Thursday, 25 September 2025

Ouma se wenke: Allerlei

* Vul met  vrugte: 'n Koek wat in die middel gesak het, kan nog gered word deur die middel netjies uit te sny en die holte met ingelegde vrugte-jellie te vul.

* Foelie vir verf: Maak 'n verftaak makliker en skoner deur jou verfpan vooraf met aluminiumfoelie te bedek. Gebruik die swaardienstipe as jy dit het. Voer die verfpan daarmee uit deur dit teen die bodem en kante vas te druk. Sorg dat die foelie oor die rand gaan. As jy klaar geverf het, gooi die oortollige verf af en stroop die foelie af - jou pan is silwerskoon.

* Knip in 'n kits: Gebruik 'n kombuisskêr eerder as 'n mes om 'n pizza te sny - dis baie makliker.

* Red 'n gekraakte eier: 'n Gekraakte eier kan steeds gekook word as jy dit vooraf in aluminiumfoelie toedraai en 'n minuut langer kook.

* Watersakwenk: As jy langs die langpad met 'n oorverhitte enjin sit en jy het geen houer om water mee te gaan haal nie. Onthou dat jy water in 'n plastiese inkopiesak kan dra. Selfs 'n hol wieldop sal ook die doel dien. Onthou net om nooit die verkoeler se prop af te skroef of water in die stelsel te gooi voordat die enjin behoorlik afgekoel het nie.

No comments:

Post a Comment