Friday 30 September 2022

I am still your Mommy ...

If you no longer listen or care what I say.
I am still your mother ...
If you decide that I am old fashioned
and want to go your own way.
I am still your mommy ...
If you talk back,
complain and argue.
I am still your mommy ...
If you think, you know more than I do.
I am still your mommy ...
When you move away
and take a piece of my heart with you.
I am still your mother ...
And I will still love you just as much as the first day
I held you in my arms.
I am still your mommy ...
And I will pray for you
and make sure your wings are strong enough to soar.
I am still your mommy ...
I will want the best and I will sacrifice my plans for yours.
I am still your mommy ...
I will always have space for you
and a hug to welcome you.
I am still your mommy ...
And until my last breath I will carry your love.
And thank God every day for the privilege
and joy that has been called - Your Mom

Wednesday 28 September 2022

Woensdag-wysheid

Moet jouself nie beskerm deur 'n heining nie maar eerder deur jou vriende
.

Sunday 25 September 2022

WATERDRUPPEL vir die WEEK = ‘n Handvol jare plus nog

Groete en Vrede!!!
 
Verbasing is in hoofletters op die korterige vroutjie se gesig geskryf toe sy die groot opstal se sifagterdeur oopmaak nadat ek geklop het. Oorstaners maak net in jagmaande hier spore en daar word mos nie sommer in die lente op hierdie plaas gejag nie. Sy groet my heel skugter met ‘n papperige handdruk en beduie terselfdertyd dat die plaasmense is al gister se tyd dorp toe is. “Hulle dorpsbakkie het nog nie stof loop opskop huis se kant toe nie” kom dit eerlik en opreg uit haar hart.
 
Tina stap amper te vinnig in ‘n voetpaadjie af wat omring is met helder geel skaapduwweltjies. Ek en die Mooiste Mooi loop maar met lang treë om by te bly. Sy het gevra dat ons maar eerder by haar plekkie gesels want het sy gesê “Ek het gehoor pastoorgoed-hulle is in die omte vir kuier en oorlat julle by my kom oorstaan het, moet ons dan daar by my huis gaan gesels. Daar kan ons rustig sit en woorde uitruil.”
 
Ons oë kry nie genoeg van die blou en dieprooi sonsak wat die westelike verste inkleur, terwyl ons in ‘n oorverdowende stilte aanstap na Tina se huisie toe nie. Tina se drievertrek huisie - netjies toegespan met jakkalsdraad en die erfie is skoon gehark – staan heel alleen op die vlak. Drie klein brakkies verwelkom ons met ‘n skril gekef, maar hulle gaan lê heel gehoorsaam toe sy hulle aanpraat. Opeens breek die Veilige Gees my stille gedagtegang met die laaste gedeelte van die groot gebod "... jy moet jou naaste liefhê soos jouself."
 
“Net hier, op hierdie selfde stoep, het my man mos meer as ‘n handvol jare gelede gedood aan sy hart” vertel sy lateraan terwyl groot trane oor haar wange spoel. Dan vertel sy snik-snik van die kerk wat haar eers stief en lateraan as melaats behandel “Dis nou maklik 'n handvol jare plus nog wat my gemeente my gelos het. Nog niemand het hier kom spore maak, van daai dag af wat hy gedood het nie. Ek sien elke maand as die kerk se bakkie hier verby ry om die kerkboekie se geld te gaan haal, maar hier ... hier stop hulle nie. Ek het al woord gestuur ek wag hulle, maar tevergeefs, hulle kom nie. Pastoorgoed en mevrou is nou die eerste gelowige mensegoed wat hier kom oorstaan na Sakkie se dood." Ellie bly 'n rukkie stil, haal 'n paar keer diep asem en sê dan met oortuiging "Pastoorgoed moet tog nie kommer vat nie, ek staan nog vas by die Here, al is ek afvallig van die kerk.”
 
Die son het saam met haar laaste woorde agter die verste sien weggeraak en skielik is dit donker. Amper so donker soos my gemoed. Sien, in daardie tyd toe Tina se lewe op sy donkerste was, het die kerk nagelaat om Sy lig te wees deur haar onselfsugtig lief te hê, sodat onse God daarmee verheerlik kan word. Net soos Petrus dit beduie het. Diegene wat haar met liefde moes toevou, het van haar en haar bestaan vergeet en daarom kan ek verstaan dat sy verwerp, verjaag en verlate voel.
Sonder om iets te sê, staan die Mooiste Mooi op en gaan sit langs Tina op die matraslose buitebed wat ook op die stoepie staan. Moederlik versigtig word die gebroke Kalahari mensie nader getrek en styf vasgehou. Vasgehou ... sonder woorde net vasgehou. Die Mooiste Mooi het haar skaars teen haar vasgetrek toe Ellie onbeheerd huil. Trane stroom diep uit haar binneste binne, want iemand – ‘n mede-gelowige - verstaan.

