Showing posts with label Mariet Hobbs. Show all posts
Showing posts with label Mariet Hobbs. Show all posts

Monday, 20 July 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Ek kan vandag jubel

Ons Vader wat in die hemel is, opnuut besef ek vandag hoeveel U vir ons gegee het toe Jesus Christus aan die kruis gesterf het. Om te dink, Hy het met bloed en trane, asook sy sterwe en opstanding vir my verlossing teweeg gebring. Ek jubel vandag in daardie wete en ek dank U daarvoor. 

Gee dat by al die eise van elke dagtaak, ons steeds U handewerk sal raaksien. Elke klein blommetjie, elke klein goggatjie, asook die grootsheid van die maan en sterre, ja, alles is bewyse van U majesteit en heerlikheid. Die stilte van die nag en die vrolike gewoel in die oggend, dit alles spreek van U grootheid.

Met blydskap wil ek weer hierdie dag tegemoetgaan. Ek weet, al is my krag min, al is ek nie opgewasse teen die aanslae nie, wil ek tog met moed en vertroue voortgaan. U het beloof om die ootmoedige genade te skenk en om die eenvoudige te lei, daarom is my hoop en vertroue op U, die Almagtige, gevestig.

Bewaar ons van die versoekings van die wêreld. Reinig ons gemoedere, dan sal ook ons uiterlike handelinge rein wees. Maak ons oog, ons tong, ons hand, ja ons alles, werktuie vir U koninkryk en laat dit tot U geregtigheid en tot U verheerliking strek. Amen.

[Mariet Hobbs]  

Friday, 12 December 2025

Vrydag-flits: Iets om aan te herkou

Vandag

Iewers, agter elkeen ...
lê 'n tyd ... 'n tyd wat
verby is, en al sou jy
terugreik, jy tas mis ...

God's Woord sê ...
reik uit na voor
as jy omdraai, is
Sy Koninkryk jou nie beskoor.

Wat verby is,
kan jy nie terughaal ...
Met daardie waters kan jou meule
nooit weer maal.

Kyk na vandag:
Sien dis 'n stukkie goud
Wat God aan jou gee ...
Wat doen jy daarmee??

Friday, 28 November 2025

Vrydag-flits: Iets om aan te herkou

Die gras verdor, 
die blomme verwelk,
Maar die woord van ons God
Hou stand in ewigheid.

Friday, 21 November 2025

Vrydag-flits: Iets om aan te herkou

Diegene wat hul hoop alleen op
goeie werke en dade vestig,
probeer om met 'n mensgemaakte
leer in die hemel in te klim.