Showing posts with label Resep. Show all posts
Showing posts with label Resep. Show all posts

Saturday, 9 November 2024

Resep: Mieliemeel-maalvleiskasserol

'n Maklike, eenvoudige en goedkoop resep, maar baie lekker.
Bestanddele
1 koppie mieliemeel
2 koppies water
1 tl sout
1 ui, grof gekap
Halwe groen soetrissie (in blokkies gesny)
15 ml olie
500 g maalvleis
knippie braaivleisspeserye
sout en peper
60 ml tamatiesous
1 tamatie in skywe gesny  
2 eiers
Halwe koppie melk

Metode
Voorverhit oond tot 180 grade C
Smeer 'n oondvaste bak.
Meng die mieliemeel, water en sout in 'n kastrol en kook tot gaar.
Roer gereeld.
Sorteer die ui en soetrissie in die olie tot sag.
Voeg maalvleis by en braai tot gaar - maar nie bruin nie.
Geur met braaivleisspesery en sout en peper.
Voeg die tamatiesous by en meng.
Meng hierdie mengsel met die mieliepap en skep in die voorbereide bak.
Plaas tamatieskywe bo-op en geur liggies met sout en peper.
Klits die eiers en melk saam en giet bo-oor.
Bak sowat 30 minute of tot die eiermengsel gestol het.
Genoeg vir 4-6 mense

Wenk
Bedien met groen slaai of heerlike mengelslaai.

[Hierdie resep is een van die inwoners se staatmakerresep]

Saturday, 2 November 2024

Resep: Mieliemeelvetkoek

Bestanddele
2 koppies krummelpap
1,5 koppie melk (kan suur- of karringmelk ook gebruik)
2 eiers
sout na smaak
2,75 tl bakpoeier
1.5 koppie koekmeel

Metode
  • Klits eiers, melk en sout saam.
  • Voeg pap by - meng goed.
  • Sif meel en bakpoeier by - meng goed.
  • Bak in warm olie soos gewone vetkoek.  
Een van die inwoners het 'n klompie mieliemeelresepte met Ons Huis gedeel wat die volgende paar Saterdae  geplaas gaan word.

Saturday, 26 October 2024

Resep: Mieliemeelmuffins

Bestanddele
2 koppies mieliemeel
2 koppies koekmeel
5 ml sout
35 ml bakpoeier
3 groot eiers
500 ml melk
1 blikkie sweetcorn
1 blikkie heelpitmielies
250 g botter of magarien, gesmelt

Metode
  • Voorverhit die oond tot 180 grade C.
  • Klits eiers en melk saam.
  • Voeg die mielies en botter by en meng goed.
  • Voeg die mieliemengsel by die droë bestanddele en meng liggies.
  • Skep die beslag in groot muffinpannetjies.
  • Bak vir 30-35 minute of tot goudbruin en gaar.
  • Laat vir 10 minute in die pan afkoel.
  • Haal 12 heerlike groot muffins uit.
  • Geniet!!
Een van die inwoners het 'n klompie mieliemeelresepte met Ons Huis gedeel wat die volgende 4 Saterdae  geplaas gaan word.

Saturday, 19 October 2024

Resep: Mieliebrood op die braaivleisvuur

Bestanddele 
500 ml koekmeel
15 ml bakpoeier
2 ml sout
125 ml suiker (opsioneel)
1 blikkie geroomde mielies (sweetcorn)
3 eiers

Metode
  • Meng al die droë bestanddele saam.
  • Klits eiers goed.
  • Voeg nou die geroomde mielies en geklitste eiers by droë bestanddele - meng goed.
  • Smeer ’n klein ysterpot rojaal met botter.
  • Sit die deeg in en bak oor matige kole tot gaar.
  • Baktyd: 45-55 minute.
Wenk:
Sit’n paar kole op die deksel sodat die bokant ook mooi kan verbruin.
Geniet broodjie met heerlike druiwekonfyt of waatlemoenstrukke 

Een van die inwoners het 'n klompie mieliemeelresepte met Ons Huis gedeel wat die volgende paar Saterdae geplaas gaan word.

