Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord.
Ja, dit is tyd dat ons uit die slaap wakker word, want die saligheid is nou nader as toe ons gelowig geword het (vers 11).
Die Satan slaap ook nie en probeer steeds met sluwe planne om die kinders van God te verlei.
Een van die grootste wapens van die Satan is trotsheid; dit kan jou grootste val beteken.
Nog 'n wapen is verdeeldheid. 'n Huis wat in homself verdeeld is, kan nie bly staan nie. Hierdie twee wapens word veral onder kinders van God gebruik in kerke, huwelike, besighede, en tussen lande.
Ef. 6 se wapenuitrusting is baie belangrik; ons kan net staande bly deur Christus in ons lewens.
Here, ek sit baie keer aan die slaap en besef nie hoe die Satan, soos 'n brullende leeu my ook wil verskeur nie. Here, ek beklee my met die Here Jesus Christus, om geen voorsorg te maak vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie (vers 14). Laat ek welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie (vers 13). Amen.
[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]
No comments:
Post a Comment