaalvoetdogtertjie in die verslete nagrokkie wil weet: "Ma, hoekom bid ma so lank?"

Sonder om te aarsel, kom die antwoord: "Vir jou, my kind, want om ongedeerd deur hierdie wrede wêreld te kom en om jou drome verwesenlik te sien, sal jy baie gebed nodig hê."

Vandag, sewentig jaar later, weet ek dat ma se gebede my nog altyd dra. En nou bring ek dié roos en vra dat my ma my moet vergewe vir die talle kere dat ek die pad byster geraak het. Ek is jammer dat ek gevra het vir die laaste tiensjielingnootjie in die "kêsboksie," maar die blink skoentjies met die strikkies was só mooi, Ma! Op sestien was ek seker maar te selfsugtig om op te let hoe verslete ma se skoene was.

Dankie, Ma. Ek bring hierdie roos, al is dit sewentig jaar te laat.

Jo Goodwood

[Hierdie brief het in die negentigjare in 'n tydskrif verskyn en 'n fotostaat daarvan het sy weg na my lessenaar gevind wat ek graag deel.]

No comments:

Post a Comment