Saturday, 12 October 2024

Resep: Mieliemeelbrood

Bestanddele
1,5 koppie melk
2 koppies mieliemeel
1 tl sout
4 eetlepels botter of margarien
3 eiers, goed geklits
2 tl bakpoeier

Metode
  • Verhit 1 koppie melk.
  • Meng die res van die melk met die mieliemeel.
  • Voeg aangemaakte meel, sout en botter by warm melk - meng goed.
  • Laat afkoel.
  • Voeg geklitste eiers en bakpoeier by.
  • Sit mengsel in klein gesmeerde broodpannetjie.
  • Bak vir 30-40 minute teen 180 grade C.
[Een van die inwoners het 'n klompie mieliemeelresepte met Ons Huis gedeel wat die volgende paar Saterdae geplaas gaan word.]

Thursday, 4 April 2024

Resep: Paasbolletjies


Paasfees is om die draai en heerlike tuisgebakte paasbolletjies sal net die ding doen. 

Bestanddele
450 g witbroodmeel
5 ml all spice (gemengde speserye)
2 ml sout
120 g gemengde droë vrugte (rosyne, sultanas, korente en sitrusskil)
50 g (60 ml) suiker
7 g droë gis
55 ml gesmelte botter/margarien
215 ml louwarm melk
1 eier, geklop

Versiersel (kruisie)
60 ml witbroodmeel
15 ml suiker
15 ml melk
1 groot eier

Metode
  • Meng alle droë bestanddele, behalwe die droë vrugte.
  • Meng alle nat bestanddele en meng in die meelmengsel in.
  • Knie tot sagte deeg (voeg bietjie melk by as te styf is). Knie goed vir omtrent 10 min. tot lekker elasties.
  • Maak toe en laat rys tot dubbel die grootte.
  • Knie deeg af.
  • Knie vrugte in en maak 12 bolletjies.
  • Pak bolle langs mekaar op bakplaat en laat weer rys.
  • Maak die versiersel aan tot gladde pasta. Skep dit in 'n versiersak of plastieksak waarvan 'n klein hoekie afgesny is. Spuit kruise oor bolletjies.
  • Bak by 350 gr C vir 15-20 min.
  • Verf 'n bietjie suikerwater oor die bolletjies as uit die oond kom.
Variasie
Laat vrugte en all spice uit en voeg sjokoladesplinters by en vanieljegeursel in all spice se plek.

[Uit: Die Pienk Boekie: Nuusbrief nr. 93, Maart 2011 - Jeanetta du Preez]

Klik HIER vir nog resepte.

Saturday, 3 June 2023

Ons Huis se reis van 80 genadejare in sig

Ons Huis is volgende jaar 80 jaar oud. Dit is 'n hoë en geseënde ouderdom soos baie van ons inwoners kan getuig. Die pad tot hier was nie elke dag maklik nie en met talle op- en afdraandes, teleurstellings, hartseer, vreugdes, toe deure, maar gelukkig ook baie oop deure, kan Ons Huis sy naam gestand doen as tuiste vir senior burgers. Met 'n nederige begin oorkant Dutoitspan Kerk, het die ouetehuis spoedig uit sy nate gebars en moes daar na alternatiewe moontlikhede gekyk word.

Gaan lees gerus die agtergrond van die ouetehuis HIER.

Op hierdie punt liewe leser het ons u hulp nodig. Ons is op soek na staaltjies, stories, resepte, grootwordjarestories, foto's en enige iets wat ons kan gebruik om 'n feeskalender saam te stel.

Stuur alle inligting na aldawelman@gmail.com

Ons sien uit na al die stories en inligting.

Friday, 19 May 2023

Resep: Onfeilbare hoenderpastei

Bestanddele
1 kg afgekookte hoendervleis (sowat 4 kg rou hoender)
250 ml dik witsous
150 g gerasperde Cheddarkaas
50 ml mayonnaise
1 klein blikkie sampioene, gedreineer
2 geklitste eiers
Sout en peper na smaak
1 rolletjie klaar blaardeeg, in yskas ontdooi

Metode
Meng alle bestanddele, behalwe deeg en skep in vuurvaste bak. 
Sit deeg bo-oor.
Verf  bietjie ekstra geklitste eier oor.
Bak by 200 gr C vir 25-30 min. of tot lekker bruin bo-op.

