Showing posts with label Mossiestilte. Show all posts
Showing posts with label Mossiestilte. Show all posts

Sunday, 8 March 2026

Oomblik van stilte: Sef. 3:5

Die Here het jou oordele opgehef, jou vyand weggeveeg; die koning van Israel, die Here is by jou, jy sal geen kwaad meer vrees nie.

Vrees niks meer nie en laat jou hande nie slap hang nie! (vers 16b)
Die Here jou God is by jou, 'n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel. (vers 17)
Kyk in die tyd sal Ek met al jou verdrukkers handel; en die wat kreupel is, sal Ek red; en die wat verjaag is, versamel; en Ek sal hulle maak tot 'n lof en tot 'n roem wie se skande oor die hele aarde was.(vers 19)

Here, by U vertoef ek, by U alleen staan ek, want U bewaar my van die bose en U voorsien vir my, my daaglikse voedsel. U versamel my saam met die geseëndes onder die volke volgens die belofte aan u vriend Abraham. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 16 November 2025

Oomblik van stilte: Luk. 24:39 + 43 + 51

Kyk na My hande en voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want 'n gees het nie vlees en bloed nie.
En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet.
En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem. 

Hierdie Jesus, die Messias, die Seun van God het vir jou gesterf; aanskou en voel, sê Hy vir sy dissipels en Hy eet voor hulle.
Hy is nie Gees nie, maar vlees, wat in die hemel voor hulle oë opgeneem is, terwyl Hy hulle seën.
Hierdie Jesus het die Heilige Gees vir jou gestuur om jou te leer en te lei in waarheid en in Gees.
Hy was vir jou bedroef sodat jy in vreugde kan leef; Hy was vir jou benoud sodat jy in vrede kan leef; Hy was vir jou met rieme uitgetrek, sodat jy genees kan word; Hy het vir jou gesterf sodat jy kan leef tot in ewigheid, Hy het met sy bloed vir jou sondes betaal en jou gereinig, sodat jy vlekkeloos voor God kan staan in die poorte van die koninkryk van die Vader en saam met Christus in hemelse plekke kan sit.
God het jou met sy guns geseën en Hy berei vir jou 'n plek voor, waarna Hy jou kom haal om saam met Hom te wees.

Dankie, Jesus, dat U die vlees oorwin het. U het vir my u oorwinning gegee in u Heilige Naam. Ek staan vreesloos en aanskou die aanvalle van Satan wat niks teen my kan uitrig nie. U liefde is my toekoms. My lewe is Christus en die dood is 'n wins. Ek is geseënd, soos Job gesê het; Die Here gee en die Here neem, geloofd sy die Here. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 9 November 2025

Oomblik van stilte: Spr. 3:5 & 6

Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou insig nie.
Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelyk maak.

Waarop vertrou jy, as benoudhede jou oorweldig? Wie vra jy eerste, om jou te help met raad en bystand?
Daar is sekere dinge wat jy kan doen, en of, nie kan doen nie. Beide kan gedoen, of probeer word, sonder om God te raadpleeg; dan steun jy op jou eie insigte en sal nie die seën van God ervaar nie.
Steun, of leun op God vir jou krag en insig, voordat jy met jou eie kragte probeer, al is jy goed daarin, of gewoond om dit vanself te doen.
Ken die Here, soek sy insig en wees nie wys in jou eie oë nie, sodat God jou paaie gelyk kan maak.

Here, ek erken dat U God is en dat u Seun, vir my gesterf het en my vrygemaak het. U Heilige Gees, gee my die krag en lyding, of wysheid, om die regte besluite te neem en my planne uit te voer. Ek neem besluite, maar U rig my voete in die regte rigting. Ek steun nou op U, om my te help met my take en pligte. Ek weet ek sal u genade vind en goeie insig in die oë van God. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 2 November 2025

Oomblik van stilte: Hand. 17:28

Want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, 

Hierdie woord is een waarop jy kan staatmaak en jou staan maak. Lewe is om in God te wees en die vryheid van Goddelike lewe te lei.
So beweeg jy in sy lewe en het die vryheid van beweging in die Naam en wil van God, want sy bloed het jou waarlik vrygemaak
God sê: "Ek is wat Ek is." In God IS jy, deur sy genade; Hy beskerm en behoed jou; in Hom is jou geregtigheid. 