"Dankie Here, U het gehoor en U het iemand gestuur" snik sy 'n rukkie later saggies. "Die Kêrelkind van God het julle gestuur ... al vat dit meer as ‘n handvol jare plus nog. Hy het julle gestuur want Hy het gehoor!"
 
1 Pet 4 vers 8 (NLV) = “Die belangrikste van alles is dat julle mekaar onselfsugtig moet liefhê. Sulke liefde maak baie sondes toe.”
 
1 Pet 4 vers 10 (NLV) = “Derdens: God het aan elkeen van julle ‘n genadegawe gegee. Met hierdie gawes moet julle mekaar dien sodat God se ryk genade deur julle na mekaar toe kan vloei.”
 
Sandkorrel baie seëninge

Los jou 👣 as jy wil by:

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549

Saturday 24 September 2022

Saterdaggenotjies: So ietsie om ons dag op te kikker

* Blondine sit vir 4 ure en kyk na haar huweliksertifikaat.
Haar man vra wat sy doen en sy antwoord : "Ek soek na die vervaldatum!!"


* Die Brunet sien haar blonde buurvrou trippel elke vyf minute na haar posbus toe.

"Verwag jy 'n belangrike brief?" vra die Brunet.
"Nee," sê die Blondine, "maar my rekenaar hou aan sê ek het pos."

[Nog genotjies HIER]

Thursday 22 September 2022

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Almal sal weet

Groete en Vrede!!! 

Daantjie sal iets onverstaanbaar binnemonds mompel oor stof en sand terwyl Groot Gert se heupbeen skielik vol pyne sal wees. En as Klein-Apie begin kerm oor sy stywe nek, dan kan jy maar verseker weet ... dit is sulke tyd en jy móét daarmee deel! Dit is voorwaar onvermydelik ... so onvermydelik soos 'n kollekte bordjie tydens 'n erediens of die klank van 'n kerkklok op 'n Sondagoggend. En glo my maar hy kom gou, gouer as wat jy dink ... 'n stofstorm is oppad! 

Die dapperstes onder ons – dit is nou diegene wat braaf genoeg is om tot bo-op ons groen watertenk se 6 meter hoë platform te klim - sal hom duidelik iewers op die vlak sien. Enige vorm van twyfel wat mag bestaan, sal oombliklik soos 'n doudruppel in die woestyn se warm son verdwyn. Jy sal weet ... jy sal verseker weet. ‘n Propperse Kalahari stofstorm gaan jou tref. Dan sal jou oorlewingsinstinkte outomaties oorneem, want mensegoed is aanmekaar gesit met die wil om te oorleef. 

Wanneer ‘n propperse Kalahari stofstorm jou tref is alles om jou vol stof. Op daardie oomblik voel jou leefswêreld behoorlik vuil en besoedeld. Opeens dink jy anders oor jou omstandighede en skielik lyk die wêreld anders. Die tydelike en die aangeplakte is nie meer belangrik nie, terwyl hoop en verwagting ‘n nuwe betekenis kry. Maar daar is meer - kommer sal vinnig-vinnig in jou hart adres maak omrede stofstorms die potensiaal het om enige struktuur ernstige skade aan te rig.  

Netso is dit ook die geval wanneer die storms van die lewe op ons as mensegoed afpyl. Normaalweg besoedel, bevuil en bemors dit ons leefswêreld want omstandighede lyk anders. Groter en hewiger storms veroorsaak egter dat die mens stelselmatig gestroop word van alles aan en in hom. Dit is nou alles behalwe die rou kern van jou menswees of jou naam. Nie jou noemnaam nie, maar eerder jou naam soos dit omskryf is in jou gesindheid, jou karakter en jou reputasie. En aan daardié naam sal jy geken en onthou word want almal sal weet. 

Dit is wat met Job van ouds gebeur het. Eers word hy gestroop van al sy vee en al sy werknemers word vermoor. Asof dit dan nie genoeg is nie, sterf sy 7 seuns en 3 dogters in 'n fratsongeluk. Boonop raak Job nog baie ernstig siek ook. Arme Job verloor alles - alles wat vir ons as mensegoed waarde, vreugde en soms ook identiteit verskaf. Die man verloor sy bates, sy nageslag, sy gesondheid en terwyl sy vriende (met hul beste intensies en pogings) hom versaak. Hierdie arme mens beleef tragedie op tragedie, skok op skok en terugslag op terugslag. Die rou kern van Job se wese word tot aanskoue van die ganse wêreld ontbloot, by wyse van die een lewenstorm wat op die ander volg. Op daardie stadium van sy lewe, het Job slegs 'n naam ... sy naam gehad. Sy naam soos dit omskryf en vervat is in sy gesindheid, karakter en reputasie. 

