Showing posts with label Romeine. Show all posts
Showing posts with label Romeine. Show all posts

Sunday, 23 August 2026

Oomblik van stilte: Romeine 6:11

So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.


Jy was dood in sonde, maar Christus het jou vrygemaak tot eer en verheerliking van die Vader.
Christus het vir die sonde eens en vir altyd gesterwe, maar nou kan jy die lewe wat jy leef, leef vir God. (vergelyk vers10)
Jy is nou onder die genade en nie meer onder die wet nie. (vers 14)
En, vrygemaak van die sonde, het jy diensbaar geword aan die geregtigheid. (vers 18)

Dankie, liefdevolle Vader, U het lankal geweet dat ek dit nooit sou maak nie, dat ek net te diep in die sonde is. My oue mens is saam gekruisig, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak word en ek nie meer die sonde dien nie, (vers 6). Want as ek met U saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan u dood, sal ek dit tog ook wees deur dié aan u opstanding, (vers 5). Ek wat gesterf het, is geregverdig van die sonde, vers 7. Nou glo ek ook, dat ek saam met U sal lewe. Amen.

{Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 26 July 2026

Oomblik van stilte: Rom. 9:25 & 26

Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde;
en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie! Daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God.

Moenie vrees dat jy in Suid-Afrika nie 'n kind van God is nie. Ons weet almal dat daar kinders van die Allerhoogste God is, wat God dien en nie sal terugstaan vir hulle God nie; wat weet dat hulle deur hulle geloof in Christus die Seun van God gered is en nie uit hulle werke nie.
God wil jou vandag gerusstel dat jy sy kind is; dat jy genade ontvang het en deur Christus se bloed gereinig en geheilig is.
In al die etniese groepe van Suid-Afrika, is daar opregtes van God Almagtig, wat deur die krag van God, geregtigheid ontvang het op grond van hulle geloof en nie deur werke nie.

Dankie, Here, vir U gerusstellende woord, wat my vrygemaak het van die straf vir my sonde. U krag en genade het my vrygemaak van sonde en U beskerm my van die bose. U is my daaglikse brood. U bloed reinig my. Ek is nou maar eenmaal die geseënde van die Here. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 5 April 2026

Oomblik van stilte: Romeine 8:32

Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?

Die Bybel sê: 'As God werklikwaar nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal aan die dood oorgegee het, is daar tog geen manier waarop Hy nie ook alle ander goeie dinge aan ons sal skenk nie.'

Een skrywer het die volgende vergelyking getref om hierdie teks in beeld uit te druk: Veronderstel 'n man kom op 'n kind af wat deur 'n klomp skurke aangerand word. Hy hardloop tussen hulle in, red die seun en vat hom na die hospitaal toe. Daar vind hy uit dat die kind 'n weeskind is en neem hom as sy eie aan en gee vir hom sy naam. Een nag, maande later, hoor die pa dat die seun in sy kamer huil. Hy gaan na hom toe en vra hoekom hy hartseer is. 'Ek is bekommerd oor die dag van môre, Pappa. Waar sal ek kos kry om te eet en klere om aan te trek? Waar gaan ek slaap?' 
Die pa is met reg ontsteld. 'Verstaan jy dan nie? Ek het my lewe gewaag om jou te red. Ek het die hospitaal vir jou behandeling betaal. Jy dra my naam. Ek noem jou my seun. Hoekom sal ek dit alles doen en dan nie aan jou behoeftes voldoen nie?'

Het God jou gered net sodat jy jouself moet bekommer?
Sal Hy jou leer om te loop, net sodat Hy kan toekyk hoe jy val? 
Sal Hy aan die kruis vir jou sondes sterf en dan jou gebede in die wind slaan? 
Die Skrif sê: 'Want Hy sal al sy engele beveel om jou op al jou weë te beskerm' (Psalm 91:11 NLV). 
Hou dis op om jouself te bekommer en staan vas op sy belofte dat Hy 'ook alle ander goeie dinge aan ons sal skenk...'