Dankie, Here, dat ek in U kan lewe en die vryheid van beweging kan hê en net kan wees. U woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie. Ook word U nie met mensehande gedien asof U iets nodig het nie, omdat Uself aan almal lewe en asem gee. (vers 24 & 25). Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 26 October 2025

Oomblik van stilte: Rom. 5:1

Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus;

Die verdrukking waardeur jy soms gaan, werk lydsaamheid, en die lydsaamheid beproefdheid, en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in jou hart uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan jou gegee is. (sien vers 3 en 4)
Weet dit, dat toe jy nog deur die sonde 'n vyand van God was, het God jou versoen deur die dood van sy Seun, veel meer sal jy deur sy lewe gered word, nou dat jy versoen is. (sien vers 10)

Here, ek roem nou in U deur Jesus Christus, deur wie ek nou die versoening gekry het. U het my naam in u hande gegrafeer en my sondes aan die kruishout vasgenael. U genade en die gawe van geregtigheid deur die genade van een mens, Jesus Christus het vir baie en my oorvloedig geword (sien vers 15). Amen. 

Sunday, 19 October 2025

Oomblik van stilte: 2 Kor. 12:9

En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want My krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.

Luk. 24:49b Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte. 
Hand. 1:8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom.
Die woord van God is nog altyd volkome gemaak in mense met swakhede. 
Is jy swak vandag, bevrees, ontmoedig of siek? Roep Jesus aan, want elkeen wat sy Naam aanroep, sal gered word. (Hand. 2:21).

O Here, ek roep u Naam vanoggend. Ek wil my swakheid bely want u genade is genoeg vir my en ek sal vanuit die hoogte met krag toebedeel word. U het u Heilige Gees aan my gegee om my te versterk en in oorwinning in die Naam van Jesus te leef. Aan U gee ek al die eer en roem in my swakheid, want U krag word nou in my volbring. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 12 October 2025

Oomblik van stilte: Sag. 3:1

Daarna het Hy my Josua die hoëpriester, laat sien, terwyl hy voor die Engel van die Here staan, en die Satan aan sy regterhand staan om hom aan te klae.
Toe sê die Here aan die Satan: Mag die Here jou bestraf, o Satan!

Vergelyk ook Job. 1:6-12 + 2:1-7

Satan kla die mensdom by God aan en bring net verderf op mens en dier.
Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die Here van die leërskare. Sag. 4:6 So sal die Here jou red deur sy Gees.
Die Spruit sal die tempel van die Here bou. Sag. 6:12b
Sag. 6:15 sê, En die wat ver is, sal kom en aan die tempel van die Here bou.
Luister nougeset na die stem van die Here.

Dankie, Vader, dat U deur u seun my gered het en die Satan vervloek het. U gee my u krag deur u Gees. Ek is meer as oorwinnaar deur die Spruit, Christus wat my die krag gee. Die Spruit van Dawid. Ek loof U, Spruit van Dawid, U is my krag en sterkte. U is my verlossing. Ek is deel van u tempel. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 5 October 2025

Oomblik van stilte: Ps. 38:16

want op U, Here; wag ek; Ú sal verhoor, Here my God!

Hoekom wag jý op die Here; verwag jy straf vir jou ongeregtigheid? Of verwag jy hulp van God?
Jesus het vir al jou ongeregtigheid betaal en jou gereinig. 
Laat jou nie ophou met leuens van die wêreld en van Satan nie.
Die Here het jou sy eiendom gemaak en sal jou nie begewe nie.
Laat jou hart gedurig juig in die Here jou Redder.

Here, U is my Verlossing van die dood. U genade dra my dag vir dag. Ek wag op U, U versterk my en lei my in geregtigheid, om u Naam ontwil. Hierdie dag sal ek weereens U goedheid ervaar en sien hoe U die antwoord op al my probleme is. Van U is my verwagting, u barmhartigheid red en genees my. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 31 August 2025

Oomblik van stilte: Luk: 8:50

Maar toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom en sê: Moenie vrees nie. Glo net, en sy sal gered word.

Ons "sien is ons glo;" dit is egter nie geloof nie. 
Heb. 11:1 Die geloof dan is 'n VASTE VERTROUE op die dinge wat ons hoop, 'n BEWYS van die dinge wat ons nie sien nie.
Heb. 11:8. Deur die geloof dan het Abraham, toe hy geroep is weggetrek ... sonder om te weet waar hy sou kom.