Variasie
Jy kan deeg onderin bak ook sit, verf dan net die deeg met geklitste eier om te voorkom dat deeg sag is en nie deurbak nie. Hierdie resep kan vir klein pasteitjies ook gebruik word.

[Uit: Die Pienk Boekie: Nuusbrief nr. 93, Maart 2011  - Jeanetta du Preez]    

Klik HIER vir nog resepte.

Sunday, 14 May 2023

Resep: Freda se pynappeltert

Benodigdhede (Groot tert)
1 blik Idealmelk
1 blik kondensmelk
1 groot blik fyn pynappel
2 pakkies pynappeljellie
2 pakkies Tennisbeskuitjies

Metode
1. Sit die kondensmelk en Idealmelk die dag vantevore in die yskas.
2. Klits Idealmelk styf.
3. Maak jellie aan met 1 koppie kookwater.
4. Laat die jellie koud word en gooi die kondensmelk by die jellie en meng.
5. Gooi pynappelmoes by.
6. Meng alles met styfgeklitste idealmelk.
7. Pak boom van tertbak met beskuitjies. Gooi die helfte van mengsel in. Pak weer beskuitjies, gooi die res van mengsel oor. Krummel beskuitjies bo-oor. Sit in yskas om te stol.

(Dankie, Freda du Plessis vir die heerlike tertresep)

Klik HIER vir nog heerlike resepte.

Saturday, 13 May 2023

Resep: Hoendergereg vir Moedersdag

'n Vinnige resep om vir ma en ouma mee te bederf. 

Bestanddele
1 gaar hoender ontbeen en in stukke gesny
1 groot pak tamatie Simba chips of Big Korn Bites
1 blik geroomde sampioene
4 hardgekookte eiers (met vurk fyngemaak)
1 koppie gaar rys
125 ml mayonaise

Metode
Meng alles goed saam.
Voeg 2 pakkies hoenderroomsoppoeier opgelos in 750 ml water by.
Meng goed deur.
Bak in 'n vuurvaste skottel in matige oond vir 30 minute. 

Klik HIER vir nog resepte.

['n Terugflits aan Alida de Koker, 'n ouma, ma, tannie en vriendin wie se kop altyd vol nuwe en heerlike resepte was.] 

Monday, 11 July 2022

Resep: lemonade

Suurlemoene is volop en baie van hierdie goue vrugte propvol vit. C gaan verlore. Hier is 'n vinnige resep om die dors te les en die vrugte se "lewe" te verleng.

Rasper 4 suurlemoene se skil op die fynkant van die rasper en gooi dit  in ‘n kastrol saam met 4 k suurlemoensap.
¼ t sout
4 k suiker

METODE:
Roer oor matige hitte met houtlepel tot suiker gesmelt is.
Moenie kook nie.
Koel af en gooi in bottels en bêre in yskas.
Gebruik 1 deel stroop met 6 dele yskoue water of sodawater.
Bedien in glase met ysblokkies (in die somer).

[Stuur gerus vir ons nog resepte, veral maklike resepte wat nie baie tyd verg om te maak nie. Klink intussen 'n glasie lemonade op die heerlike vrugte wat so ongesiens hulle kant in ons tuine bring.]

Sunday, 26 April 2020

Sondagmiddagslaai in grendeltyd ...

Ons deel graag die resep met almal wat dalk
nog van die bestanddele in die huis het.

GENIET!!
Gaan maak 'n draai by ons reseptebladsy.

Saturday, 17 August 2019

Saturday, 4 May 2019

Kitty se noedelresep ...

Ek het hierdie resep anoniem gekry, (dalk Kitty self?) en plaas dit soos ek dit gekry het.