Jesus, alhoewel Hy self God was, het Hy nie aan Sy goddelikheid vasgeklou nie. Hy het dit opgegee om aan die mensdom gelyk te word. Die grootste lewenstorm wat Hy as God se Kêrelkind ooit op aarde moes trotseer, was om tot die dood toe gehoorsaam aan die Vader te wees. Nie net het Hy hierdeur die somtotaal van alle mensegoed se sondelas gedra en betaal nie ... Sy Vader het Hom vir ‘n ruk lank verlaat. Jesus was letterlik en figuurlik gestroop van alles. Hy was gestroop van alles behalwe daardie Naam wat God aan hom gegee het. Die Naam soos dit omskryf en vervat is in sy gesindheid, karakter en reputasie. En aan daardie naam, ken en eer en sal die hele wêreld Hom bely. 

Lewenstorms is onvermydelik. Lewenstorms strewe daarna om elke mens van alles te wil stroop. Sodoende word die rou wese van my en jou menswees aan die ganse wêreld ontbloot. Elke mens (net soos Job van ouds) dra die verantwoordelik vir sy of haar naam. Daardie naam wat omskryf word in jou gesindheid, karakter en reputasie. ‘n Naam wat waardeloos en nutteloos sal wees as ons nie daagliks daarna strewe om gehoorsaam aan die Skeppergod te wees nie. Dit doen ons om Hom en ons naaste  onvoorwaardelik met alles en in alle omstandighede lief te hê. 

Fil 2 vers 10 (Afr 2020) = “Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en aan Hom die Naam geskenk wat bo elke naam is,” 

Sandkorrel baie seëninge. 

Los jou 👣 as jy wil by: 

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549

[Dankie, Valerie, dat jy altyd hierdie waterdruppels met ons deel.]

Wednesday 21 September 2022

Woensdag-wysheid

'As u 'n keuse maak, verander u die toekoms.' - Deepak Chopra
 

Tuesday 20 September 2022

Dinsdag-denke: Lewenslesse langs die lewenspad

1) Soms wanneer 'n mens hoop verloor dink jy dit is die einde, GOD glimlag dan in Sy genade en sê, "Kalmeer, my kind, dis slegs 'n draai in die pad en nie die einde van die pad nie!"

2) Wanneer GOD jou probleme oplos, het jy geloof in sy bekwame vermoë; wanneer GOD nie jou probleme oplos nie het HY vertroue in jou bekwaamheid.

3) 'n Blinde vra op 'n dag vir ‘n man, "Is daar iets erger as om jou sig te verloor?" Die man antwoord, "Ja, om jou visie in die lewe te verloor."

4) Wanneer jy vir ander bid, luister GOD na jou en seën hulle! Soms wanneer jy veilig en gelukkig is, onthou dat iemand anders vir jou gebid het.

5) Bekommernisse neem nie die moeilikhede van môre weg nie; dit neem die vrede van vandag weg.

[Geleen]

Friday 16 September 2022

Saterdaggenotjies: So ietsie om ons dag op te kikker

Die Ma ry met die twee kleintjies (3 en 5) in die kar. 
Die kinders is onhebbelik en sy raas en raas, maar hulle wil nie luister nie, wat nog van stilsit. 
Sy vererg haarself en trek van die pad af, wiks die twee goed, sit hulle terug in die kar en sê: Nou wil ek nie weer 'n woord hoor nie.
Na so paar minute sê die seuntjie: "Mamma ek wil iets sê"
Sy sê: "Net vinnig, want jy is veronderstel om stil te bly" 
Sê hy: "Ek wil net vir Mamma sê, Jesus gaan hiervan hoor!"

[Nog genotjies HIER]

Wednesday 14 September 2022

Woensdag-wysheid

"Die lewe kan net agteruit verstaan ​​word, maar dit moet vooruit geleef word." - Soren Kierkegaard
 

Monday 12 September 2022

Vandag se internetgebed vir jou

Vader God, Skepper en Onderhouer,
ek verstaan nie die misterie van
u heilige en liefdevolle teenwoordigheid nie.
Maar ek weet uit ondervinding: Dit is ’n plek van vreugde.
Jesus Christus, Verlosser en Vriend,
rig my hart om in stilte by U te wil wees
en in u teenwoordigheid te rus.
Maak my bewus van u heerlikheid,
o Koning van die konings en Heer van alle heersers.
Heilige Gees, Gids en Leermeester,
dankie dat u konstante teenwoordigheid my hart verlig
en my wys om op u pad te loop.
Drie-enige God,
help my om dag na dag weer te kies om U te volg.
Mag u teenwoordigheid my so deurstraal met lig,
dat ander mense U in my sal raaksien.
En dat hulle nader getrek sal word na U –
U, Here, in wie se teenwoordigheid
die enigste ware vreugde te vind is. 
Rowland Croucher 