Here, laat ek vandag my mate van geloof opvul deur U te vertrou, vir die toekoms en al my planne. Ek wil opkyk na U en nie na my verwoestende omstandighede nie. Ek gee aan U al die eer en heerlikheid, met die wete dat U altyd getrou bly aan u woord. U is die waarmaker van u woord. Prys U grote Naam. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 24 August 2025

Oomblik van stilte: Rom. 15:13

En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!

Moenie toelaat dat jou blydskap en vrede gesteel word hetsy deur omstandighede en of mense nie.

Laat die geskenk van die Vader, die Heilige Gees, julle vul en oorvloedig laat vrug dra in die bevryding in Christus Jesus. 
Wees oorvloedig in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!

Here, dankie vir die Skrifte en lering van tevore, sodat ek deur lydsaamheid  en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê. Help ons mekaar nie te veroordeel nie, maar in eensgesindheid mekaar aan te neem ooreenstemmig die wil van Christus  Jesus, net soos wat U ons ook aangeneem het. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 3 August 2025

Oomblik van stilte: Dan. 3:28

Daarop het Nebukadnésar gespreek en gesê: Geloofd sy die God van Sadrag, Mesag en Abednego, wat sy engel gestuur en sy knegte verlos het wat hulle op Hom verlaat het en die bevel van die koning oortree het, en wat hulle liggame oorgegee het om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe hulle God.

Sal ons op ons God so vertrou? Dit kan net gebeur as ons in alle nederigheid mekaar dien in geloof aan God. Elkeen probeer hom/haarself verlos, maak nie saak hoe nie.
God word nie meer in huise gedien nie; kinders leer nie meer by hul ouers van God nie.
Ouers laai kinders by Sondagskole af en kom nie eers meer kerk toe nie, maar by die huis word die wêreld gedien en vereer.
"Moenie my vertel hoe ek moet leef nie",
Almal glo in God solank God net nie vir hulle vertel wat en hoe om te leef nie.
"Ek lees die Bybel anders". Allerhande verskonings om net nie "te kerklik" te raak nie.
Alles met 'n "te" aan is verkeerd. Kan ons regtig "te" veel bid, "te" veel Bybel lees, "te" veel glo in God?
Hy loop met die Bybel onder die arm rond.
Wat is onder jou arm? 
Wie is jou God? 
Sal jy bereid wees om jou liggaam oor te gee vir God?
God is 'n God van liefde en sal nooit dit van my verwag nie?? 
Het jy al ooit gedink wat verwag God van jou, nadat Hy sy Seun vir jou opgeoffer het.

Here, help my om nederig te bly; help my om ander op te bou en te help in hulle nood. Ek is so geseënd met u genade en voorsiening. Ek weet ekself is nie altyd die voorbeeld wat ek moet wees nie; ek dra nie altyd die vrug van bekering nie. Heilige Gees, lei my en leer my om meer te wees soos Jesus; om my naaste lief te hê soos wat U my liefgehad het en U te dien met alles wat in my is (verg. Joh. 13:34). Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 20 July 2025

Oomblik van stilte: Deut. 32:3b-4

Gee grootheid aan ons God!
Die Rots ... volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; 'n God van trou en sonder onreg; regverdig is Hy.

King James 
Ascribe ye greatness unto our God.
He is the Rock, His Work is perfect: for all His Ways are judgement (or just): a God of Truth (faithfulness) and without iniquity (injustice), Just and Right is He (Righteous and Upright is He)

Die grote God, die Almagtige word hier deur Moses besing in sy lied. 5 keer word die woord Rots in hierdie lied van Moses genoem, om God te besing en te verheerlik. 
Begin ook om God te verheerlik vandag; besing God in sy almag en getrouheid, reg en geregtigheid.
Wees bly in die Here jou Rots, waarop jou voete nie sal wankel nie.

O Here, hoe groot is u Naam! Reg en geregtigheid is wie U is! U bly getrou en ek besing U gootheid en Almag, die een op wi ek vertrou. Ek gee al die grootheid aan U. U werke is perfek, u Woord het dit gespreek. Amen.

Sunday, 13 July 2025

Oomblik van stilte: Gen. 15:9-10 en 17-18a

en Hy antwoord hom: Neem vir My 'n driejaaroud vers en 'n driejaaroud bokooi en 'n driejaaroud ram en 'n tortelduif en 'n jong duif. 
En hy het dit vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helfes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie.
En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar 'n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur.
Op die dag het die Here met Abham 'n verbond gesluit.

