Thursday 22 September 2022

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Almal sal weet

Groete en Vrede!!! 

Daantjie sal iets onverstaanbaar binnemonds mompel oor stof en sand terwyl Groot Gert se heupbeen skielik vol pyne sal wees. En as Klein-Apie begin kerm oor sy stywe nek, dan kan jy maar verseker weet ... dit is sulke tyd en jy móét daarmee deel! Dit is voorwaar onvermydelik ... so onvermydelik soos 'n kollekte bordjie tydens 'n erediens of die klank van 'n kerkklok op 'n Sondagoggend. En glo my maar hy kom gou, gouer as wat jy dink ... 'n stofstorm is oppad! 

Die dapperstes onder ons – dit is nou diegene wat braaf genoeg is om tot bo-op ons groen watertenk se 6 meter hoë platform te klim - sal hom duidelik iewers op die vlak sien. Enige vorm van twyfel wat mag bestaan, sal oombliklik soos 'n doudruppel in die woestyn se warm son verdwyn. Jy sal weet ... jy sal verseker weet. ‘n Propperse Kalahari stofstorm gaan jou tref. Dan sal jou oorlewingsinstinkte outomaties oorneem, want mensegoed is aanmekaar gesit met die wil om te oorleef. 

Wanneer ‘n propperse Kalahari stofstorm jou tref is alles om jou vol stof. Op daardie oomblik voel jou leefswêreld behoorlik vuil en besoedeld. Opeens dink jy anders oor jou omstandighede en skielik lyk die wêreld anders. Die tydelike en die aangeplakte is nie meer belangrik nie, terwyl hoop en verwagting ‘n nuwe betekenis kry. Maar daar is meer - kommer sal vinnig-vinnig in jou hart adres maak omrede stofstorms die potensiaal het om enige struktuur ernstige skade aan te rig.  

Netso is dit ook die geval wanneer die storms van die lewe op ons as mensegoed afpyl. Normaalweg besoedel, bevuil en bemors dit ons leefswêreld want omstandighede lyk anders. Groter en hewiger storms veroorsaak egter dat die mens stelselmatig gestroop word van alles aan en in hom. Dit is nou alles behalwe die rou kern van jou menswees of jou naam. Nie jou noemnaam nie, maar eerder jou naam soos dit omskryf is in jou gesindheid, jou karakter en jou reputasie. En aan daardié naam sal jy geken en onthou word want almal sal weet. 

Dit is wat met Job van ouds gebeur het. Eers word hy gestroop van al sy vee en al sy werknemers word vermoor. Asof dit dan nie genoeg is nie, sterf sy 7 seuns en 3 dogters in 'n fratsongeluk. Boonop raak Job nog baie ernstig siek ook. Arme Job verloor alles - alles wat vir ons as mensegoed waarde, vreugde en soms ook identiteit verskaf. Die man verloor sy bates, sy nageslag, sy gesondheid en terwyl sy vriende (met hul beste intensies en pogings) hom versaak. Hierdie arme mens beleef tragedie op tragedie, skok op skok en terugslag op terugslag. Die rou kern van Job se wese word tot aanskoue van die ganse wêreld ontbloot, by wyse van die een lewenstorm wat op die ander volg. Op daardie stadium van sy lewe, het Job slegs 'n naam ... sy naam gehad. Sy naam soos dit omskryf en vervat is in sy gesindheid, karakter en reputasie. 

Jesus, alhoewel Hy self God was, het Hy nie aan Sy goddelikheid vasgeklou nie. Hy het dit opgegee om aan die mensdom gelyk te word. Die grootste lewenstorm wat Hy as God se Kêrelkind ooit op aarde moes trotseer, was om tot die dood toe gehoorsaam aan die Vader te wees. Nie net het Hy hierdeur die somtotaal van alle mensegoed se sondelas gedra en betaal nie ... Sy Vader het Hom vir ‘n ruk lank verlaat. Jesus was letterlik en figuurlik gestroop van alles. Hy was gestroop van alles behalwe daardie Naam wat God aan hom gegee het. Die Naam soos dit omskryf en vervat is in sy gesindheid, karakter en reputasie. En aan daardie naam, ken en eer en sal die hele wêreld Hom bely. 

Lewenstorms is onvermydelik. Lewenstorms strewe daarna om elke mens van alles te wil stroop. Sodoende word die rou wese van my en jou menswees aan die ganse wêreld ontbloot. Elke mens (net soos Job van ouds) dra die verantwoordelik vir sy of haar naam. Daardie naam wat omskryf word in jou gesindheid, karakter en reputasie. ‘n Naam wat waardeloos en nutteloos sal wees as ons nie daagliks daarna strewe om gehoorsaam aan die Skeppergod te wees nie. Dit doen ons om Hom en ons naaste  onvoorwaardelik met alles en in alle omstandighede lief te hê. 

Fil 2 vers 10 (Afr 2020) = “Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en aan Hom die Naam geskenk wat bo elke naam is,” 

Sandkorrel baie seëninge. 

Los jou 👣 as jy wil by: 

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549

[Dankie, Valerie, dat jy altyd hierdie waterdruppels met ons deel.]

No comments:

Post a Comment