Lees gerus deur die loop van die dag die volgende gedeeltes: 
* Jer 10-13; 
* Matt 22:34-46; 
* Ps 64; 
* Spr 14:25-28

Sunday, 1 March 2026

Oomblik van stilte: Rom. 10:9&10

As jy met jou mond die Here Jesus bely en met hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het sal jy gered word;
Want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.

Op. 12:11
En hulle het hom (satan) oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hul getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.

Oefen jou mond om oorwinnig in Christus uit te spreek.
Bely met jou mond dat Jesus die Here is tot jou redding.
Jou geloof in jou hart dat God Jesus uit die dode opgewek het, bring die geregtigheid, en die bloed van die Lam gee jou oorwinning.
Die Satan, die ou slang, word deur jou getuienis oorwin.

Dankie, Here, vir u woord in my en dit sal my mond bely dat U die Christus en my oorwinning is. Ek glo met my hart dat U die Seun van God is en dat God U uit die dode opgewek het. Ek sal getuig van die redding deur die bloed van die Lam. Ek weet in die geloof dat U my geregtigheid is. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 26 October 2025

Oomblik van stilte: Rom. 5:1

Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus;

Die verdrukking waardeur jy soms gaan, werk lydsaamheid, en die lydsaamheid beproefdheid, en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in jou hart uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan jou gegee is. (sien vers 3 en 4)
Weet dit, dat toe jy nog deur die sonde 'n vyand van God was, het God jou versoen deur die dood van sy Seun, veel meer sal jy deur sy lewe gered word, nou dat jy versoen is. (sien vers 10)

Here, ek roem nou in U deur Jesus Christus, deur wie ek nou die versoening gekry het. U het my naam in u hande gegrafeer en my sondes aan die kruishout vasgenael. U genade en die gawe van geregtigheid deur die genade van een mens, Jesus Christus het vir baie en my oorvloedig geword (sien vers 15). Amen. 

Sunday, 21 September 2025

Oomblik van stilte: Rom. 13:12

Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord.

Ja, dit is tyd dat ons uit die slaap wakker word, want die saligheid is nou nader as toe ons gelowig geword het (vers 11).
Die Satan slaap ook nie en probeer steeds met sluwe planne om die kinders van God te verlei. 
Een van die grootste wapens van die Satan is trotsheid; dit kan jou grootste val beteken.
Nog 'n wapen is verdeeldheid. 'n Huis wat in homself verdeeld is, kan nie bly staan nie. Hierdie twee wapens word veral onder kinders van God gebruik in kerke, huwelike, besighede, en tussen lande.
Ef. 6 se wapenuitrusting is baie belangrik; ons kan net staande bly deur Christus in ons lewens.

Here, ek sit baie keer aan die slaap en besef nie hoe die Satan, soos 'n brullende leeu my ook wil verskeur nie. Here, ek beklee my met die Here Jesus Christus, om geen voorsorg te maak vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie (vers 14). Laat ek welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie (vers 13). Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 24 August 2025

Oomblik van stilte: Rom. 15:13

En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!

Moenie toelaat dat jou blydskap en vrede gesteel word hetsy deur omstandighede en of mense nie.

Laat die geskenk van die Vader, die Heilige Gees, julle vul en oorvloedig laat vrug dra in die bevryding in Christus Jesus. 
Wees oorvloedig in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!

Here, dankie vir die Skrifte en lering van tevore, sodat ek deur lydsaamheid  en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê. Help ons mekaar nie te veroordeel nie, maar in eensgesindheid mekaar aan te neem ooreenstemmig die wil van Christus  Jesus, net soos wat U ons ook aangeneem het. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 20 April 2025

Oomblik van stilte: Rom. 5:7-8

Want nouliks sal iemand vir 'n regverdige sterwe ... vir 'n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe ...
maar God bewys sy groot liefde tot ons daarin dat Christus  vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

God het jou sondige lewe gereinig deur sy bloed.
Hy het nie gewag totdat jy regverdig was nie, want dan sou God niks gedoen het of kon doen nie.
Juis dit bewys hoe belangrik en geliefd jy vir God is. 