So is verbonde gesluit in die Ou Testament.
Abraham moes saam met God geloop het vir die daarstelling van 'n verbond tussen hom en God.
Maar God het alleen deurgegaan sodat, sou Abraham die verbond breek moet God alles betaal.
So het God dan vir Jesus op die end vir alles; ons sondes en verbreking van die verbond betaal.

Dankie Here, in u wysheid ken U die swakheid van die mens, en het U vir my die verbond gemaak. Toe ek dit nie kon hou nie het U dit alles betaal. U is my altyd een voor en het my bevry van my skuld in U verbond met my. Dankie Here vir u genade en liefde ook vir vandag. Amen.

Sunday, 6 July 2025

Oomblik van stilte: 2 Sam. 2:2+3b

Niemand is heilg soos die Here nie ja, daar is niemamd buiten U, en daar is geen rots soos onse God nie
want die is 'n God van diepe kennis, en deur Hom word die dade beproef

Vir baie jare het Hanna gebid vir 'n kind.
Haar gebede is verhoor en haar hartseer genees.
Sy het 'n seun gebaar en hom Samuel genoem, want sy het hom van die Here gebid.
En sy het hom ook afgestaan, sodat hy die gedien het al die dae van sy lewe.
So wil die Here ook vir jou vandag gee wat jy van Hom bid.

O Here, ek wil soos Hanna met 'n liefdeslied aan U Here, die dag begin. Sy het haar eersgeborene aan die Here teruggegee, om die Here te behaag. Ek wil ook aan U teruggee wat U aan my gegee het. Al my aardse dinge beteken niks teenoor u seëninge waarvoor ek gebid het nie. U het my op 'n vaste Rots geplaas sodat ek vandag stewig kan staan. Daar is niemand soos U nie, en geen rots soos U nie. U Naam is heilig bo alle name. Amen.

Sunday, 29 June 2025

Oomblik van stilte: 2 Kon. 18:24a

Roep julle dan die naam van julle God aan, en ék sal die Naam van die Here aanroep; en die God wat met vuur antwoord,  Hy sal God wees.  

In die regeringstyd van Koning Agab het Elia die Here geraadpleeg en dit het vir drie jaar nie gereën nie. 
Agab en Isebel het die profete van Israel vermoor en ander bose dinge gedoen en hulle het elke geleentheid gesoeknom Elia ook dood te maak.
Nou roep Elia, 54  profete van Baäl, voor die oë van Agab en daag hulle uit. 1Kon 18:24.
In vers 38 kom die Here en antwoord met vuur.
Die Baäl priesters word gedood.
Daarna kom die groot reën na drie jaar en die Here omgord Elia se heupe dat hy voor Agab met sy perde en strydwaens uit hardloop.
In Amerika is die altaar van die seksgod, Asjera (wat ook in die tyd van Agab vereer was), letterlik 'n jaar of twee terug, stukkend geslaan voor 'n groot skare.

Here, u alleen is die ware Alleenwyse God. U antwoord met vuur. U Heilige vuur verteer wat geen ander god kan doen nie, al dans en sny en roep die wêreld na hulle god. Net U alleen sal my antwoord. Net U alleen sal my versterk. U Heilige vuur sal oor my kom en U Heilige Gees sal my versterk en omgord, om staande te kan bly, in 'n verdraaide wêreld wat U bespot en verwerp. U vuur, reinig en heilig my, om in oorwinning u goeie boodskap uit te dra. En ék sal die Naam van die Here aanroep; die God wat met vuur antwoord, en U sal my God wees. Amen.

Sunday, 22 June 2025

Oomblik van stilte: Matt. 12:21

En op sy Naam sal die heidene hoop.

Psalm 22:2+7+9+17b+19
Wie is Jesus?
Hy is die Lam van God, geslag en sy bloed het jou gereinig en geheilig.
Jesaja sê 'n Seun is vir ons gebore ...
Sy naam is Immánuel Jes. 7:15
Jes. 9:5 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem; Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors (ook vers 6).

