Showing posts with label Reënboog. Show all posts
Showing posts with label Reënboog. Show all posts

Wednesday, 16 April 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Gedagtes rondom reën

Besef ons werklik wat reën is?

Na 'n lang dor en droë winter in die Noord-Kaap, pak die onweerswolke saam. Dan blits die eerste weerligstraal na benede ... soos 'n sweepslag, en 'n paar oomblikke later volg die rammel van die donder. Die eerste groot druppels plons op die dorre aarde, wat dit gulsig en haastig verswelg. Nog meer reën ... dit stort emmersgewyse na benede. Die aarde word nat en die grond is deurweek.

Dit kletter op die sinkdakke en verkondig so die blye tyding. Die geute sukkel om die stroom water weg te voer. Spoedig word die bruin malende massa water in die strate omskep in rivierstrome -  die dreineringskanale kan kwalik bybly ...

Die bome, struike, plante, ja, selfs die huise is skoon gewas. Die storm bedaar geleidelik en die vars prentjie is onbeskryflik mooi. Die wolke trek stadig weg en skaam-skaam loer die sonstrale deur die wolke.  

Dan verskyn die pragtige reënboog teen die horison. Onwillekeurig dink jy hoe oupa en ouma vir jou as klein dogtertjie vertel het, dat as jy die reënboog kan vind, jy al die geluk van die wêreld sal hê. Jy glo dit, totdat jy groter is en besef geluk word nie deur die reënboog bepaal nie, maar deur innerlike vrede. 

Die aarde is skoongewas deur die reën. Die voëls hef 'n danklied aan en met die getjirp van die mossies in my ore, voel ek lus om saam te sing:
Reën, reën, lieflike reën
Val op die aarde, val om ons heen.  

[Dankie, aan 'n inwoner vir die jeugherinneringe.]

Sunday, 17 September 2023

Sonskyn en reënboë verdof

Daar is tye in ons lewe wanneer die son nie meer so helder skyn - 
wanneer die reënboog verdof
onder jou denke se stof 
wanneer alles binne jou stil gaan staan
jy is uit jou lewenswentelbaan - 
jy moet besluit of jy so voort wil gaan
dis net 'n lewe van elke dag net bestaan.
Prediker beskryf dit so goed - 
dis nie heuning vir 'n seer gemoed
tog is dit alles waar
in GOD se Woord word dit vir ons uitgeklaar
dan kom die wete ...
die besef - dis nie in jou hande
jy lê jou lewe voor  GOD op die altaar
dis net HY wat 'n offer vir jou kan bied -
mag jou geloof in HOM nooit tekort skiet
dit is net ...
geloof 
hoop 
en 
liefde
wat ons hierdeur kan dra
ons moet in  gebed bly bid
glo en vra ...