Here, ek gee U al die ere. U is my Verlosser  en Voorsiener.  U barmhartigheid en goedheid ken geen perke nie. U het my kom haal uit my sonde en skoongewas en gereing vir u koninkryk en tot U eer. In genade word ek wakker en staan ek vanoggend op en leef ek. U het vir my sonde geword sodat ek in hemelse plekke saam met U kan sit. Amen.

Wednesday, 24 July 2024

Die tydglas loop uit ...

Goeiedag Almal

Ek bring geensins nuwe nuus as ek sou beweer dat elkeen van ons op hierdie liewe aarde aan die worstel was-is-sal wees ...

Ons geboorte het gepaardgegaan met 'n worsteling! Vra jou Ma!

En dan was ons grootword en oudword ook ook gevul met Lief en leed!

Hier in die Hexvallei het ek oor meer as 10 jaar geleer dat Tafeldruiwe-boerdery nie vir sissies is nie! Swaarkry, swaar werk, swaartrek, skades en seëninge almal in 'n ry soos 'n lekker Karoo-lam-sosatie!

Lees gerus Ps. 73 en 37 saam met Liedboek 200:1,2,3 asook Rom. 2:4 net om 'n paar te noem.

Seënwense
Brahm

Ek is van oortuiging dat die Here met my en met ons in hierdie tyd praat oor die tyd wat God aan ons gee om te 'Ora et Labora' (Bid en Werk) want die 'tydglas' loop uit!

Sunday, 21 July 2024

Oomblik van stilte: Rom. 8:34

Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.


Christus tree daagliks vir jou by die Vader in, Hy bid vir jou. Christus wil vir jou deur sy genade, net die beste gee, Hy het nie verniet die dood oorwin nie. Hy wil vir jou oorwinning gee oor elke oomblik in jou lewe. Hou net aan, jou oorwinning kom op 'n tyd wat God goed dink om aan jou te gee.

Dankie Here, dat U in my plek vir my gesterf het. Dankie dat U my, saam met U opwek, sodat ek kan wees waar U is. Dankie dat ek kan deel in u oorwinning en rykdom. U sit aan die regterhand van God om my vry te spreek in die uur van oordeel. Ek wil U bedank en loof vir u goedheid en barmhartigheid, in Jesus Naam. Amen.

Friday, 8 May 2020

Heimweë-verlange ...

Heimwee-verlange is nie ‘n ‘kop-ding’ nie. DIt is veel meer as net die blote verstaan en verduideliking van hierdie begrippe.

Heimwee-verlange is ‘n ‘hart-ding’. Dit raak die emosie-gevoel van my ‘binneste’ mens.

Heimwee-verlange ‘tree in werking’ net na jy ‘n geliefde gegroet en dan is daar ‘n ‘leegte’. ‘n ‘Oop kol’. ‘n Plekkie wat ‘gevul’ was maar nou ‘leeg’ is.

Tydens hierdie  COVID-19-pandemie is hierdie ‘heimwee-verlange’-ding op die lang duur gevaarliker as die virus self!

Die mens is ‘n verhoudingswese omdat God ‘n Verhoudingsgod is.  Sielkundiges praat daarvan die mens ‘n ‘kudde-wese’ is.

Ons ‘behoort’ aan mekaar. Ons kan nie sonder ander mense regtig sinvol bestaan en voortbestaan nie!

Die COVID-19-pandemie is besig om die hele mensdom te beroof van HIERDIE lewensbelangrike ‘Life Line’ in die bestaan en voortbestaan van ons almal.

Rom 14:7  Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie. 
Rom 14:8  Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.

Die mens wat nie ‘smag’ na God se nabyheid, intieme gemeenskap met Hom nie, is so ‘n mens eintlik nie werklik in ‘n ‘huweliksverhouding’ met Hom nie?

Gaan lees "Druppels van hoop - Ps. 42" Klik HIER

Monday, 24 April 2017