O Here. die koninkryk behoort aan U en die nasies sal U dien want U heers oor hulle (Ps. 22:29). Hef op julle hoofde, o poorte , ja verhef julle, ewige deure,  dat die Erekoning kan ingaan!(Ps. 24:7). Wie is tog die Erekoning? Die Here sterk en geweldig,  die Here geweldig in stryd. Op u Naam sal ek hoop. Amen.

Sunday, 15 June 2025

Oomblik van stilte: Ex. 12:13

Maar die bloed sal vir julle 'n teken wees aan die huise waarin julle is: As Ek die bloed sien, sal Ek verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie.

Wat 'n treffende voorspelling van wat Jesus, die lam van God, vir ons kom doen het.
Jesus verduidelik aan sy dissipels hoe sy bloed ons in die nuwe testament sal vergewe van sondes (Matt. 26:28)
Wanneer God, (wat Heilig is en geen sonde voor Hom kan stand hou nie) kom om die mens ter dood te veroordeel, sal net die bloed van Jesus ons kan red, en God sal verbygaan en sy genade sal ons deel en redding wees.
Jesus se bloed het ons kom red en gereinig; sy geregtigheid het ons wat sonde gedoen het versoen met die Vader en sy woede van ons afgewend. 

Dankie Here, u genade red my van die dood en maak my vry. Die bloed (aan my huis) is vir my die teken. Geen verderflike plaag (die ewige dood) sal my tref nie. Jesus, u bloed reing en heilig my; U versoen my met die Vader. Ek verdien nie u genade en geregtigheid nie, maar u liefde het my gered. Amen.

Sunday, 8 June 2025

Oomblik van stilte: Sag. 12:10a

Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, 

Wie is die persoon wat hier praat? Die een wie se hande en voete deurboor is, wie se sy gesteek is met 'n spies, die een wat deur mense gewond is en wie se bloed ons gereinig het. 
En as iemand vir hom sê: Watter wonde is daardie tussen jou hande? dan sal hy antwoord: so is ek geslaan in die huis van my vriende (Sag. 13:6).
Dis vir jou wat God sy genade en smekinge gegee het; om jou te red en vir ewig as gereinigde in die koninkryk van die Vader in te bring.

Dankie my Vader,  U het my kom red met u seun. U is die drie-enige God, Hy wie se Gees van genade en smekinge in my is. Ek erken U as die Seun van God, op wie die Gees soos 'n duif gekom het, en die Vader gespreek het, dit is my Seun ...  Al drie persone van God saam. U het vir my kom sterf en is geslaan om vir my genesing te bring. Amen.

Sunday, 1 June 2025

Oomblik van stilte: Ps. 13:6

Maar ek, op u goedertierenheid vertrou ek; my hart sal juig oor u heil. Ek wil sing tot eer van Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.

Die vraag was al baie keer gevra: Het jy al ooit aan al die goeie dinge gedink wat God vir jou gedoen het? Onthou jy al die goeie dinge wat God vir jou, jou kinders en familie en vriende gedoen het? Onthou jy hoe goed God vir jou was by jou werk en besigheid en hoe Hy jou geseën het met sy voorsiening?
Miskien is dit nou die tyd om Hom te dank, eerstens vir sy bloed wat jou genees, gereinig en geheilig het.
Sê vir God dankie vir jou daaglikse brood en ander aardse rykdomme waarmee Hy jou seën. 
Sê ook dankie vir jou genesing in jou siel en liggaam. 

Here, ek prys U vir u goedheid en barmhartigheid oor my. Op mense kan ek nie vertrou nie selfs nie op prinse nie. Oor U juig my hart en sal ek van U goedertierenheid vertel. U het aan my goed gedoen en ek sal u Naam besing en lof bring. Amen.

Sunday, 25 May 2025

Oomblik van stilte: Ps. 100

Juig voor die Here. o ganse aarde! 

Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak, en ons is syne, die volk en die skape van sy weide. 
Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam.
Want die HERE is goed; sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag.

O Here, U alleen is die ware Allerhoogste God. Ek wil u Naam verheerlik en groot maak, ooral waar ek gaan. Almagtige God, U is die God, van al die Gode en HERE, van al die here. U alleen is Heilig en U is Koning, vir ewig. U bly altyd getrou en sal my nooit verlaat of alleen los nie. U genade wys U in u goedheid en barmhartigheid, elke dag aan my. U wysheid en geregtigheid lei my elke dag. U plaas my op 'n ewige Rots en u krag laat my voete nooit wankel nie. Amen.