1.  gaar noedels/macaroni
2.  groen peper
3.  gerasperde ui
4.  1/2 koppie blatjang
5.  1/2 koppie tamatiesous
6.  1/4 koppie asyn
7.  1/4 koppie kookolie
8.  1/4 teelepel kerriepoeier
9.  4 druppels tobascosous

Meng alles en geniet! 

Thursday, 21 March 2019

Die 8-5-engel van kamer 57 ...

Marie Moses
Daar is mense in die lewe wat ongesiens twee ekstra myle loop omdat hulle hartsmense is en werklik omgee. Een van daardie mense is Marie Moses. 'n Bekende en gerespekteerde vrou in haar gemeenskap wat weet dat die lewe soms soos 'n klipperige grondpad is, maar dat 'n mens met die krag van Bo weer by die teerpad uitkom, 

Ons het so 'n paar vrae vir haar gevra en dit het aanleiding gegee tot 'n heerlike middagkuier.

Vraag: Hoe lank bly jy al in Kimberley?
MM: Ek bly al 23 jaar in Kimberley. Ek het baie lank op Colleville naby Roodepan gebly.

Vraag: Hoeveel kinders het jy?
MM: Ek het vyf kinders gehad. Maar as ouer het ek die moeilike pad moes stap om vier kinders te begrawe. My dogter bly nou by my saam met haar kinders en ek is die trotse ouma van 11 kleinkinders en 6 agterkleinkinders. Hulle is almal baie lief vir my en besoek my gereeld.

Vraag: Wat is jou gunstelingkos?
MM: Ek is baie lief vir pap, vleis, kool en pampoen. Maar ek het 'n goeie hand as dit by vetkoek en roosterkoek kom. (Ons het gevra vir 'n lekker roosterkoekresep wat later geplaas gaan word.)

Vraag: Vertel 'n bietjie meer van jou kinderjare en wat julle gedoen het wat vandag se kinders glad nie sal ken nie.
MM: Ons het die doringboomgom gevat en in water gesit totdat dit sag is en dan het my ma suiker bygegooi en heerlik konfyt daarvan gekook. Om vir vandag se kinders te sê hoe dit gelyk en gesmaak het, kan ek dit met appelkooskonfyt vergelyk. Daar het ook so 'n vaal bossie, plat teenaan die grond gegroei en ons het daardie blare gepluk en tee daarvan getrek. Met 'n klein bietjie melk, was dit heerlik.

Vraag: Dit klink mos asof daar baie rate in daardie geheue gebêre word. Deel 'n bietjie van daardie rate met ons lesers.
MM: Vir verkoue is daar nie beter medisyne as wynruit en wildeals wat saam soos 'n tee getrek word nie. Vat so 'n paar blaartjies, spoel dit goed af, gooi in 'n beker en gooi dan kookwater daarop. Jy kan dit selfs in 'n potjie op die stoof trek.

Kankerbossie, dolosse van
bene en 'n buiteoond
Kankerbossie het ons ook soos tee getrek en dit vir algemene gesondheid gedrink. Dit gee onder andere baie energie. En dan is daar die baie bekende raat vir 'n seer keel. Hierdie lang vygies wat orals op die sypaadjies in Kimberley groei, is eintlik medisyne. Druk die sap uit en drink dit. Dit smaak glad nie sleg nie. 

Vraag: Vertel 'n bietjie van jou kleintyd se onthoukos ... se nie-meer-vandag-se-kos nie.
MM: Ons het 'n grondoond langs die huis gebou. Dan maak ons vuur binne-in. Aan die agterkant van die oond is 'n gaatjie sodat die lug goed kan trek. As die vuur uitgebrand het, krap ons die kole uit en sit die broodpanne in. Die voorkant word met 'n sinkplaat toegemaak, wat ons dan met klei toesmeer om seker te maak dat die brode lekker bak. Soms is die oond nog warm genoeg vir 'n tweede rondte brode.   

'n Ander heerlikheid vir ons kinders was as ons ons eie kos gemaak het. Ons kinders het altyd die pampoenskille gevat as ouma klaar die pampoen geskil het en dan het ons dit in klein blokkies gesny en dit met melk op die vuur sag gekook. Hierdie lekkerny was die begin van ons koskooklesse.

