Tuesday 1 September 2020

Veels geluk, ACVV, 116 jaar oud!!

Veels geluk, liewe ACVV: 116 jaar oud op hierdie lentedag! Sien die verjaardagboodskap vanaf me. Ria Abel, voorsitter ACVV-hoofbestuur, hieronder: 

A very happy birthday, dear ACVV: 116 years old today and still a spring in your step!

Wêreldwyd het niemand die jaar 2020 reg voorspel nie. Ja, COVID-19 het ons almal tot stilstand gedwing. Die ACVV-vrywilligers en -personeel het hierdie nuwe uitdagings aanvaar, aangepas by omstandighede en het net die beste vir ons verbruikers inwerking gestel.

Vandag is die ACVV 116 jaar oud, ‘n vereniging wat tot stand gekom het deurdat ‘n handjievol vroue nie langer die nood van vroue en kinders en die ellende van die krygsgevangenes in die kamp op die Groenpuntse meent - die nagevolg van die Anglo-Boereoorlog - kon aanskou nie en daadwerklik wou optree om die nood te verlig.

Op 1 September 1904 het een van die grootste, mees betekenisvolle saamreise van vroue in ons land begin en is die ACVV gestig.

Van ‘n nederige begin het die ACVV gegroei tot die dinamiese vereniging van vandag met vrywilligers en toegewyde personeel wat ‘n groot verskil in die gemeenskap maak. Vandag is daar 113 takke met diensvertakkinge en lewer ons dienste aan gesinne, kinders en ouer persone.

Ek wil vandag hulde bring aan almal wat ons voorgegaan het, vrywilligers en personeel, mense wat stewige fondamente gelê het waarop ons vandag kan voortbou. Ons salueer u!

‘n Groot dank aan elke vrywilliger betrokke by die ACVV wat elke dag onbaatsugtige dienste lewer en vir wie niks te veel is om op te offer nie.

Sonder ons toegewyde personeel, sou ons nie hierdie groot taak met soveel sukses kon doen nie - ‘n groot dank aan julle.

Natuurlik is vriende en donateurs onontbeerlik vir die ACVV se voortbestaan - baie, baie dankie vir u ondersteuning .

As ACVV-lede en -personeel leef ons ons vereniging se waardes van integriteit, menswaardigheid, deernis, uitnemendheid en verantwoordelikheid elke dag uit.

Ons lewe in onseker tye met baie uitdagings en daarom wil ek vir elke tak en dienstak saam met hulle vrywilligers en personeel, Jabes se gebed bid vir die toekoms:

“Stort u seën oor my (ons) uit,
vergroot my (ons) grondgebied,
neem my (ons) onder U beskerming
en weerhou onheil van my (ons)
sodat geen smart my (ons) tref nie.”
(1 Kronieke 4:10)

Ria Abel
Voorsitter ACVV-hoofbestuur

No comments:

Post a Comment