Thursday 21 March 2019

Die 8-5-engel van kamer 57 ...

Marie Moses
Daar is mense in die lewe wat ongesiens twee ekstra myle loop omdat hulle hartsmense is en werklik omgee. Een van daardie mense is Marie Moses. 'n Bekende en gerespekteerde vrou in haar gemeenskap wat weet dat die lewe soms soos 'n klipperige grondpad is, maar dat 'n mens met die krag van Bo weer by die teerpad uitkom, 

Ons het so 'n paar vrae vir haar gevra en dit het aanleiding gegee tot 'n heerlike middagkuier.

Vraag: Hoe lank bly jy al in Kimberley?
MM: Ek bly al 23 jaar in Kimberley. Ek het baie lank op Colleville naby Roodepan gebly.

Vraag: Hoeveel kinders het jy?
MM: Ek het vyf kinders gehad. Maar as ouer het ek die moeilike pad moes stap om vier kinders te begrawe. My dogter bly nou by my saam met haar kinders en ek is die trotse ouma van 11 kleinkinders en 6 agterkleinkinders. Hulle is almal baie lief vir my en besoek my gereeld.

Vraag: Wat is jou gunsteling kos?
MM: Ek is baie lief vir pap, vleis, kool en pampoen. Maar ek het 'n goeie hand as dit by vetkoek en roosterkoek kom. (Ons het gevra vir 'n lekker roosterkoekresep wat later geplaas gaan word.)

Vraag: Vertel 'n bietjie meer van jou kinderjare en wat julle gedoen het wat vandag se kinders glad nie sal ken nie.
MM: Ons het die doringboomgom gevat en in water gesit totdat dit sag is en dan het my ma suiker bygegooi en heerlik konfyt daarvan gekook. Om vir vandag se kinders te sê hoe dit gelyk en gesmaak het, kan ek dit met appelkooskonfyt vergelyk. Daar het ook so 'n vaal bossie, plat teenaan die grond gegroei en ons het daardie blare gepluk en tee daarvan getrek. Met 'n klein bietjie melk, was dit heerlik.

Vraag: Dit klink mos asof daar baie rate in daardie geheue gebêre word. Deel 'n bietjie van daardie rate met ons lesers.
MM: Vir verkoue is daar nie beter medisyne as wynruit en wildeals wat saam soos 'n tee getrek word nie. Vat so 'n paar blaartjies, spoel dit goed af, gooi in 'n beker en gooi dan kookwater daarop. Jy kan dit selfs in 'n potjie op die stoof trek.

Kankerbossie, dolosse van bene en 'n buiteoond
Kankerbossie het ons ook soos tee getrek en dit vir algemene gesondheid gedrink. Dit gee onder andere baie energie. En dan is daar die baie bekende raat vir 'n seer keel. Hierdie lang vygies wat orals op die sypaadjies in Kimberley groei, is eintlik medisyne. Druk die sap uit en drink dit. Dit smaak glad nie sleg nie. 

Vraag: Vertel 'n bietjie van jou kleintyd se onthoukos ... se nie-meer-vandag-se-kos nie.
MM: Ons het 'n grondoond langs die huis gebou. Dan maak ons vuur binne-in. Aan die agterkant van die oond is 'n gaatjie sodat die lug goed kan trek. As die vuur uitgebrand het, krap ons die kole uit en sit die broodpanne in. Die voorkant word met 'n sinkplaat toegemaak, wat ons dan met klei toesmeer om seker te maak dat die brode lekker bak. Soms is die oond nog warm genoeg vir 'n tweede rondte brode.   

'n Ander heerlikheid vir ons kinders was as ons ons eie kos gemaak het. Ons kinders het altyd die pampoenskille gevat as ouma klaar die pampoen geskil het en dan het ons dit in klein blokkies gesny en dit met melk op die vuur sag gekook. Hierdie lekkerny was die begin van ons koskooklesse.

Ek onthou ook hoe ons aartappels net so in die vuur gegooi het - tussen die kole. Dan het ons met 'n stokkie getoets om vas te stel hoe ver van gaar af die aartappel is. As die aartappel die stokkietoets geslaag het, het ons die skille afgetrek en dit met 'n bietjie sout geëet.

Skaapvet met stroop gemeng was heerlik op brood, maar dit moet die sagte skaapvet wees.

Ek sien dat 'n mens deesdae pampoenpitte in pakkies koop en dat dit as 'n gesonde happie bemark word. Ons het jare terug as klein kinders die pampoenpitte in 'n kastrolletjie geroerbraai totdat dit lekker bruin is. Daarna het ons dit afgedop, want die lekkerte het binne gesit. Ons hou almal van afval. Vandag se kinders trek hulle neuse daarvoor op. Die lekkerste deel van die afval is die sagte vleisie by die kakebeen. So af en toe koop ek nog vir my 'n afval en maak dit baie mooi skoon. 'n Mens kan afval op twee maniere kook - as jy die afval wil proe, kook jy dit net met sout. Anders kan jy kerrie bygooi, baie mense verkies kerrie-afval. Later sit jy aartappeltjies en uie by. Hierdie is koningskos.     

Vraag: En waarmee het julle kinders gespeel?
MM: Die seuns het draadkarre en draadfietse gebou. Ons het met dolosse gespeel. Ons meisiekinders het lappoppe gemaak en dit gestop met klein onbruikbare stukkies lap. Hierdie poppe het ons dan aangetrek met klere wat onsself gemaak het en met 'n pen het ons lewe aan ons poppe se gesigte gegee. Van die geronde wenkbroue tot by die vriendelike mond.

Vraag: Wat het jy die afgelope tyd waargeneem hier in die siekeboeg?
MM: Die personeel hier het baie liefde en baie geduld. Jy kan nie hier werk, as jy nie 'n omgeemens is nie. Hier raak mense soos familie. Maar hier is 'n tekort aan hande. Dis so jammer dat almal te besig is om uit te reik na plekke waar daar werklik nood is.

No comments:

Post a Comment