Showing posts with label Geluk. Show all posts
Showing posts with label Geluk. Show all posts

Monday, 11 May 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Gebed om geluk

Dierbare Vader,
My grootste begeerte is om gelukkig te wees.
Op materiële gebied probeer ek alles in my vermoë
om dit te vind, maar steeds ontwyk dit my.
Uit U Woord leer ek dat ware en
standhoudende geluk van binne kom;
uit die diepte van my gees en gemoed.
Help my om Christus as die middelpunt
van my lewe te kies en te lewe
volgens die voorskrifte van U Woord.
Help my om in alle omstandighede dankbaar te wees
en nooit negatief te dink of op te tree nie.
Gee dat ek my naaste sal liefhê soos myself,
hulle nood sal raaksien en altyd gewillig
sal wees om te help.
Leer my om gou te vergewe en stadig om te veroordeel.
Bly altyd by my, want slegs dán
is geluk binne my bereik.
Amen

[Solly Ozrovech]

Wednesday, 3 September 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Onthou die ses geheime van geluk

1. Maak jou hart skoon van haat.
2. Werp al jou bekommernis op Hom, want Hy sorg vir jou.
3. Leef eenvoudig.
4. Gee meer.
5. Verwag minder
6. Geniet elke dag ten volle - in Jesus-liefde.

Gebed: O Here, U is so getrou. Van die dag van my geboorte af, kyk U na my.  Alles wat ek het, het ek van U ontvang, en dit is ontelbaar! Ek sien, hoor, kan dink en redeneer, gesels en lag. En as daar 'n traan is, is U daar om te troos. U is groot en magtig. Here, U is my lewe, U sorg vir my. U het die aarde gemaak en alles daarop en 'n pragtige deel is vir my afgemeet. Dankie Vader, elke dag is vol van U genade; en dit is alles onverdiend. Bly by my, o Heer - nou en altyd. Amen.

Thursday, 19 September 2024

DIE LAASTE SEISOEN VAN DIE LEWE !!!

Die meeste van ons is nou in die laaste kwart van ons lewe en behoort hierdie interessante stukkie raad te lees. Stof tot nadenke.

Jy weet, tyd het 'n manier om vinnig te beweeg en jou onbewustelik te vang. Jare gaan so vinnig verby.
Dit voel soos gister toe ek jonk was en my nuwe lewe aangepak het. Tog, op 'n manier, voel dit soos jare gelede, en ek wonder waarheen al die jare gegaan het.

Ek weet dat ek hulle almal geleef het. Ek het 'n blik op hoe dit destyds was en van al my hoop en drome.

Hier staan ek nou in die laaste kwart van my lewe en dit vang my onverwags!!!

Hoe het ek so vinnig hier uitgegekom?

Waar het die jare heen gegaan en waarheen het my jeug gegaan??

Ek onthou goed wat ek gedink het as ek ouer mense gesien het. Ek het onder andere gedink dat daardie ouer mense jare van my denkpatroon en planne verwyder is en dat ek in die eerste kwartaal van my lewe is en dat hulle in die vierde kwartaal was. Ek kon myself nie in hulle skoene plaas of my ten volle indink hoe ek sou optree as ek so oud is nie.

Tog, hier is dit!! My vriende is afgetree en word grys, hulle beweeg stadiger en ek sien 'n ouer persoon in die spieël na my terugkyk. Sommige vriende is in 'n beter en ander in 'n slegter situasie as ek, maar ek sien die groot verandering. Hulle is nie meer jonk en lewenslustig nie. Maar, soos ek, begin hul ouderdom wys en ons is nou daardie ouer mense wat ons vroeër gesien het en nooit gedink het ons sou word nie.

Nou ervaar ek amper elke dag dat net om te stort 'n ware teiken vir die dag is en om 'n middagslapie te neem, is nie meer 'n bederf nie!! Dit is verpligtend, want as ek dit nie uit vrye wil doen nie, raak ek aan die slaap waar ek sit.

En so, het ek hierdie nuwe seisoen van my lewe binnegegaan, onvoorbereid vir al die pyne en die verlies aan krag en vermoë om dinge te gaan doen wat ek wens ek gedoen het, maar nooit gedoen het nie. Ten minste weet ek dat, al is ek in die laaste kwartaal en ek nie seker is hoe lank dit sal duur nie, dat wanneer dit verby is op hierdie aarde, dit alles verby is. 'n Nuwe avontuur sal dan begin!!

Ja, ek is spyt. Daar is dinge wat ek wens ek nie gedoen nie; dinge wat ek moes gedoen het, maar daar is werklik baië dinge wat ek bly is dat ek dit gedoen het. Dit is alles in 'n leeftyd.

