Showing posts with label Lekkergoed. Show all posts
Showing posts with label Lekkergoed. Show all posts

Friday, 13 June 2025

Nostalgie en nog nostalgie

Hoeveel onthou jy?


1) Kopligdip - skakelaars op die vloer van die motor.
2) Ontsteking - skakelaars (choke) op die paneelbord.
3) Broekspypklemme vir fietse sonder kettingskerms.
4) Soldeerboute wat jy op 'n paraffienbrander verhit het.
7) Vrouens het rokke, hoede, sykouse en handskoene kerk toe aangetrek.
6) Gebruik handseine vir motors sonder rigtingwysers.
7) Brood wat 6c en later 10c elk gekos het.
8) Sjokolade (Flakes, Crunchies, ens.) wat 5c elk gekos het.
9) Soet (lekkergoed) sigarette.
10) Kafees met tafels en stoele en met 'n juke-boks. Hulle het die lekkerste Coke en Cream Soda floats verkoop.
11) Aflewering van melk en lemoensap in glasbottels.
12a) Die swart telefoon teen die gangmuur gemonteer.
12b)Elke telefoonoproep is deur die sentrale deurgeskakel. (Onthou jy nog die sentrale se vraag? "Nommer asseblief?" )
12c) Party of deellyntelefone vir plaasbewoners. (Die bure het die gesprekke lekker afgeluister.)
13) Nuusrolprent (SA spieël) voor die fliek. Onthou jy die brullende leeu wanneer die fliek begin wys het?
14) Ertjiepit-blaaspypies (pea shooters)
15a)Grammefoonplate 78+33 rpm met platespelers. (Onthou jy nog vir Virginia Lee, Jim Reeves, Leonore Veenemans)
15b) 45-rpm plate.
16) Hi-Fi's.
17) Metaal ysbakke met hefbome.
18) Blou flitsgloeilampe.
19) Kurkpropgewere (popgun)
20) Wasmasjiene met rollers.
21)TV-toets patrone wat snags na die laaste vertoning aangekom het en daar was, totdat TV-programme weer die volgende dag begin het. Daar was net 2 kanale, as jy gelukkig was.
22) Inkpotjies in jou skoolbank. In graad 1 en 2 is net met potlode in die klas geskryf. St. 2 en 3 het penne met die los penpunte gebruik. Vulpenne is vanaf standerd 3 gebruik. (Balpuntpenne is toe nog nie gebruik nie.)
23) Skoolboeke is oorgetrek met bruin papier en plastiek.
24) Die roomyskarretjies (fietse met die klokkies)
25) Fiets- en hondelisensies!!!

As jy 0-3 onthou het = Jy is nog jonk.
As jy 3-6 onthou het = Jy word ouer.
As jy 7-10 onthou het = Moenie jou ouderdom vertel nie.
As jy 11-14 onthou het = Jy is positief oud!.


Hierdie herinneringe is van die beste tye in my lewe.

Skrywer: Anoniem

[Dankie, Valerie, vir die deel van hierdie lekker onthou!!]

Friday, 9 August 2024

Vrouedag: Watter tipe lekkergoed-mens is jy?


('n Heerlike leesstukkie vir al die vroue op Vrouedag - besluit self watter lekkergoed by jou persoonlikheid pas.)  

Mense vergelyk ander mense soms met diere. Of met vrugte. So kry jy jou “buffels” of “trapsuutjies”. Jou “harde koejawels” of “suur pruime”. Persoonlik voel ek dat die mensdom met lekkergoed vergelyk kan word. Daar is ‘n oneidigheid in kleur, smaak, tekstuur en verpakking.

So kry jy jou malvalekker-mense. Sag van binne en buite. Jou jellie-lekkergoed-mense en paaseier-mense val ook in hierdie kategorie. Hulle is egter die tipe lekker wat jy met ekstra versigtigheid hanteer. Los jy hulle in die Noord-Kaap son, raak hulle hard van buite, maar dalk nog effens sag van binne. Stel jy hulle te lank aan negatiewe elemente bloot, raak hulle binnekante uiteindelik ook hard. Amper oneetbaar.

Dan kry jy jou nikkerbal- en gekookte lekkers-mense. So hard van binne soos van buite. Onwrikbaar. Jy hou van hulle. Of jy hou nie van hulle nie. En visa versa. Hulle verrig die onmoontlike in moeilike tye. Hulle is wie hulle is en maak gewoonlik geen geheim daarvan nie. Mens wonder soms hoe hulle voorbereidingsproses moes wees om so hard aan die ander kant uit te kom.

Ons kry ook die wit-eier-mense. Jy het amper ‘n mes nodig om die buitenste dop te breek, maar dit is waar die hardheid ophou. Binne wag ‘n soet sjokoladelaag wat smelt in jou mond. Die geheim is om nie op te gee op hierdie mense nie. Al lyk dit op die oog af nie so nie, smag hulle daarna dat jy deur die klipharde dop breek en uitvind wat werklik in hulle binneste aangaan. Jy kry ook die teenoorgestelde – die sagte sjokoladelaag buite en ‘n harde neut aan die binnekant. Op die oog af sag, maar jy vind baie vinnig uit dat dit is waar die sagtheid ophou.

Natuurlik is daar jou sjokolade-mense. Mense wie jy opsoek wanneer jy troos nodig het. Dit is gewoonlik iemand na aan jou. Wanneer jy hulle in die Noord-Kaap son los, verloor hulle hulle vorm, maar nie hulle smaak nie. Gee jy hulle ‘n tydjie om af te koel, is hulle weer eetbaar.

Dan is daar die legio ander lekkergoed-mense. Die toffies en die suigstokkies. Die kougom en die sherbet. Die suurwurms en die sout-drop. Soos alles in die lewe moet ons versigtig wees om nie ‘n lekkergoed bloot op sy verpakking te beoordeel nie. Soms is dit die aangenaamste lekker wat uit die onopvallendste verpakking te voorskyn kom. Soms is daar die teleurstelling van ‘n ongelooflike verpakking met ‘n nie so smaaklike lekker daar binne nie.

Volgens my, wat al in vier provinsies gewoon het, is die mense van sentraal Suid-Afrika, maar veral die Noord-Kaap, my gunsteling lekkergoed-mense. Hulle gasvryheid en omgee in swaar tye oortref enige ander provinsie se lekkergoed-mense.

Almal van ons is uniek. Ons verskille maak die lewe interessant en ons vul mekaar aan, al voel dit nie altyd so nie.

Watter tipe lekkergoed-mens is jy?

[Karin Muller: Noordkaap 2014-04-22. Besoek gerus Netwerk24 (Noordkaap Bulletin) se gereelde rubrieke - daar is baie pitkos in hierdie rubrieke.]