[Uit: Die groot gebedeboek, Piet Naudé, 2014]

Sunday 11 September 2022

Saturday 10 September 2022

Saterdaggenotjies: So ietsie om ons dag op te kikker

Vyf Duitsers in 'n Audi Quattro kom by die Italiaanse grens aan. 
Die Italiaanse grenswag stop hulle en sê aan hulle dat dit onwettig is om 5 mense in 'n Quattro te laai. 
'Wat bedoel jy dat dit onwettig is?', vra die Duitse bestuurder. 
'Quattro beteken vier', antwoord die Italiaanse grenswag. 
Die Duitser is kwaad en verbaas en sê: 'Dit is net die naam van die kar. Jy kan op sy papiere kyk - dit is ontwerp om vyf mense te vervoer!' 
'Nee,' sê die Italianer, 'moenie my met daardie een probeer flous nie. Quattro beteken vier, jy het vyf mense in die kar, dus oortree jy die wet.
' Die Duitser vra toe dat die grenswag sy bevelvoerder moet roep, sodat hy eerder met 'n senior persoon kan praat. 
'Jammer,' antwoord die grenswag, 'hy kan nie nou kom nie, hy is besig met die twee ouens in die Fiat Uno.'

[Nog genotjies HIER]

Wednesday 7 September 2022

Woensdag-wysheid

"Daar is geen heilige sonder 'n verlede nie, geen sondaar sonder 'n toekoms nie." - Augustinus van Seekoei
 

Tuesday 6 September 2022

Dinsdag-denke: NOODTELEFOONNOMMERS

Wanneer jy vertroosting soek, 
Bel --- Joh. 14

Wanneer mense jou in die steek laat, 
Bel --- Psalm 27

Indien jy oorvloediglik vrug wil dra, 
Bel --- Joh. 15

Wanneer jy gesondig het, 
Bel --- Psalm 51

Wanneer jy bekommerd is, 
Bel --- Mat 6: 19 – 34

Wanneer jy in gevaar is, 
Bel --- Psalm 91

Wanner dit voel of God ver van jou is, 
Bel --- Psalm 139

Wanneer ons geloofs oë bietjie blind is,
Bel --- Heb. 11

Wanneer jy alleen en beangs is, 
Bel --- Psalm 23

Wanneer jy verbitterd en sinies is, 
Bel --- 1 Kor. 13

Vir Paulus se geheim om gelukkig te wees, 
Bel --- Kol 3: 12 – 17

Om ware geloof te verstaan,
Bel --- 2 Kor. 5: 15 – 19

Wanneer jy voel dat almal teen jou is,
Bel --- Rom 8: 31

Wanneer jy rus en vrede soek,
Bel --- Mat 11: 25 – 30

Wanneer dit voel of die wêreld in beheer is,
Bel --- Psalm 90

Wanneer jy voel dat die vlees oor jou heers,
Bel --- Rom 8: 1 – 30

Wanneer jy die huis verlaat om te gaan werk of te reis,
Bel --- Psalm 121

Wanneer jy voel dat jou gebede beperk en selfsugtig is,
Bel --- Psalm 67

Vir ’n gulde geleentheid,
Bel --- Jes. 55

Wanneer jy bemoediging soek vir ’n taak,
Bel --- Josh 1

Hoe om met jou medemens klaar te kom,
Bel --- Rom 12

Wanneer jy dink aan beleggings en opbrengs,
Bel --- Mark 10

Wanneer jy depressief is,
Bel --- Psalm 27

Wanneer dit lyk of alles net reg loop vir die goddelose,
Bel --- Psalm 37

Wanneer mense onvriendelik is,
Bel --- Joh. 15

Wanneer jy vind dat die wêreld klein word en jy groot,
Bel --- Psalm 19

Saturday 3 September 2022

Saterdaggenotjies: So ietsie om ons dag op te kikker

Mike was net besig om aan die slaap te raak toe sy vrou hom wakker skud en sê die telefoon lui. 
As die telefoon so laat lui, sê sy, is dit sekerlik vir hom en nie vir haar nie en sy maak haar oë toe. 
Mike strompel uit die bed uit. Toe hy weer terugkom, is sy vrou al aan die slaap, maar sy word wakker. 'Dit was toe nie vir my nie', sê Mike. 
Sy vrou rol uit die bed uit en is al halfpad deur toe, toe Mike byvoeg: 'Dit was die verkeerde nommer ...'

[Nog genotjies HIER]