As jy nog nie in die laaste kwartaal is nie, laat ek jou herinner dat dit vinniger sal aanbreek as wat jy dink. Wat jy ook al in jou lewe wil bereik, doen dit sommer nou. Moenie dinge te lank uitstel nie. Die lewe gaan vinnig verby. Doen vandag wat jy kan, want jy kan nooit seker wees of jy alreeds in die laaste kwartaal is of nie.

Jy het geen belofte dat jy al die seisoene van die lewe sal sien nie. So, leef vir vandag en sê al die dinge wat jy wil hê jou geliefdes moet onthou - en hoop dat hulle jou waardeer en liefhet vir al die dinge wat jy vir hulle gedoen het in al die afgelope jare.

'Lewe' is 'n geskenk aan jou ...! Wees gelukkig!!

Onthou, dit is gesondheid wat ware rykdom is en nie goud, silwer of eiendom nie.

Jy mag dalk dink: Om uit te gaan, is goed - maar om terug te keer huis toe, is baie beter !!!

Jy vergeet name - maar dis ook reg so, want sommige mense het alreeds vergeet dat hulle jou ooit geken het!!!

Jy besef, jy gaan nooit regtig goed wees in iets soos gholf nie – maar jy hou van die buitelewe. So doen dit.

Die dinge wat vroeër vir jou belangrik was om te doen, stel jy nie meer belang in nie - maar jy gee regtig nie meer om dat jy nie soveel daarin belangstel nie.

Jy slaap beter op 'n sitkamerstoel met die TV aan as in die bed - jy noem dit 'voorslaap'!!! As jy dit geniet, doen dit.

Jy mis die dae toe alles gewerk het met net 'n aan- en af-skakelaar!!!

Jy het baie klere in jou klerekas, waarvan jy meer as die helfte nooit weer sal dra nie – maar jy hou dit net vir ingeval !!

* Oud is goed. 
* Oud is gemaklik.
* Oud is veilig.
* Ou liedjies.
* Ou flieks.
* en - die beste van alles,
* Vriende van ouds!!!

So, bly gesond, ou Vriend.
Geniet 'n fantastiese dag.
Geniet 'n wonderlike kwartaal, in watter een jy ook al is!!!
Kyk mooi na jouself.

Tuesday, 7 November 2023

Dinsdag-denke: Geniet jou lewe elke oomblik

Eendag lank gelede was daar ’n visserman wat rustig ’n middagslapie onder die boom langs die strand geniet het. Skielik is daar ’n ryk sakeman wat daar verby gaan en hy stap na die visserman en vra aan hom hoekom werk hy nie. Die arm visserman antwoord dat hy genoeg vis vir die dag gevang het om te voorsien in sy gesin se behoeftes.

By die aanhoor van die argument raak die ryk sakeman briesend en vra: “Hoekom vang jy nie meer visse nie in plaas daarvan om hier in die skaduwee te lê en jou tyd te mors?”

Die visserman vra: “Wat sal ek doen as ek meer visse vang?”

Sakeman: “Die ekstra visse wat jy vang, kan jy verkoop en meer geld verdien. Die geld kan jy gebruik om ’n groter boot te koop.”

Visserman: “Wat sal ek dan doen?”

Sakeman: “Jy kan dan in dieper waters gaan visvang, nog meer visse vang en sodoende nog baie meer geld verdien.”

Visserman: “Wat sal ek dan doen?”

Sakeman: “Jy kan meer bote koop en ’n klomp mense in diens neem wat vir jou werk en nog meer geld verdien?”

Visserman: “Wat sal ek dan doen?”

Sakeman: “Jy kan ’n ryk sakeman word soos ek.”

Visserman: “Wat sal ek dan doen?”

Sakeman: “Jy kan dan jou lewe in rus en vrede geniet.”

Visserman: “Wat dink jy is ek besig om nou te doen?”

Jy hoef nie vir môre te wag om gelukkig te wees en jou lewe te geniet nie. Jy hoef inteendeel nie ryker of mooier of slimmer te wees om jou lewe te geniet nie.

’n Vername man het eens gesê: “My rykdom bestaan nie uit die omvang van my besittings nie maar uit die geringheid van my behoeftes.”

Thursday, 1 July 2021

Vandag is 'n pragtige dag ...

‘n Blinde seuntjie sit op die trappie van die groot gebou met sy hoed by sy voete. Hy het ‘n kartonbaniertjie waarop geskryf staan: “Ek is blind, help asseblief.” Daar was slegs ‘n paar muntstukkies in sy hoed.

