Showing posts with label Petrus. Show all posts
Showing posts with label Petrus. Show all posts

Sunday, 6 June 2021

Om op water te loop (3)


Petrus het ontdek dat om te sink nie beteken dat jy al verdrink het nie. Hier volg twee redes vir die stelling. Eerstens, om nie te slaag nie, maak nie van jou 'n mislukking nie, tou opgooi wel. Misluk is deel van die leerproses.

Sir Edmund Hillary het vele mislukte pogings aangewend voordat hy uiteindelik daarin geslaag het om Berg Everest uit te klim. Na een mislukte poging het hy volgens oorlewering aan die voet van die berg sy vuis uitdagend gebal en geskreeu, 'Ek sal jou uiteindelik oorwin! Jy kan nie groter word nie, maar ek groei steeds!' Hy het uit elke mislukte poging geleer totdat hy suksesvol was.

Winston Churchill se mening was: 'Ek het nog nooit met enigiets misluk nie. Ek het eenvoudig nog 'n kans gekry om dit reg te kry.' Dit is 'n oorwinnaarsgees!

Tweedens, die eintlike mislukkings was diegene wat in die skuit agtergebly het. Hulle mislukking is nie raakgesien of gekritiseer nie. Hoewel Petrus openlik gefaal het, het hy ook die euforie om op die water te loop, ervaar. Slegs hy kon weet hoe dit voel om deur God se bemagtiging iets te doen wat jy nooit op jou eie sou regkry nie. As jy een maal op die water geloop het, is jy nooit weer dieselfde nie.

Petrus het die vreugde gesmaak om in 'n wanhoopsoomblik deur Jesus gegryp te word. Petrus het geweet dat Jesus hom sou red, sou hy sink. Hy het 'n oomblik gedeel, 'n verbintenis, 'n vertroue wat die ander nie beskore was nie - hulle het in die skuit gebly! Sink is nie gelyk aan mislukking nie, jou vrees toelaat om jou te kelder, is wel.

Sunday, 30 May 2021

Om op water te loop (2)


Toe Petrus seker was dit is Jesus wat hom roep, het hy die veiligheid van die skuit verlaat en homself aan die krag van God toevertrou. 'Maar toe hy die hoë golwe rondom hom sien, het hy paniekerig geword en begin sink. Hy skree toe vir Jesus: "Here, red my!" (Matteus 14:30).

Fokus tydens jou storms eerder op die Here, en nie die storm nie.

Ons weet almal hoe dit voel om 'die hoë golwe te sien'.

Jy pak 'n nuwe uitdaging - 'n ander betrekking, verhouding, geestelike groeipad - vol moed aan, net om deur storms en terugslae gestuit te word. Jesus het gesê: 'In die wêreld sal julle swaarkry beleef ...' (Johannes 16:33). Wees bedag daarop; dis deel van die geloofsreis. Jy moet ten spyte van jou vrees voortgaan. Groei vereis dat jy nuwe uitdagings aanpak. Jy sal elke keer bang wees, want groei en vrees loop hand aan hand. Elke keer wat jy dit egter waag om uit die skuit te klim, sal jy 'n groter kans hê om dit weer te doen. Elke keer wat jy dit op die water waag sonder om te sink, sal jy besef dat vrees jou nie langer gevange hou nie.

Bowendien, om in die skuit te bly, kan ook nie jou veiligheid verseker nie. Die teenvoeter vir vrees is om elke dag bietjie meer uit die skuit te kom, totdat vrees uiteindelik geen houvas op jou meer het nie.

Bron: Radiokansel (Inhoud aangepas)

Sunday, 23 May 2021

Om op water te loop (1)


Die dissipels was een nag besig om vis te vang toe 'n storm opsteek. Teen drie-uur het hulle 'n figuur op die water na hulle sien aankom. '...Jesus het dadelik...gesê: "Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek." Petrus sê toe..."Here, as dit regtig U is, laat my dan op die water na U toe kom." "Kom dan," het Jesus gesê." Petrus klim toe oor die kant van die skuit en begin op die water na Jesus toe loop.' (verse 27-29). Hierdie verhaal leer ons eerstens dat as die opdrag nie van God kom nie, ons dit nie moet doen nie.

Daar is 'n verhaaltjie van 'n man by die poorte van die hemel. Petrus sê: 'Noem een groot daad van jou.' Die man antwoord, 'Wel, ek het 'n vrou gehelp wat deur 'n groep skobbejakke aangeval is.' Hoogs beïndruk vra Petrus: 'Wanneer het dit gebeur?' Die man antwoord: 'Ongeveer 30 sekondes gelede!' Ten einde op die water te kan loop, moet jy onderskei tussen God se stem en jou eie impulse.

Tweedens, dit leer dat om wonderwerke te belewe, dit nodig is om uit ons gemaksone te beweeg. Verbeel jou jy is Petrus. Die storm woed en jy is bang. Die skuit is veilig en gemaklik. Jy sou ook net daar wou bly. Jy mag egter nie, want God het jou geskape om meer te bereik; Hy roep jou om in vertroue te waag en wonders te laat gebeur. Wat is jou skuit?' Enigiets waarop jy vertrou wanneer die storm woed, enigiets wat jou in jou gemaksone hou. Die vreesaanjaendste, maar mees lonende stap wat jy ooit sal neem, is om uit te klim.

Thursday, 13 August 2020