Wednesday, 10 September 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Lewe een dag op ‘n slag

God het Sy hand op die rat
en Sy oog op die verste draai in die pad.
Daar is twee dae in elke week 
waaroor ons ons nie behoort te bekommer nie. 
Die een is gister, met al sy foute en kwellings, 
sy versuim en kwale, sy flaters en seerkry. 
Gister is verewig verby. 
Dit is buite ons beheer. 
Al die geld in die wêreld kan gister 
nie na ons terugbring nie. 
Ons kan niks wat ons gister gedoen het, 
ongedaan maak nie. 
Ons kan nie ‘n enkele woord wat ons gister kwytgeraak het, 
nou weer terugtrek nie. 
Gister is verby. 
Vir ewig verby.
Die ander dag waaroor ons ons nie hoef te bekommer nie, 
is môre met al sy moontlikhede, 
al sy laste en groot belofte 
en swak prestasies. 
Môre is buite ons onmiddellike beheer. 
Môre sal die son stralend 
of agter ‘n bank wolke opkom. 
Bekommer jou nie oor môre nie, 
want môre bring sy eie bekommernis of vreugde. 
Dan bly daar nog ‘n dag oor - 
Vandag ... 
Dis wanneer ons die laste en seer van gister afgooi, 
en die vrese en bekommernis van môre afgooi, 
na God uitreik en sê: " Here, hier is ek, sondaarmens. Heel my,"
dan het ons genoeg krag vir vandag. 
Dan sien ons kans om vandag voluit te leef. 
Dis nie die doen en late van vandag 
wat ‘n mens oor die afgrond dryf nie,
dis die bitterheid, onvergewengesindheid, seer
en laste van gister, wat ons alweer oordra na môre.
Lewe een dag op ‘n slag, 
dan lewe jy vandag. 

[Geleen]

No comments:

Post a Comment