‘n Man het by die seun verby gestap. Hy het so oomblik stilgestaan en ‘n paar munte uit sy sak gehaal en in die hoed gegooi. Hy neem toe die kartonbaniertjie by die seuntjie en skryf ‘n paar woorde agterop die karton. Hy plaas die baniertjie terug in die seuntjie se hande met die nuwe boodskap wat hy geskryf het, aan die voorkant, sodat die verbygangers dit kan lees.

Kort voor lank begin die seuntjie se hoed sommer vinnig vol raak. Baie meer mense het nou geld vir die seuntjie gegee.

Daardie middag kom die man wat sy kartonbordjie herskryf het, terug om te sien hoe dit nou gaan met die seuntjie. Die seuntjie herken die man se voetstappe en vra aan hom,

“Was jy die man wat vanoggend my banier herskryf het?”

“Wat het jy op my banier geskryf?”

Die man antwoord, “Ek het slegs die waarheid geskryf. Ek het presies gesê wat jy gesê het, maar slegs op ‘n ander manier.”

Wat hy geskryf het, was: “Vandag is ‘n pragtige dag en ek kan dit nie sien nie.”

Dink jy die eerste en die tweede banier het dieselfde gesê?

Natuurlike het beide tekens gesê die seuntjie is blind. Maar die eerste teken het eenvoudig gesê die seun is blind. Die tweede teken het mense vertel dat hulle hulself gelukkig kan ag dat hulle nie blind is nie.

Soms is dit slegs ‘n kwessie van hoe ons na ‘n saak kyk, van albei kante af.

Die mooiste is om iemand te sien glimlag! En nog mooier, is om te weet jy is die rede daarvoor !

Friday, 5 March 2021

Tuesday, 1 September 2020

Veels geluk, ACVV, 116 jaar oud!!

Veels geluk, liewe ACVV: 116 jaar oud op hierdie lentedag! Sien die verjaardagboodskap vanaf me. Ria Abel, voorsitter ACVV-hoofbestuur, hieronder: 

A very happy birthday, dear ACVV: 116 years old today and still a spring in your step!

Wêreldwyd het niemand die jaar 2020 reg voorspel nie. Ja, COVID-19 het ons almal tot stilstand gedwing. Die ACVV-vrywilligers en -personeel het hierdie nuwe uitdagings aanvaar, aangepas by omstandighede en het net die beste vir ons verbruikers inwerking gestel.

Vandag is die ACVV 116 jaar oud, ‘n vereniging wat tot stand gekom het deurdat ‘n handjievol vroue nie langer die nood van vroue en kinders en die ellende van die krygsgevangenes in die kamp op die Groenpuntse meent - die nagevolg van die Anglo-Boereoorlog - kon aanskou nie en daadwerklik wou optree om die nood te verlig.

Op 1 September 1904 het een van die grootste, mees betekenisvolle saamreise van vroue in ons land begin en is die ACVV gestig.

Van ‘n nederige begin het die ACVV gegroei tot die dinamiese vereniging van vandag met vrywilligers en toegewyde personeel wat ‘n groot verskil in die gemeenskap maak. Vandag is daar 113 takke met diensvertakkinge en lewer ons dienste aan gesinne, kinders en ouer persone.

Ek wil vandag hulde bring aan almal wat ons voorgegaan het, vrywilligers en personeel, mense wat stewige fondamente gelê het waarop ons vandag kan voortbou. Ons salueer u!

‘n Groot dank aan elke vrywilliger betrokke by die ACVV wat elke dag onbaatsugtige dienste lewer en vir wie niks te veel is om op te offer nie.

Sonder ons toegewyde personeel, sou ons nie hierdie groot taak met soveel sukses kon doen nie - ‘n groot dank aan julle.

Natuurlik is vriende en donateurs onontbeerlik vir die ACVV se voortbestaan - baie, baie dankie vir u ondersteuning .

As ACVV-lede en -personeel leef ons ons vereniging se waardes van integriteit, menswaardigheid, deernis, uitnemendheid en verantwoordelikheid elke dag uit.

Ons lewe in onseker tye met baie uitdagings en daarom wil ek vir elke tak en dienstak saam met hulle vrywilligers en personeel, Jabes se gebed bid vir die toekoms:

“Stort u seën oor my (ons) uit,
vergroot my (ons) grondgebied,
neem my (ons) onder U beskerming
en weerhou onheil van my (ons)
sodat geen smart my (ons) tref nie.”
(1 Kronieke 4:10)

Ria Abel
Voorsitter ACVV-hoofbestuur

Thursday, 13 August 2020

Friday, 28 September 2018

Saturday, 18 November 2017

Friday, 24 March 2017