Verbasing is in hoofletters op die korterige vroutjie se gesig geskryf toe sy die groot opstal se sifagterdeur oopmaak nadat ek geklop het. Oorstaners maak net in jagmaande hier spore en daar word mos nie sommer in die lente op hierdie plaas gejag nie. Sy groet my heel skugter met ‘n papperige handdruk en beduie terselfdertyd dat die plaasmense is al gister se tyd dorp toe is. “Hulle dorpsbakkie het nog nie stof loop opskop huis se kant toe nie” kom dit eerlik en opreg uit haar hart.
Tina stap amper te vinnig in ‘n voetpaadjie af wat omring is met helder geel skaapduwweltjies. Ek en die Mooiste Mooi loop maar met lang treë om by te bly. Sy het gevra dat ons maar eerder by haar plekkie gesels want het sy gesê “Ek het gehoor pastoorgoed-hulle is in die omte vir kuier en oorlat julle by my kom oorstaan het, moet ons dan daar by my huis gaan gesels. Daar kan ons rustig sit en woorde uitruil.”
Ons oë kry nie genoeg van die blou en dieprooi sonsak wat die westelike verste inkleur, terwyl ons in ‘n oorverdowende stilte aanstap na Tina se huisie toe nie. Tina se drievertrek huisie - netjies toegespan met jakkalsdraad en die erfie is skoon gehark – staan heel alleen op die vlak. Drie klein brakkies verwelkom ons met ‘n skril gekef, maar hulle gaan lê heel gehoorsaam toe sy hulle aanpraat. Opeens breek die Veilige Gees my stille gedagtegang met die laaste gedeelte van die groot gebod "... jy moet jou naaste liefhê soos jouself."
“Net hier, op hierdie selfde stoep, het my man mos meer as ‘n handvol jare gelede gedood aan sy hart” vertel sy lateraan terwyl groot trane oor haar wange spoel. Dan vertel sy snik-snik van die kerk wat haar eers stief en lateraan as melaats behandel “Dis nou maklik 'n handvol jare plus nog wat my gemeente my gelos het. Nog niemand het hier kom spore maak, van daai dag af wat hy gedood het nie. Ek sien elke maand as die kerk se bakkie hier verby ry om die kerkboekie se geld te gaan haal, maar hier ... hier stop hulle nie. Ek het al woord gestuur ek wag hulle, maar tevergeefs, hulle kom nie. Pastoorgoed en mevrou is nou die eerste gelowige mensegoed wat hier kom oorstaan na Sakkie se dood." Ellie bly 'n rukkie stil, haal 'n paar keer diep asem en sê dan met oortuiging "Pastoorgoed moet tog nie kommer vat nie, ek staan nog vas by die Here, al is ek afvallig van die kerk.”
Die son het saam met haar laaste woorde agter die verste sien weggeraak en skielik is dit donker. Amper so donker soos my gemoed. Sien, in daardie tyd toe Tina se lewe op sy donkerste was, het die kerk nagelaat om Sy lig te wees deur haar onselfsugtig lief te hê, sodat onse God daarmee verheerlik kan word. Net soos Petrus dit beduie het. Diegene wat haar met liefde moes toevou, het van haar en haar bestaan vergeet en daarom kan ek verstaan dat sy verwerp, verjaag en verlate voel.
Sonder om iets te sê, staan die Mooiste Mooi op en gaan sit langs Tina op die matraslose buitebed wat ook op die stoepie staan. Moederlik versigtig word die gebroke Kalahari mensie nader getrek en styf vasgehou. Vasgehou ... sonder woorde net vasgehou. Die Mooiste Mooi het haar skaars teen haar vasgetrek toe Ellie onbeheerd huil. Trane stroom diep uit haar binneste binne, want iemand – ‘n mede-gelowige - verstaan.
"Dankie Here, U het gehoor en U het iemand gestuur" snik sy 'n rukkie later saggies. "Die Kêrelkind van God het julle gestuur ... al vat dit meer as ‘n handvol jare plus nog. Hy het julle gestuur want Hy het gehoor!"
1 Pet 4 vers 8 (NLV) = “Die belangrikste van alles is dat julle mekaar onselfsugtig moet liefhê. Sulke liefde maak baie sondes toe.”
1 Pet 4 vers 10 (NLV) = “Derdens: God het aan elkeen van julle ‘n genadegawe gegee. Met hierdie gawes moet julle mekaar dien sodat God se ryk genade deur julle na mekaar toe kan vloei.”
Sandkorrel baie seëninge
Los jou 👣 as jy wil by:
Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549
No comments:
Post a Comment