Ek onthou ook hoe ons aartappels net so in die vuur gegooi het - tussen die kole. Dan het ons met 'n stokkie getoets om vas te stel hoe ver van gaar af die aartappel is. As die aartappel die stokkietoets geslaag het, het ons die skille afgetrek en dit met 'n bietjie sout geëet.

Skaapvet met stroop gemeng was heerlik op brood, maar dit moet die sagte skaapvet wees.

Ek sien dat 'n mens deesdae pampoenpitte in pakkies koop en dat dit dan as 'n gesondheidshappie bemark word. Ons het jare terug as klein kinders die pampoenpitte in 'n kastrolletjie geroerbraai totdat dit lekker bruin is. Daarna het ons dit afgedop, want die lekkerte het binne gesit. Ons hou almal van afval. Vandag se kinders trek hulle neuse daarvoor op. Die lekkerste deel van die afval is die sagte vleisie by die kakebeen. So af en toe koop ek nog vir my 'n afval en maak dit baie mooi skoon. 'n Mens kan afval op twee maniere kook - as jy die afval wil proe, kook jy dit net met sout. Anders kan jy kerrie bygooi, baie mense verkies kerrie-afval. Later sit jy aartappeltjies en uie by. Hierdie is koningskos.     

Vraag: En waarmee het julle kinders gespeel?
MM: Die seuns het draadkarre en draadfietse gebou. Ons het met dolosse gespeel. Ons meisiekinders het lappoppe gemaak en dit gestop met klein onbruikbare stukkies lap. Hierdie poppe het ons dan aangetrek met klere wat onsself gemaak het en met 'n pen het ons lewe aan ons poppe se gesigte gegee. Van die geronde wenkbroue tot by die vriendelike mond.

Vraag: Wat het jy die afgelope tyd waargeneem hier in die siekeboeg?
MM: Die personeel hier het baie liefde en baie geduld. Jy kan nie hier werk, as jy nie 'n omgeemens is nie. Hier raak mense soos familie. Maar hier is 'n tekort aan hande. Dis so jammer dat almal te besig is om uit te reik na plekke waar daar werklik nood is.

Friday, 29 June 2018

Lepelvetkoek

Bestanddele

1½ k koekmeelblom
2 t   bakpoeier
¼ t  neut
¼ t  kaneel
½ t  sout
½ k suiker
½ k melk
1e  olie
1 eier
Olie vir diepbraai

Metode

Verhit die olie vir diepbraai. 
Sif al die droë bestanddele saam. 
Klits die melk, olie en eier saam. 
Voeg die droë bestanddele by die melkmengsel en meng deeglik. 
Drup lepels vol van die deegmengsel in die olie. 
Braai lepelvetkoek vir ongeveer 3 tot 5 minute of tot goudbruin. 
Dreineer die lepelvetkoek op papierhanddoek.

Variasie
Gooi kaneelsuiker oor die lepelvetkoekies vir 'n ander smaak.

[Dankie vir hierdie resep wat ons van een van ons getroue lesers gekry het! Ek is seker mense gaan dit geniet.]

Friday, 13 April 2018

Matrone Serfontein se resepteboek!

Kopiereg: André H van Dyk
Dankie vir al die onverwagte reaksie wat ons op die vorige resep gekry het. Ons deel nog 'n resep met die lesers uit die vyftigerjare!!

Hierdie keer is dit vir die lesers met die soettand onder ons. Maak gerus dié eetdingetjie vir die naweek!
Geniet dit!

Matrone Joey Serfontein

Thursday, 29 March 2018

'n Kosbare vonds - matrone Serfontein se klein swart boekie...


Kopiereg: André H van Dyk
Die Serfontein-familie is so gelukkig om van matrone Joey Serfontein se resepteboeke in hulle besit te hê en ons het die voorreg om dit met Ons Huis-lesers te deel!

'n Heerlike resep vir gevulde tamaties uit die vyftigerjare!! Probeer gerus hierdie resep vir aandete en laat weet vir ons hoe dit smaak!

Bon appetit!!